Ruan Josh se gebedsboksie-projek skep hoop vir leerders

Ruan Josh se gebedsboksies word by skole uitgedeel. Hy wil 100 000 van dié boksies aan leerders regoor die land uitdeel. (Foto: Verskaf)

Die sanger Ruan Josh het die afgelope paar jaar geleer wat dit verg om ná ʼn groot terugslag aan te gaan – en nou wil hy met ander deel wat hy uit dié persoonlike uitdagings in sy lewe geleer het.

Ruan (30), wat in 2019 nuusopskrifte gehaal het toe sy musiekverspreidingsmaatskappy gelikwideer is, het intussen die stukkies van sy lewe opgetel en hou deesdae ook sy lyf bok-en-koolboer.

Hy gee toe dat dit nie ʼn maklike pad was nie, maar vertel dat hy in April vanjaar die geleentheid gekry het om sy storie met leerders te deel – en dit het hom opnuut laat besef hoe die Here hom lei om sy belangrike lewenslesse te gebruik om ander te help.

ʼn Laerskool in Krugersdorp het hom genader om die kinders met musiek en ʼn praatjie te bemoedig en hoewel hy aanvanklik onseker was of hy opgewasse is vir dié taak, het hy halfpad deur sy vertoning gevoel hoe die energie in die saal én in sy hart verander.

“Daar word deesdae van kinders verwag om soveel meer volwasse te wees en op te tree as wat hulle werklik is, en ek kon aanvoel hoe my storie en musiek by die kinders resoneer,” vertel Ruan aan Maroela Media.

“Kinders word geboelie by die skool en dit lei dikwels tot selfmoord. Talle kinders sukkel hiermee en voel hulle wil nie meer lewe nie. Kinders is nie altyd seker hoe of waarheen nie en daarom wou ek vir hulle iets gee wat hulle kon help om die las wat hulle dra, te verlig. Daarom raak ek hierdie spesifieke onderwerp ook aan in my praatjie en dit is ongelooflik hoeveel kinders my stip in die oë kyk wanneer ek daaroor praat.”

Hy vertel dat hy deur een van die vroue in sy kantoor te hore gekom van ʼn boksie wat sy al vir 11 jaar in haar laai bêre.

Ruan Josh tree by skole op om sy storie en musiek met leerders te deel. (Foto: Verskaf)

“Sy het vertel hoe sy al haar gebede en vrese in dié boksie bêre om later weer daarna te kyk en te besef hoe haar lewe verander het, en sy het toe voorgestel dat ons so ʼn tipe gebedsboksie deel maak van ons skoleprojek.”

Volgens Ruan het hy in die motor op pad huis toe gebid en die Here gevra vir leiding en hy het duidelik die syfer “100 000” gehoor. Hy het daar en dan besluit dat hy oor die volgende 24 maande 100 000 gebedsboksies by skole regoor die land sal uitdeel.

“Hierdie is nie iets wat ek uit my eie doen nie. Die projek word deur God georkestreer en ek luister na sy leiding.”

Hy het 250 boksies tydens die eerste skoolbesoek uitgedeel en intussen is nog duisende boksies by skole uitgedeel.

“Dit is gratis vir die kinders. Hulle hoef dit nie te koop nie. Ons wil hê dat hulle ʼn gebedjie moet neerskryf en dit in die boks plaas en oor ʼn paar maande of ʼn jaar van nou moet hulle die boksie kan oopmaak en kyk hoe ver hulle gekom het. Ek is optimisties oor dit wat vir die projek voorlê – die Here is hier besig met iets groot, ons is net sy gesante en sy hande en voete op aarde.

Ruan Josh op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Die boksie is spesiaal ontwerp met teksverse aan die kante. “Dit is vir ons belangrik dat kinders dit van vroeg af moet leer ken. Psalm 91:2, waarop my liedjie ‘Provider’ ook geskoei is, is ook daarop aangebring. Dit is vir my ʼn baie persoonlike teksvers waaraan ek steeds vashou.”

“Provider” is Ruan se enkelsnit wat hy verlede jaar uitgereik het. Die liedjie het dadelik by hom aanklank gevind toe hy dit die eerste keer in 2019 gehoor het.

“Ek het nie die storm wat in my lewe gewoed het begryp nie en ek het tot ʼn groot mate bevraagteken of alles die moeite werd is om voor te veg. Toe het die woorde van hierdie liedjie my hart geruk: “Though my heart it may fail, your love will light the way. You’re my Provider”.

“Dit blyk ʼn klein sin te wees wat normaalweg ongemerk verby sal gaan, maar in daardie oomblik het dit die wêreld vir my beteken. God, my God, is elke tree saam met my. Hy laat die storms toe tot my eie voordeel. Hoewel die storms op geen manier nog verby is nie, het ek het vrede dat Hy in beheer is.”

Om ʼn gebedsboksie vir ʼn skoolkind te koop, stuur ʼn e-pos na [email protected]. Besoek ook Ruan se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.