Russe vereer SA skrywer

Van links na regs: Nico Moolman, Ilya Rogachev en Wessel Oosthuizen. (Foto: Nico Moolman/Facebook)

Nico Moolman, skrywer van The Boer Whore wat grotendeels Francois Smith se debuutroman, Kamphoer, geïnspireer het, is verlede week tydens ʼn jaarlikse kransleggingseremonie in Utrecht, KwaZulu-Natal, deur die Russiese ambassade vereer.

“Dit was ʼn absolute verrassing,” sê Moolman. “Ek het die glad nie verwag nie en is baie dankbaar vir die erkenning.”

Moolman was op dié dag saam met ʼn vriend, Wessel Oosthuizen, ʼn bekende fotograaf, by die kranslegging. Volgens Moolman het hy nie beplan om die hele seremonie by te woon nie. Hy was op pad om te ry toe een van die beamptes hom voorkeer en vra of hy nog ʼn ruk sal bly.

“Ja, daar het heelwat deur my kop gegaan, maar dit laaste gedagte was dat ek vereer sou word.”

Ilya Rogachev, die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, het by die geleentheid ʼn krans op die graf van Leo Pokrofski, ʼn Russiese soldaat wat gedurende die Anglo-Boereoorlog saam met die Boere geveg het, gelê.

Pokrofski het saam twee ander Russiese krygers by die Boeremag aangesluit en is op 25 Desember 1900 in die Utrecht-omgewing tydens ʼn veldslag doodgeskiet. Pokrofski is jare later voor die NG Kerk in Utrech herbegrawe en ʼn spesiale grafsteen is vir hom opgerig.

Moolman was nie deel van die kranslegging nie, maar is tydens die seremonie met ʼn Russiese aandenking beloon vir sy intensiewe navorsing oor die besondere verbintenis tussen die Boere en Russe tydens die Anglo-Boereoorlog.

Hy het al 16 boeke geskryf en het oor die jare talle geskiedkundige aandenkings versamel wat nou by sy huismuseum Buskruit en Laventel in Utrecht bewaar word.

Die Russiese soldaat Leo Pokrofski is jare na sy dood voor die NG Kerk in Utrech herbegrawe en ʼn spesiale grafsteen is vir hom opgerig. (Foto: Wessel Oosthuizen)

Moolman en Oosthuizen is besig om aan ʼn boek te werk wat die vriendskap tussen die Boere en Russe van naderby beskou. Hulle het mekaar ʼn paar jaar gelede by ʼn gedenkdiens in Val, ʼn plattelandse dorp ongeveer 50 km van Standerton in Mpumalanga en waar Oosthuizen grootgeword het, raakgeloop en sedertdien goeie vriende geword.

Oosthuizen het ook ʼn hegte verbintenis met Rusland. Hy het 20 jaar gelede vir ʼn maand in die land deurgebring toe sy dogter Heidi-Marie, ʼn Suid-Afrikaanse gimnas, aan ʼn toernooi deelgeneem het.

ʼn Mens het altyd van die “rooi gevaar” gehoor en skrikkerig na die Russe gekyk, maar ons het gou agtergekom dat dit glad nie waar is nie, vertel Oosthuizen.

“Die Russe is eintlik soos ons Boeremense – vriendelik en innemend. Ek het die land al sowat 18 keer daarna besoek.”

Moolman en Oosthuizen se boek Boere en Russe: Persoonlike vriendskappe sal na verwagting in Mei verskyn en word later vanjaar ook by die Moskouse Staatsuniversiteit bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Baie geluk Nico. Nou sien, die Russe was aan die kant van die Boere en die Jode toe dit mòèt. Ons kry hulle dalk weer nodig… Dankie Rusland!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.