RSG vier mylpaal met dokkie-reeks

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Pelgrims, troepies, slaweklokke, ʼn veteraanakteur, Distrik Ses en die jare lange bekoring van die draadloos is ʼn paar van die temas wat in RSG se nuwe reeks dokumentêre programme wat op 7 Julie afskop, behandel word.

“Vanjaar se dokumentêre seisoen is veral spesiaal omdat ons 85 jaar van Afrikaanse radio vier, en luisteraars kan uitsien na verskeie spesiale programme wat vervaardig is om hierdie groot mylpaal te herdenk,” sê Louise Jooste, sakebestuurder van RSG.

Die radiostasie se dokumentêre reeks word oor die volgende 13 weke uitgesaai en dit vind in aanloop tot die radiostasie se 85ste verjaarsdag in Oktober plaas.

Suid Afrika – ʼn Oudiotêr, die eerste program van die seisoen, is deur Ettienne Ludick saamgestel. Ludick vertel dat hy in 2011 aan ʼn klanklêer begin bou het wat uitsluitlik uit nuusklankgrepe bestaan om sodoende ʼn klankbeeld van Suid-Afrika sedert 1949 saam te stel.

“Die oudiotêr het ten doel om mense op ʼn emosionele reis deur ons geskiedenis te neem,” sê hy.

Daarna volg Jody Hendricks se program oor die invloed wat verpligte diensplig op jong mans se psige en welstand gehad het, en in Pelgrimstog van Hoop volg Lizelle de Bruin ʼn pelgrimsroete wat op verskeie punte in die Wes-Kaap begin en by die mees suidelike punt en vuurtoring by Kaap Agulhas eindig.

Johan van Lill fokus op die hervestiging van die inwoners van Distrik Ses in ʼn dokumentêre program wat handel oor die wel en weë van die mense wat destyds verplaas is.

In Klippaat – Spoorwegdorp tot spookdorp besoek die omroeper Jacques Arendt die dorpie Klippaat wat eens ʼn florerende dorp met ʼn aktiewe spoorwegstasie was. Tans gaan die dorp onder armoede gebuk.

In Terrance April se program besoek hy Kenia, ʼn land met ʼn ryk geskiedenis, kultuur en toerismebedryf. Op sy reis ondersoek April die plaaslike gemeenskap se menings en denkrigtings.

Martelize Brink verken verskeie slaweklokke in Suid-Afrika in Aan die Klok. Sy vertel van die slaweklokke in die Paarl, Groot Constantia, en Kaapstad, en sy plaas die kollig op ʼn slaweklok wat uit 1775 dateer.

ʼn Argiefversameling wat vyf lopende kilometer rakspasie beslaan en in 1824 ontstaan het, is die tema van nog ’n program deur De Bruin. In ʼn ander program wat Johan Rademan vervaardig, neem hy die luisteraar op ʼn virtuele toer deur Suid-Afrika se grootste botaniese tuin.

In aanloop tot RSG se 85ste verjaarsdag in Oktober sal dokumentêre programme wat die storie van Afrikaanse radio vertel, uitgesaai word. ʼn Profielprogram oor die veteraanakteur Louis van Niekerk (87) word onder leiding van Ina Strydom aangebied en in ʼn dokumentêr met die titel Hoorbeeld tot Potgooi bestudeer Van Lill die ontwikkeling van Afrikaanse radio sedert sy ontstaan in 1937.

Die seisoen word op ʼn hoë noot afgesluit met Haidee Muller-Isaacs se program oor die ontwikkeling van die Afrikaanse musiekbedryf. Muller-Isaacs is bekend vir haar liefde vir musiek en sy neem die luisteraar op reis deur al die ontwikkelingsfases van dié bedryf.

RSG se dokumentêre programme word elke Donderdag om 20:00 van 7 Julie tot 29 September uitgesaai. Die volledige programrooster is op RSG se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.