Rit laat motorfietse brul vir liefdadigheid

Die span wat saam met dr. André Hattingh Pediatric Care Africa se eerste Ride for a Child-rit voltooi het. (Foto: Pediatric Care Africa/Facebook)

Die meeste reisigers se moed sak in hul skoene vir die ure lange rit wat voorlê voordat ʼn mens die bestemming bereik – selfs al is dit vir daardie langverwagte seevakansie aan die einde die jaar.

Kan jy dan net dink hoe dit moet wees om sowat 6 867 km per motorfiets af te lê?

Dít is presies wat dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar gaan doen wanneer hy en ʼn span vrywilligers op 14 Februarie uit Witrivier vertrek. Hy wil met die jongste rit R5,9 miljoen vir kinders se mediese sorg insamel.

“Vanjaar se wegspring gaan nie so groot soos verlede jaar se sʼn wees nie, maar dit beteken nie dat ons minder opgewonde is nie,” sê Hattingh.

Dr. André Hattingh tydens Pediatric Care Africa se eerste Ride for a Child-rit. (Foto: Pediatric Care Africa/Facebook)

Motorfietsryers sal die afstand binne 21 dae aflê en op 6 Maart weer in Witrivier eindig. Die roete bereik die mees noordelike, oostelike, westelike en suidelike dele van Suid-Afrika wat vir motorfietse toeganklik is. Sien die volledige roete op Pediatric Care Africa se webwerf.

Dié liefdadigheidsrit word nie in samewerking met ʼn motorfietsklub aangebied nie. Lede van die publiek is dus enige tyd welkom om in te val en saam te ry.

“Dit is ongelooflik belangrik dat mense deelneem. Hoe meer motorfietse saam ry, hoe meer aandag trek dit,” sê Hattingh. “En as jy nie ʼn motorfiets het nie kom sê dan net hallo of koop ʼn koffie en kom ontmoet ons.”

Die span word vergesel deur ‘n ondersteuningsvoertuig wat water, kos, brandstof en spaarbande vervoer, asook twee gelukbringers Olaf en Betty.

Olaf is hul Engelse verslaggewer wat saamry. Hattingh sê die publiek het gehelp om sy naam te kies en hy kwyt hom goed van sy taak.

Olaf is Pediatric Care Africa se Engelse verslaggewer. (Foto: Pediatric Care Africa/Facebook)

“Hy ry heerlik saam, soms dink ek hy kry meer aandag as ek,” meen Hattingh.

Olaf het glo harte gesteel tydens die eerste rit. Sommige ondersteuners gee selfs meer om oor Olaf wat in die reën moet ry, as oor Hattingh wat boonop in die reën moet bestuur.

Betty het eers later by die span aangesluit en soos wat dit klink is sy heel bekkig.

“Betty is eintlik ʼn ou skinderbek wat vir Olaf lekker ore aansit,” skerts hy. Betty is na Hattingh se skoonma vernoem en dit was ʼn goeie besluit, meen hy.

“Sy is baie gelukkig met haar naamgenoot. En as my skoonma happy is, is ek happy.”

Hatting is die stigter van Pediatric Care Africa, ʼn niewinsgewende organisasie wat hom beywer vir die befondsing van mediese behandeling en operasies vir kinders in nood.

Betty, een van Pediatric Care Africa se gelukbringers, sal ook aan die Ride for a Child-rit deelneem. (Foto: Pediatric Care Africa/Facebook)

Die Ride for a Child-rit het ten doel om geld in te samel vir mediese behandeling vir behoeftige kinders. Dit is deel van die organisasie se #helmyop-veldtog wat hoop om in 2021 vir ten minste 100 operasies en 400 doktersafsprake ter waarde van R 5,9 miljoen te betaal. Dit sluit uitgawes soos hospitaalverblyf, medisyne en ander mediese behandeling soos fisioterapie uit. Dit is deel van ʼn projek wat poog om oor ʼn tydperk van 15 jaar 1 000 operasies vir behoeftes kinders te finansier.

“Daar is vir my niks lekkerder as om ʼn kind in nood te help nie,” sê Hattingh. “Kinders is weerloos en hulle is die toekoms van ons land. Daarom moet ons na hulle omsien.”

Hattingh en sy span nooi maatskappye en individue om die inisiatief te ondersteun deur motorfietsryers te borg vir elke kilometer wat afgelê word. Persone wat per kilometer borg sal die bedrag eers betaal nadat die rit voltooi is. Lede van die publiek het ook die opsie om ʼn eenmalige bedrag aan Pediatric Care Africa te skenk. Borgdokumente is op aanvraag beskikbaar.

Besoek Pediatric Care Africa se webwerf vir meer inligting oor die Ride for a Child-liefdadigheidsrit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.