Rugbymanne begin projek om tekkies en toks in te samel 

Morné Steyn.

Die bekroonde skopafrigter, Vlok Cilliers, is terug op eie bodem. Hy en Morné Steyn het met Solidariteit Helpende Hand kragte saamgesnoer om ʼn verskil in jong mense se lewe te maak.

Die Tekkies & Toks-projek is van stapel gestuur om, met behulp van lede van die publiek, minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerders landwyd met tekkies en toks toe te rus. Met dié noodsaaklike sporttoerusting sal hulle hul sport op gelyke vlak met hul spanmaats kan beoefen.

“Sedert Tekkies & Toks ʼn paar maande gelede ʼn verskil begin maak het, het dié projek tot iets veel groter gegroei. Hieroor is ek baie opgewonde,” sê Cilliers.

Solidariteit Helpende Hand en die Vlokskop-stigting het sedert Maart aflaaipunte oor die hele land aangewys waar mense nuwe of tweedehandse tekkies en toks kan skenk. Tot groot verbasing het skole oor die land by die inisiatief betrokke geraak. Selfs lede van die publiek en ondernemings het die projek begin ondersteun.

Margolé Riekert, projekorganiseerder van Tekkies & Toks, sê die behoefte is baie groter as wat Helpende Hand aanvanklik gedink het.

“Om in hierdie behoefte te voorsien, mense bewus te maak en geld vir behoeftige hoërskoolleerders in te samel, het Helpende Hand in samewerking met Cilliers en Steyn ʼn virtuele pretstap vir 8 Mei vanjaar gereël. Mense word genooi om deel te neem en ʼn verskil in ons jeug se toekoms te maak,” sê Riekert.

Steyn moedig mense aan om hul eie roete met dié virtuele pretstap van 5 km te bepaal en dan op 8 Mei deel te neem.

“Ek sien baie uit na die geleentheid. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel mense hierdie 5 km virtueel saam gaan stap, draf of dans. Dit is ʼn uitstekende inisiatief en dit is lekker om te weet ek kan iets teruggee.

“Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ʼn paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld te draf terwyl so baie mense dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Met hierdie projek wil ons ʼn verskil maak en ons hoop ons kan mense se harte aanraak om ons te help,” sê Steyn.

Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling. Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport kan deelneem nie.

“Sedert die projek afgeskop het, het ek gesien hoe mense se harte oopgaan. Dit wys jou net, wanneer God vir ʼn mens ʼn idee of ʼn droom gee, kan niks of niemand jou keer nie. Guns sal jou vooruitgaan,” sê Cilliers.

Mense wat aan die virtuele pretstap wil deelneem, kan aanlyn by www.tekkiesentoks.co.za inskryf. Inskrywings beloop R25 per persoon. Die skool met die meeste leerders wat deelneem, wen ʼn besoek deur Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.