Rooiwangappels, inbelsentrums en afleweringsdienste

Foto ter illustrasie. (Foto: Kindel Media/Pexels)

Deur Marlene Farmer

Dié Donderdagoggend het ek met ʼn aangename verwagting in my binneste opgestaan. Ek kon na ʼn nuwe selfoon opgradeer. Dit was nou wel nie die uitbundige gevoel wat ʼn tiener uitbasuin met die vooruitsig van ʼn nuwe foon nie, maar nietemin. Ek was, ten spyte van my gevorderde ouderdom, tog heimlik opgewonde.

Dear Martha, you are eligible for an upgrade. Please upgrade online or visit your nearest store … of iets in dier voege, het die SMS gelui wat ek ontvang het.

Nuwe selfone en die keuse of jy die transaksie aanlyn wil doen of eerder ʼn verkoopsman in sy oë wil kyk om die transaksie in lewende lywe te bespreek, hang sekerlik van jou persoonlikheid of ouderdom af, of inderdaad ook hoe geletterd jy is in soverre dit die tegnologie aangaan. Vir my is ʼn rekenaar en die gedagte om transaksies aanlyn te doen, nog ʼn ongetemde wildernis. Lize, my geliefde buurvrou en vriendin, het my pittig na dié aankondiging ingelig dat ouer persone dit moeilik vind om die wye web te bemeester omdat hulle nie met ontwikkeling tred gehou het nie. Tred hou, my voet!

Miskien was dit ʼn moedswillige streep in my wat my daardie oggend laat besluit het om die aanlyn roete te volg. Hierdie keuse het my onbewustelik in ʼn doolhof van tegnologie, inbelsentrums en afleweringsdienste laat beland wat amper my geloof in die inherente goedheid van die mens ʼn dwarsklap gegee het. Die pad wat ek in die daaropvolgende paar dae gestap het, was inderdaad klipperig, sandpapier-irriterend en uitdagend. Dit was soos ʼn intense herlewing van die “tanneman” en sy marteling op tandartsafspraakdag.

My aanlyn keuse het my genoop om vir Tobey, my staatmaker skoonseun, te skakel en te versoek om die transaksie namens my te hanteer. Hy, die jonger generasie en die weet-net-hoe seun, het dadelik ingestem. Hoekom sou hy nie? Hy is tog immers daaraan gewoond dat sy skoonmoeder net so min ʼn aanlyn besigheid kan bedryf soos wat sy ʼn pot rys kan kook sonder om dit onherroeplik te laat verbrand. Hy het dadelik aan die werk gespring en voordat ek kon sê “lui-lui telefoontjie lui-lui” was die transaksie afgehandel en sou my foon die volgende dag afgelewer word.

Nou ja, soos wat die duiwel, sy trawante en watter duistere weermag nóg dit wou hê, het my beproewing en ʼn wankeling in my geloof in die mensdom by hierdie aflewering begin.

Aflewerings, sou ek later uitvind, het sy eie dosis kopsere waarvoor geen Disprin sou help nie. Veral wanneer dit met ʼn selfoonmaatskappy gepaard gaan. Natuurlik was dit weer Lize, my ingeligte vriendin, tegnologieraadgewer en vele meer, wat my die dag van die aflewering oor ʼn koppie koffie op datum gebring het van die vele klein jakkalsies wat saam met die afleweringswa ry. Sy het my in haar besonder gekruide woordeskat vertel dat die groot maatskappy by wie ek ʼn selfoonkontrak het, en die afleweringsdiens wat hulle gebruik, ʼn baie negatiewe reputasie het. Dit het my geensins gehelp toe haar pa, Harry, selfvoldaan en met ʼn veel méér gekruide woordeskat ook ʼn munt ekwivalent aan ʼn halfsent tot die gesprek bygevoeg het nie.

Dié twee het my vertel dat hellopeter (wie op deeske aarde is hellopeter?) sê dat die spesifieke afleweringsmaatskappy se diens swak en pateties is. Kliënte wag skynbaar maande vir pakkies en boonop is hul drywers onbeskof en geensins simpatiek nie. Ek het innerlik vererg na my huis teruggestap met dié twee wat my beterweterig agterna gekyk het; vererg omdat hulle my borrel laat bars het.

Ek was besig met my derde koppie koffie van dié spesifieke oggend en het nagedink oor wat die twee doemprofete onder in die straat te sê gehad het. Hoe het dit gebeur dat die mensdom so erg wantrouig teenoor mekaar geword het? Wel, ʼn deel van my antwoord het opgedaag in die gedaante van twee afleweringsjakkalsies: my afleweringsadres moes verander word weens die feit dat my skoonseun nie die pakkie namens my kon ontvang nie, en ek sou my op die genade van inbelsentrums moes verlaat. Wat hierna gebeur het, het my ʼn paar lewenstoetse laat skryf, waarvan ek die meeste gedop het.

Met vertroue het ek my eerste telefoonoproep gemaak terwyl ek heen en weer in my poskaartgrootte tuintjie gestap het. Dit was die begin van my staptog deur die gange van die inbelsentrumdoolhof.

Daar sou daardie oggend twintig ander oproepe volg. Ek het die “voorreg” gehad om Thandeka, Lindiwe, Lorraine, Jaap, Fana, Richard, Relebogile, Katleho en Relifilo telefonies te ontmoet. Hulle was in my geestesoog gesiglose stemme met oorfone. Hulle kon netsowel inwoners van die maan gewees het wat my aanbetref.

Deur die volgende paar ure was ek ʼn dobberende bootjie op ʼn stormsee wat heen en weer deur die branders gegooi is. Van bakboord na stuurboord, van aandpraatjies na môrepraatjies, van bitterbeker tot op die bodem en weer terug, van Jan na Piet na Klaas, van selfoonmaatskappy na afleweringsdiens.

In ʼn stadium het buurvrou Lize met die gewone sigaret in die hand aangebied om ʼn paar oproepe te maak. Ek was baie lus om van haar dienste gebruik te maak, maar ek het ook geweet dat sy ʼn baie sterk woordeskat, wat ore laat tuit, sou gebruik om die arme siel aan die ander kant van die telefoonlyn tot aksie te dwing. My geloof in die goedheid en bekwaamheid van die mens het begin wankel, maar was nog nie op sy knieë nie. Nee dankie, Lize.

Telefoonoproep nommer een en twintig het my in die hande, of sal ek sê ore, van Katleho gelaat. Met haar begrip en geduld sou sy onbewustelik daardie middag weer my geloof in die goedheid van die mensdom ʼn hupstoot gee wat my in die sagtheid van ʼn wollerige Mr Price Home-kombers toegevou het.

Spoedig na my gesprek met Katleho het my foontjie my in kennis gestel dat my nuwe foon Maandag afgelewer sou word.

Daardie Maandag sou ook inderdaad die dag wees wat my geloof in die inherente goedheid van die mensdom bevestig sou word. Weliswaar ook nie sonder nog ʼn klein jakkalsie wat nog ʼn laaste keer aan die wingerd wou kou nie.

Aangetrek, huis skoongemaak en in afwagting het ek daardie Maandagoggend ʼn beker koffie met die laaste lekseltjie melk in my yskas gedrink. Ek het verseg om my huis te verlaat. Te bang dat die afleweringswa voor dooimansdeur te staan sou kom. Maar helaas, ʼn koffielus laat hom nie voorsê nie. Ek sou moes melk koop. Wat daardie middag skuins na drie in die straat op pad na die winkelsentrum gebeur het, sou ek later met ʼn lagbui diep uit my maag in my daaglikse joernaal aanteken.

Die afleweringswa het juis op die oomblik wat ek straatop gery het, straataf gekom. Daar het binne sekondes vele gedagtes deur my kop gegaan en ek het in ʼn oogwink besluit dat ek hierdie wa sou agtervolg totdat hy tot stilstand kom, al sou dit beteken dat ek my motor se petroltenk tot op die droesem leeg sou ry.

Ek het net daar ʼn U-draai gemaak en die wa agterna gesit, nes die agente van die reeks NCIS waarvoor ek so lief is om te kyk. Wat dit was wat die drywer laat besluit het om te stop, sou ek eers later uitvind. Die oomblik toe hy stop en ʼn U-draai maak, het ek ook gestop, my motorruit afgedraai en hierdie woorde harder as normaalweg oor die straat vir hom gesê: “Boetie, vir wie soek jy? Soek jy dalk vir my?” Die jongman se mond het in stomme verbasing oopgehang, maar hy het nietemin op sy lys gekyk, gevra wie ek is en sy kop geknik. “Volg my, boetie!”

Lize het op haar stoep gesit, breed geglimlag en haar hande geklap. Tony, die bestuurder van die afleweringswa, het my uitbundig gegroet en ek kon in sy oë die glimlag sien wat agter die masker weggesteek was. Koebaai, hellopeter, wie jy ook al is. Hallo, Tony.

Later daardie Maandagmiddag het ek by Lize gesit. Niks wat sy kon sê het my geloof in die goedheid van die mens verder laat wankel nie. Ook by inbelsentrums en afleweringsdienste was daar rooiwangappels wat met begrip, geduld en glimlaggende oë die hart van ʼn ou dame, met ʼn nuwe foon in die hand en hoop vir die mensdom, warmer laat klop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fanie ·

Ja kyk, in elke inbel sentrum is daar ‘n engel, net so ook by elke koerier maatskapy. My bank het my Maandag middag laat laat weet my krediet kaart moet vervang word. Ek lig hulle in dat ek die komende naweek Karoo toe vertrek. Nee hulle sal daar aflewer – toe ek beduie die is DIEP Karoo, 140km van enige plek af en 560km ui die Kaap , se die een om die anderkant van die lyn – expedited service – 24 – 48 hours…… wel die 48 hours het in 80 hours verander, kaart het Vrydag na 17:00 hier opgedaag. Drywer vertel toe dat hy nie die GPS glo nie – en dit is waarom hulle die vorige dag nie afgelewer het nie, en vandag klaaglik laat is. Die probleem het ingekom toe hele rits mense my Vrydag deur die dag gebel het om te reel vir aflewering – ek het oproep nommer 3 of was dit 4? in die plaaslike koffie winkel vasgetrap, want dit is toe nommer 3 of 4 wat die kaart Maandag, tussen Williston en Sutherland wil kom aflewer – ja reg. Nommer 3 of 4 wat vertel is dat dit nie haalbaar is nie,.

AmY ·

Ek sal maar eerder na ‘n selfoonwinkel gaan wanneer ek weer moet upgrade. (lol).
Ek het lekker gelees en gelag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.