SA barista verower derde plek in wêreldwye kompetisie

Christiaan Jacobs, ʼn 26-jarige Barista van Pretoria, het die derde plek behaal in ʼn internasionale barista-kompetsie in Italië. En dit nog op sy wittebrood ook.

Jacobs en sy vrou, Bernice, is steeds in Italië, waar hy die afgelope week deelgeneem het aan die Lavazza Wêreld-barista uitdaging. Hy en Bernice is twee weke gelede in Pretoria-Oos getroud.

Jacobs het deurgedring na die eindrondte van die kompetisie nadat hy op 1 Desember as die wenner aangewys is van die Suid-Afrikaanse been van die kompetisie, wat gehou is by die hotel 54 on Bath Boutique Hotel in Rosebank.

Oor die pas afgelope kompetisie sê hy: “Ek dink nie daar is ooit iemand wat op daardie verhoog staan wat kan sê hulle was níé senuweeagtig nie. Die aanvanklike kompetisie in Suid-Afrika was vir my ’n ongelooflike leerskool.”

Sy afrigter, Samantha Naidoo, van Ciro in Johannesburg, was saam met hom in Italië.

Suid-Afrika is een van 12 lande, waaronder die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Griekeland, Kazakstan en Romanië wat deurgedring het na die finale rondte. Die wenner was van die VAE.

Christiaan werk as barista by Sorcery Coffee Roasters in Wapadrand in Pretoria.

Deelnemers het dieselfde bone gekry om te gebruik, maar almal moes hul eie resep maak, dit bedien en verduidelik hoe hulle die koffie gemaak het. Dit alles binne 10 minute.

Die koffie wat Jacobs bedien het, het hy San Bonani genoem, wat beteken “ek sien jou”.

Jacobs sê hy was 19 sy liefde vir koffie en alles wat te make het daarmee, begin het. Hy en sy ouers het ’n koffieroostery, Carl’s Coffee om die hoek van sy ouers se huis in Kilnerpark in Pretoria besoek.

“Die barista, Vusi, het my ingenooi en my van koffie begin vertel. Uiteindelik het ons vir twee ure gesels. Ek kon nie glo iemand het so passie vir iets nie, wat nog te sê koffie!” het Jacobs die afgelope week uit Italië vertel.

San Bonani is gekies ter ere aan Vusi, wat die dag wat hy hom by die koffiewinkel ingenooi het, Jacobs se liefde vir die drankie begin ontwikkel het.

Destyds het Jacobs begin werk as ’n jeugpastoor. Soos tyd verloop het, het hy besef hoeveel groter die wêreld van koffie is, as waarmee hy grootgeword het.

In 2020 het hy by ’n koffiewinkel in Montana begin werk. “Daar het die wortel geskiet.”

Op sy Instagram-profiel is Jacobs the­_mr_pedantic. “Die naam is gebore uit my punterigheid oor koffie. In die voorbereiding van koffie moet die gramme baie spesifiek wees.”

Vir Jacobs is dit belangrik om mense in te lig oor die koffiebedryf. “Ek wil mense blootstel aan hoeveel hande dit neem om een koppie koffie voor jou te kry.”

Christiaan Jacobs, ʼn 26-jarige Barista van Pretoria, het die derde plek behaal in ʼn internasionale barista-kompetsie in Italië. En dit nog op sy wittebrood ook.Jacobs vertel soms drink hy tussen 07:00 en 13:00 soveel as 73 espresso’s. “Dan is daar dae wat ek glad nie koffie drink nie. Koffie is vir my iets wat ek met mense deel.”

Bernice, ’n grafiese ontwerper van Pretoria, is self ʼn koffiekenner, vertel hy, maar “sy is liewer vir my liefde vir koffie as wat sy self vir koffie is.”

Twee uit elke drie oggende neem hy vir sy vrou koffie in die bed en die ander oggend neem sy vir hom sy eerste koppie koffie vir die dag.

“Ons het tans so nege verskillende soorte koffie in die huis, 20 gram-buisies wat ons in die vrieskas hou.”

 

In die Jacobs-huishouding sal jy nie kitskoffie kry nie. Trouens, as mense kom kuier en melk in suiker in hul koffie drink, moet hulle maar self melk en suiker saambring. “As jy R120 se koffie drink, wil jy dit nie noodwendig bederf met melk en suiker nie,” sê Jacobs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.