Suid-Afrika spog met onblusbare talent – van die kunste, tot mense wat grafiese ontwerp doen, boeke of artikels skryf, of sommer net met video en klank rondspeel. Die beroepsgilde vir kommunikasiepraktisyns en die beroepsgilde vir die kunste het onlangs ’n opwindende projek op sosiale media van stapel gestuur waarin hulle Afrikaanse ontwerpers, bemarkers, skrywers, joernaliste en kunstenaars erken vir hul onblusbare talent.
“Sosialemediaplatforms is oorlaai met Covid-19-nuus, en ons wil graag erkenning gee aan ons plaaslike talent. Ons is in elk geval almal meer op sosiale media besig tydens die afsonderingstyd, en ons is honger vir goeie nuus. Dit is hoe #GoeieGons gebore is,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir Kommunikasiepraktisyns.
“Het jy onlangs lekker gelag, geïnspireerd gevoel of sommer net gedink: ‘Sjoe, dis oulik!’? Dan moet jy daardie ontwerp, artikel, video, radioprogram of nuwe lied op sosiale media deel met #GoeieGons,” sê Engelbrecht.
Daar is daagliks plaaslike talent wat artikels skryf, advertensies of boeke se voorblaaie ontwerp, foto’s neem of net mense met kreatiwiteit inspireer, en dit is hierdie passie wat Engelbrecht meen gedeel moet word.
“Dit is belangrik dat ons mekaar aanmoedig, inspireer en opbou, want positiwiteit kweek positiewe gedagtes en bou gemoedere op. Ons het ’n unieke passie vir ons taal en kultuur. Kom ons blaas hierdie passie aan om groter en wyer te brand,” sê Engelbrecht.
Hoe kan ek saam #GoeieGons?
- Neem ’n foto, deel ’n skakel, neem ’n skermskoot of haal iets aan van die betrokke video, artikel of advertensie;
- Plaas dit op enige sosiale media platform (Facebook, Instagram, Twitter) met #GoeieGons;
- Tag die persoon en/of maatskappy om hulle erkenning te gee; en
- Nomineer jou vriende om ook te #GoeieGons.
Ons #GoeieGons, #GoeieGons saam oor Afrikaanse talent!