Reuseskilderye vir monument begin

Gerrit Pitout skilder binnekort ses reusepanele vir die FAK. (Foto: Verskaf)

ʼn Omvangryke kunsprojek wat berge en bergreekse tydens die Groot Trek uitbeeld het pas in Pretoria begin.

Die projek, wat bestaan uit ses olieverfpanele – elkeen 1,8 m hoog en 2,25 m lank – word geskilder deur Gerrit Pitout en sal by voltooiing oor 13,5 m strek waar dit in die Voortrekkermonument vertoon sal word.

Daar is afgeskop met die Winterberge-tema, ʼn skildery wat nagenoeg vyf weke van Pitout se tyd in beslag geneem het. Die hele projek behoort teen Februarie aanstaande jaar voltooi te wees wanneer die Soutpansberge-doek wat die Schoemansdal-nedersetting uitbeeld vir die publiek oopgestel sal word.

Aangesien ʼn prestige-projek van hierdie aard besondere vereistes het, gebruik Pitout net die beste gehalte mediumtekstuur skildersdoek wat deur Art Spark van Pretoria verskaf word.

“Winterberge” deur Gerrit Pitout. (Foto: Verskaf)

Hierbenewens word ʼn verskeidenheid olieverwe gebruik waaronder Amsterdam, Winsor & Newton Artist en Grumbacher wat wissel van reeks 1 tot 7 – met 7 die sterkste pigment en ook uiters duur. Trouens, 37 ml hiervan kan selfs meer as R3 000 kos.

Dit is fassinerend om Pitout in aksie te sien want hy plaas eers ʼn basis van kleur op die doek waarna hy begin uitskilder met ʼn kwas.

Maroela Media se lesers sal visueel op die hoogte gehou word van Pitout se vordering met die projek. Die foto van die eerste voltooide paneel, die Winterberge, gee ʼn indruk van die omvang van die projek.

Intussen het die eerste borg van een van die panele, die bekende ZZ2-groep van Mooketsi, hul ondersteuning bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Pragtig en ‘n wonderlike idee! Dankie ook aan ZZ2 vir die borgskap, ons koop graag jul produkte.

Niklaas ·

Ons ken Gerrit van sy Barberton dae. So talentvol met kunswerke .Was ook meester fotograaf en beoordelaar by die kameraklub. Sal graag die groot trek werke in die monument wil gaan aanskou as dit klaar is.

Kobus ·

Dís nou ‘n opwindende projek! Sien uit na die visuele reis saam met die skilder – dit lyk baie belowend!

Hexadane ·

Ek ken Art Spark baie goed, die verf doeke is uit die boonste rakke, maar hulle doen nie net verf doeke nie, maar strek ook gedrukte doeke vir publiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.