Rodoliete eerste keer in SA oseane gevind

Siseko Benya, dr Denham Parker en Luther Adams ontplooi ʼn afstandbeheerder voertuig om die seebodem te ondersoek. (Foto: Verskaf.)

ʼn Span wetenskaplikes, onder wie ʼn groep van die Universiteit van Kaapstad (UK), het vroeër die week ʼn bedding van rodoliete in die pas geproklameerde Amathole-mariene bewaringsgebied aan die ooskus van Suid-Afrika gevind.

Rodoliete is vrylewende, koraalagtige strukture wat kos, skuiling en kweekruimte vir ʼn verskeidenheid van seediere verskaf. Hierdie onderwaterhabitat is die eerste in sy soort wat aan die kus van Suid-Afrika aangetref is.

“Ons het geweet dat ons nuwe ontdekkings sou maak wanneer ons aan die Afrika-ekspedisie aan die kus van die ou Transkei deelneem. Ons het egter geensins verwag om die eerste voorbeeld van rodoliete in Suid-Afrikaanse water op te teken nie,” het Luther Adams, ʼn nagraadse navorser aan die UK se Departement van Biologiese Wetenskappe, gesê.

Adams was ʼn lid van die span, onder wie ook wetenskaplikes by die nasionale departement van omgewing- bosbou en visserye en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi), wat die ontdekking gemaak het.

“Ons het enkele beeldmateriaal van rodoliet-beddings in Suid-Afrika en daar het al selfs ʼn paar individuele rodoliete op die strand van Port Elizabeth uitgespoel. Ons navorsing bied nou egter die eerste geverifieerde bewyse van ʼn rodoliet-bedding aan, want ons het visuele en fisieke bevestiging van hul teenwoordigheid in ʼn betreklike groot gebied,” het Natasha Karenyi, ʼn mariene bioloog, gesê.

Siseko Benya, dr Denham Parker en Luther Adams ontplooi ʼn afstandbeheerder voertuig om die seebodem te ondersoek. (Foto: Verskaf.)

Die rodoliete is 3 km van die kus op ʼn diepte van tussen 30 en 6 m ontdek.

Adams en Karenyi het die inligting, wat tydens die opnames van die seebodem in die streek ingesamel is, noukeurig ontleed. Hulle het gevind dat daar drie groepe koralliese alge in die omgewing is. Die span meen dat daar ʼn sterk moontlikheid is dat die spesies eie aan Suid-Afrika is, maar dit sal eers bevestig kan word sodra die DNS ontleed is.

Volgens die instelling word die ekosisteme van rodoliete dikwels oor die hoof gesien omdat hulle nie so groot en charismaties soos koraalriwwe is nie. Tog speel hulle ʼn belangrike funksie as voedselbron en habitat vir talle belangrike seespesies.

Karenyi glo die ontdekking, binne 3 km van die kus, beklemtoon ook die feit dat Suid-Afrika se mariene ruimte grotendeels nog onverkend lê.

“In die afgelope dekade het ontdekkingsreise aan ons eie kus ons kennis van ons plaaslike mariene ruimte verbeter, maar daar is nog soveel om te doen. Ons weet nie regtig watter soort ekosisteme ons het nie, of hoe dit beïnvloed sal word namate ons die Suid-Afrikaanse seebedryf wil uitbou nie. Dit is wat ons beskermende mariene ruimtes tans so opwindend maak,” het Karenyi gesê.

“In hierdie wonderlike ruimtes kan ons natuurlike, of selfs herstellende oseaanruimtes verken en dit as ʼn basis gebruik om die uitwerking van mense op hierdie seehabitat te meet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.