Ritmes vir 2017

light-bulb-1407610_1280

Ek het te veel keer hierdie jaar vir myself gesê: “Laat ek net hierdie week verby kry, dan….” En die volgende week was dit weer net ʼn vasbyt vir daardie week en dan ʼn kop omlaag hou vir die week daarna totdat jy 52 weke lank net gewerk of net gehardloop het wie weet waarheen. En dan steeds verbaas is oor jou arm, een-dimensionele, verwaarloosde en vervelige lewe!

As ek dus begin dink aan voornemens vir 2017 is ek op soek na volhoubare ritmes en gewoontes waar my eintlike prioriteite so natuurlik soos asemhaling is en nie elke keer vou onder die druk van ʼn besige tyd nie! Doelwitte rig vir my die pad na die wat ek word, maar ritmes bepaal die wie ek word en verklap ook baie keer die wie ek reeds is!

Dallas Willard skryf: “We must aim at becoming the kind of people who have been so transformed by their daily walk with God that good deeds naturally flow from their character. What they do they do naturally, often automatically, simply because of what they are internally. These are people who do not have to invest a lot of reflection in doing good for others. They are absorbed in love of God and of those around them.”

Ons moet mik om die soort mense te wees en te word wat, sonder om te dink, doen wat ons Jesus sien doen bloot omdat ons so lief is vir God!

Byvoorbeeld:

  • Ek is so lief vir God dat ek iemand word wat dié mense wat eenkant is raaksien en dan by hulle gaan sit. Dis my en my gesin se gewoonte om die vreemdeling op te soek. OF
  • Ek is so lief vir God dat ek 24/6 doen wat my hand vind om te doen en elke stukkie van my werk van harte soos vir die Here doen en nie vir mense nie, maar dan ook ʼn sabbatdag rus om God daardeur te verheerlik! OF
  • Ek is so lief vir God dat ek iemand geword het met die ritme om van myself en my goed te gee! Ek en my gesin het die gewoonte om minder en minder te gebruik sodat ons meer en meer kan gee. ʼn Gewoonte wat net eenvoudig makliker sal kom as ons, soos Jesus, die ritme het om tyd te deur te bring met mense wat minder as ons het…

Wie wil jy word en watter ritmes en gewoontes pas daarby? Aanvanklik dalk met intensionele inspanning en later al hoe meer spontaan! As jy elke 21 dae ʼn nuwe ritme kweek kan jy 17 nuwe gewoontes kweek in 2017!  Ek dink egter nie eers soveel is nodig nie…

Die een voorneme waarby ek begin: Ek wil in 2017 nog liewer vir God en sy mense wees en ritmes kweek wat my sal help om aan hierdie liefde vir God en sy mense uiting te gee!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.