Rommelkuns vertel stories

cape-mongo-plastic-by-francois-knoetze-production-still-2014-anton-scholtzHy werk met rommel, afval, gemors. Dit is sy medium van kommunikasie, die ontginning van ongemaklike plekke. Kunstenaar en filmmaker Francois Knoetze, wat in 2015 aangewys is as een van Mail & Guardian se Top 200 Young South Africans, wou nog altyd iets maak wat stories vertel. Deur die mitiese rommelkarakters wat hy vir sy Cape Mongo-reeks geskep het, vertel hy stories. Sy installasiewerk is tans deel van ʼn groepuitstalling by Ebony/Curated in Kaapstad. Ons het hom ‘n paar vrae gevra:

Jy werk met gemors. Hoekom?

Gemors is iets wat ons wil wegsteek. Dis iets waarvan ons afstand wil kry en waarvan ons verkieslik wil vergeet. Die probleem is dat, soos die argeologiese lae van menslike bestaan bewys, rommel nooit werklik verdwyn nie. Gemors en rommel, uitskot en afval. Ons vullishope vertel stories en gee leidrade van die spoor van vervaardiging en verbruik. Vir my is afval ʼn medium wat ek gebruik om dele van die geskiedenis en my eie identiteit te verken.

Hoe word ʼn konsep gebore? 

cape-mongo-paper-by-francois-knoetze-production-still-2013-anton-scholtzMy idees is dikwels afhanklik van die materiale wat ek vind. Ek gebruik my werk om vrae te vra en sin te maak van die dele van ons samelewing wat as vanselfsprekend beskou en genormaliseer word. Dit is ons oorgeërfde ideologieë wat volgens my nie onbevraagteken gelaat behoort te word nie. Ek skep kunswerk op ʼn spontane manier en verkies om ruimte te laat vir interaksie en interpretasie.

Vertel vir my die storie van Cape Mongo.

Die Engelse term mongo beteken in die volksmond “objek wat verwerp, weggegooi en toe weer gebruik is”. Cape Mongo vertel die verhaal van ses karakters se reise deur Kaapstad. Elke Mongo-karakter is geskep uit die stad se afval – mitiese “rommelfigure” wat herrys uit die groeiende vullishope van ʼn verbruikerskultuur. In ses kortfilms besoek elk van die kreature hulle verbeelde verlede – die plekke wat saamhang met hulle materiële bestaan en die aard van hulle sosiale verhoudings. Dit is asof hulle terugbeur teen die verbruikersgedronge stroom van die stad. Van blink post-moderne winkelsentrums tot die besige strate van die Bo-Kaap, van die boomryke middelklas-woonbuurte tot verlate skeepsvrag-erwe laat hierdie karakters raakpunte met historiese trajekte herleef. En sodoende word kommentaar gelewer op die verreikende ongelykheid en sosiale vervreemding wat in ʼn stad soos Kaapstad hoogty vier.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My Nissan 1400-bakkie.

(Foto’s: Anton Scholtz)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.