SA gons oor onblusbare talent op sosiale media

Argieffoto ter illustrasie. (Foto:
Kelly Sikkema/Unsplash.)

Suid-Afrika spog met onblusbare talent – van die kunste, tot mense wat grafiese ontwerp doen, boeke of artikels skryf, of sommer net met video en klank rondspeel. Die beroepsgilde vir kommunikasiepraktisyns en die beroepsgilde vir die kunste het onlangs ’n opwindende projek op sosiale media van stapel gestuur waarin hulle Afrikaanse ontwerpers, bemarkers, skrywers, joernaliste en kunstenaars erken vir hul onblusbare talent.

“Sosialemediaplatforms is oorlaai met Covid-19-nuus, en ons wil graag erkenning gee aan ons plaaslike talent. Ons is in elk geval almal meer op sosiale media besig tydens die afsonderingstyd, en ons is honger vir goeie nuus. Dit is hoe #GoeieGons gebore is,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir Kommunikasiepraktisyns.

“Het jy onlangs lekker gelag, geïnspireerd gevoel of sommer net gedink: ‘Sjoe, dis oulik!’? Dan moet jy daardie ontwerp, artikel, video, radioprogram of nuwe lied op sosiale media deel met #GoeieGons,” sê Engelbrecht.

Daar is daagliks plaaslike talent wat artikels skryf, advertensies of boeke se voorblaaie ontwerp, foto’s neem of net mense met kreatiwiteit inspireer, en dit is hierdie passie wat Engelbrecht meen gedeel moet word.

“Dit is belangrik dat ons mekaar aanmoedig, inspireer en opbou, want positiwiteit kweek positiewe gedagtes en bou gemoedere op. Ons het ’n unieke passie vir ons taal en kultuur. Kom ons blaas hierdie passie aan om groter en wyer te brand,” sê Engelbrecht.

Hoe kan ek saam #GoeieGons?

  1. Neem ’n foto, deel ’n skakel, neem ’n skermskoot of haal iets aan van die betrokke video, artikel of advertensie;
  2. Plaas dit op enige sosiale media platform (Facebook, Instagram, Twitter) met #GoeieGons;
  3. Tag die persoon en/of maatskappy om hulle erkenning te gee; en
  4. Nomineer jou vriende om ook te #GoeieGons.

Ons #GoeieGons, #GoeieGons saam oor Afrikaanse talent!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus, Só maak mens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.