Riebies spog met splinternuwe sentrum

Vivian Botha is die hoof van Laerskool Van Riebeeckpark in Kempton Park. (Foto verskaf)

“Dis veel meer as baksteenmure; dis die hartklop van ’n nuwe generasie wie se DNS met ’n moderne manier van dink verweef is.” – Vivian Botha, skoolhoof.

Ofskoon Covid-19 die hele wêreld – van die sakeomgewing tot die onderwyslandskap – op sy kop gekeer het, het die Laerskool Van Riebeeckpark in Kempton Park dié tyd propvol onsekerheid benut om positiewe en innoverende boustene vir die toekoms te lê. Soos die Riebies-tema vir 2022 lui: “Wees die lig en verander die wêreld!”

“Ons filosofie was nog altyd een van toekomshoop, om die volgende geslag met ’n onwankelbare en waardegedrewe weerbaarheid toe te rus wat hulle in staat sal stel om enige uitdaging die hoof te kan bied. Hoe vroeër ’n mens dié boubesef koester en kapitaal in kinders belê, hoe beter,” vertel Riebies-skoolhoof, Vivian Botha.

Daarom het die bestuur en beheerliggaam van die Laerskool Van Riebeeckpark in die oog van die koronavirusstorm daad by die woord gevoeg deur ’n erf oorkant dié skool aan die Oos-Rand te bekom en ’n splinternuwe sentrum sonder gelyke vir graad RR- en R-leerders te bou. “’n Huis met ’n stewige fondament kan enige storm trotseer. Dié broodnodige belegging in grondslagfaseleer verseker nie net dat ons fondament stewiger as ooit is nie, maar ook dat ons op die voorpunt van vernuwing bly,” sê Botha.

Verskilmakers vanaf graad RR gevorm

Met blitsvinnige tegnologiese vooruitgang én die vorming van volronde volwassenes vir die toekoms in gedagte, vorder bouwerk aan die Riebies se nuwe Hasie Kwassie-sentrum fluks, vertel Botha. Die sentrum sal teen September vanjaar voltooi wees, gereed om die graad RR- en R-leerders in 2023 te kan verwelkom.

“Ons het Hasie Kwassie reeds in 1994 as sake-eenheid met ’n graad R-aanbod op die been gebring. Waar graad R voorheen deel van die departement van maatskaplike ontwikkeling was, is dit nou amptelik deel van die departement van basiese onderwys (DBO) se grondslagfase-kurrikulum. Ons voorsien dat graad RR ook later formeel deel van die DBO se laerskoolplanne sal vorm en het dié graad daarom reeds die afgelope twee jaar by ons aanbod ingesluit,” sê Botha.

‘n Grafiese voorstelling van hoe die sentrum lyk. (Foto verskaf)

“Deur die oprigting van die nuwe sentrum werk ons proaktief om ’n langer pypleiding van leer in te stel. Pleks van die tradisionele vertakking tussen voorskool en laerskool, bou ons ’n ononderbroke langtermynketting wat oor nege jaar van graad RR tot graad 7 strek. Dit verbreed die fokus veel verder as net skoolgereedheid teen graad 1 tot die toerusting van elke leerder om sy of haar hoërskoolloopbaan te betree en eindelik verstandige verskilmakers te word wat ’n volhoubare bydrae tot die voorspoed van die land in die geheel kan lewer.

Waardegedrewe

(Grafika verskaf)

“Die Riebies het ’n besonderse manier van doen wat in ons waardes gegrondves is: dankbaarheid, keuses, eerlikheid, betrokkenheid, respek, skooltrots, eensgesindheid, integriteit en inklusiwiteit vorm die mure van die tuiste wat ons vir leerders skep. Waardes waarop ons, danksy die nuwe sentrum en tesame met ’n gevestigde leer-en-speel-kultuur, vir nege jaar lank kan voortbou. ’n Gesonde vermenging van en naatlose oorgang tussen toevallige en formele leer.”

Suid-Afrikaanse leerders presteer volgens Botha kommerwekkend swak op die gebied van lees met begrip en wiskunde, soos duidelik blyk uit toetse deur Timss (Trends in International Maths and Science Study) en Pirls (Progress in International Reading and Literature Study), asook nuwe navorsing deur Resep, ’n navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid aan die Universiteit Stellenbosch.

“Dit is heeltemal te laat om nasionaal leemtes of uitvalle in graad 3, 6 of selfs graad 9 op te merk. Leesvaardigheid werk leervaardigheid in die hand, terwyl wiskunde ’n onmisbare onderbou van hoërordedenke is. ’n Veranderende wêreld vra buite-die-boks-denkers en op-jou-voete-dink-doeners. Hoe berei ’n mens leerders voor op ’n loopbaan wat moontlik nog nie eens bestaan nie? Jy begin reeds in graad RR! Die kennisekonomie vereis dit en ons is dit aan ons kinders verskuldig,” sê Botha.

Volgens hom is die nuwe Hasie Kwassie-sentrum só ontwerp om ’n balans tussen leer en speel te bewerkstellig. “Ons kinders speel enersyds te min, het amper verleer om te speel, en hulle word boonop aan ’n oormaat inligting blootgestel. Andersyds is tegnologie juis ’n taal wat kinders verstaan. Met die Riebies se nuwe graad RR- en R-sentrum vind ons ’n balans tussen sandput en raakskerm, struktuur en sorgvrye denke. Die klimraam van die toekoms is tou én tegnologie.”

Botha meen besonder toegewyde opvoeders is ’n belangrike bestanddeel in die Riebies se suksesresep. “Ons kinders kom nie van ’n fabriekslyn af waar almal net goedsmoeds in dieselfde boksie verpak kan word nie. Elke kind is uniek, elkeen het unieke omstandighede, behoeftes en drome. Ons taak is om reeds van graad RR af ’n onderbou te bied sodat die kind sy leefwêreld in ’n veilige leeromgewing kan ontdek en vorm. Hetsy die kind in staat is om verrykte leerinhoud baas te raak of ons terapeutiese steundienste benodig – die Riebies skep die ruimte vir elke kind om sy of haar volle potensiaal te verwesenlik.

Gemeenskapskrag

(Grafika verskaf)

“Ons het ’n ongelooflike ouergemeenskap wat deur die getroue betaling van die skoolfonds dit moontlik maak om enorme kapitaalprojekte soos die graad RR- en R-sentrum, werklik enig in sy soort, aan te pak. Laerskool Van Riebeeckpark kon danksy die krag van die gemeenskap ook ’n stuk grond bekom om ons bestaande sportgeriewe noemenswaardig uit te brei. Ons staan in diens van die gemeenskap en die gemeenskap maak ons arms sterk,” vertel hy trots.

Die Riebies is een van die laerskole wat met die grootste studentekorps landwyd spog. “Ons studente verdien nie net ’n salaris terwyl hulle studeer nie, maar kry op die koop toe waardevolle indiensopleiding. Teen die einde van hul studie is hulle in staat om hul plek as volwaardige opvoeders in die klas vol te staan.”

Dit is nie net vir die Riebies belangrik dat elke kind se potensiaal ten volle ontwikkel word nie, die skool is boonop omgewingsvriendelik. “Danksy die installering van sonpanele wek ons tans meer as 80% van die skool se elektrisiteitsbehoefte self op. Benewens die finansiële besparing kan ons onderrigroeping ongestoord voortgaan, selfs in die geval van beurtkrag. Ons boorgate en watertenks verseker weer nie net vars drinkwater nie, maar ook ’n terrein wat ’n lushof is om op trots te wees.

“Ons naskoolsentrum, Riebie Rakkers, ondersteun werkende ouers voorts deur ’n veilige ruimte te skep waar hulle kinders ná skool ’n gesonde maaltyd kan ontvang, terwyl toesighoudende personeel verseker dat huiswerk nie tot vanaand hoef te wag nie,” sê Botha.

“Einstein het tereg gesê dat ’n mens nie dieselfde ding oor en oor kan doen en ’n ander uitkoms verwag nie. Om voorlopers te wees, vra juis ’n vernuwing van denke en vasberade dade. En dis presies wat die Riebies met ons negejaarplan doen!

“Deur jou kind reeds van graad RR af aan ons toe te vertrou, verseker jy die veilige vorming van jou kind se totale menswees oor die volgende nege jaar. Hier word jou haasbekkie ’n held wat nie net sy of haar hoërskoolloopbaan gerat en gereed kan aanpak nie, maar hy of sy kan die toekoms met ’n bewustheid én besef aanpak dat die antwoord nie lê in bakhand wag vir beter dae nie. Inteendeel, ons skep vandag reeds self die beter môre waaroor talle nog droom: net hier, aan die Oos-Rand, by die Riebies,” sê hy.

  • Skryf jou kind vandag nog in! Skakel 011 976 2633, besoek www.riebie.co.za of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.