Riana Nel is ambassadeur vir behoeftige kinders

Riana Nel. (Foto: Verskaf)

Riana Nel. (Foto: Verskaf)

Die honderde behoeftige graadeens landwyd wat twaalf jaar gelede ten volle toegeruste skooltassies van die Solidariteit Helpende Hand (SHH) ontvang het, is volgende jaar matrikulante.

Die gewilde Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Riana Nel, wat as ambassadeur vir die SHH se skooltassieprojek optree, het onlangs sakelui van Gauteng tydens ʼn sakeontbyt by die Leriba Hotel in Centurion toegespreek in ʼn poging om geld vir dié projek wat die eerste keer in 2007 van stapel gestuur is, in te samel.

“Sonder ʼn tassie en skryfbehoeftes in graad een sou matriek dalk nooit vir van dié kinders moontlik gewees het nie,” het Nel gesê.

Nel het bygevoeg dat nagenoeg R1,7 miljoen nodig is om te sorg dat 5 000 behoeftige graadeens in 2019 hand aan hand met hul skoolmaats hul skoolloopbaan kan betree.

“Ek is ʼn skrywer, kunstenaar en digter. Ek doen ook grafiese ontwerp, skets en skilder. My kreatiewe loopbaan en bestaan het by ʼn potlood en kryte begin wat ek bevoorreg genoeg was om van my ouers af te kon ontvang,” het sy gesê.

Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer die volgende in: ʼn boekie met Bybelstories, uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

“Ek is ’n ambassadeur vir die Skooltassieprojek want iets so klein soos ʼn potlood, gepaard met geloof, kan ʼn groot inpak op ʼn lewe hê en ʼn kind se kreatiwiteit aanwakker. Ek is ʼn kunstenaar wat trots is om te sê my kern is Jesus. Hy leef in my en bepaal wat ek doen.

“Hy en daai potlood het dit reggekry dat my boodskap vandag miljoene mense kan bereik en ek glo talle van die kinders wat by dié projek baat vind se boodskap gaan ook eendag miljoene mense bereik en inspireer.”

Hannes Noëth, besturende direkteur van SHH, het tydens dié geleentheid aan sakelui gesê die Skooltassieprojek is een van die liefdadigheidsorganisasie se “malste projekte” wat tans bedryf word.

“Uit ʼn sakeoogpunt maak dit regtig finansieel nie sin om so baie geld op een projek te bestee nie,” het Noëth gesê.

“Die druk is soms groot om die projek te stop en die R1,7 miljoen vir iets anders aan te wend. Mense vra ook hoekom ons nie goedkoper tasse vir die graadeens opmaak nie, maar ons wil seker maak elke kind kry net die beste wat hy of sy verdien, net soos hul maatjies wat meer bevoorreg is. Niemand mag uitstaan nie,” het hy bygevoeg.

Noëth het benadruk alhoewel die druk bestaan om die projek te staak, gaan dit nie gebeur nie. “Ons sal net harder werk om die geld in te samel, want ons weet dit is nodig om armoede te help verlig en bied dit die volgende generasie die geleentheid om vorentoe te gaan – toegerus met ʼn skooltas en gewapen met die woord van God.”

Noëth het tydens die geleentheid Finesse-tydskrif en Carpe Diem Media bedank wat die Bybelstorieboeke borg.

Lede van die publiek wat SHH wil ondersteun in dié projek, kan die woord TASSIE sms na 38969. SMS’e kos R10 elk. Of besoek helpendehand.co.za/skooltassie om ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.