SA ingenieur gesels oor ‘Endurance’-ontdekking

James-John Matthee. (Foto: Verskaf)

Ek sit tans in my kajuit met alles vasgebind vir die groot golwe wat ons soos ’n kurkskroef heen en weer swaai. Volgens die weerdiens kom die grootste golwe eintlik eers môre, so dis goed dat ek eerder nou jou vrae beantwoord.

So gesels James-John Matthee, meganiese ingenieur, wat deel was van die geskiedkundige oomblik toe ʼn groep navorsers op die SA Agulhas II die skeepswrak Endurance naby die Antarktika-kus gevind het. Hy het per e-pos met Sarie Marais-Nell oor sy ervaring gesels.

Matthee was op 5 Maart langs die poolnavorsingskip besig om ys te saag as deel van ʼn ander navorsingsprojek toe sy kollegas die wrak wat 107 jaar gelede onder ys verdwyn het, opspoor. Dit was die 17de dag van hul soektog en angs wou-wou begin wen, want die ys het vinnig begin meer raak, hulle het reeds ʼn gebied groter as Kaapstad gefynkam en almal het gewéét daar is beperkte tyd oor om verder te soek. Sou hulle weer onverrigtersake moes omdraai soos in 2019?

“Ek kon eers nie die goeie nuus glo nie – ons het naby aan die einde van die gebied gekom waarin ons sou soek; ons sou binne enkele dae moes terugdraai en deur die ys breek voordat ons soos die Endurance in 1915 sou vassit. Almal was baie verlig oor die vonds; almal móés dit eers met hulle eie oë sien.

“Die wrak is steeds in ’n uitstekende toestand. ʼn Mens kon die letters Endurance nog teen die sykant sien met die vyfster Polaris-embleem onderaan. Ek kon die venstertjie van Sir Ernest Shackleton sien, die anker, stuurwiel, en selfs skoene en eetgerei wat nog op die dek lê. Dis asof die skip twee weke gelede gesink het!”

Die uiters gevorderde kameras kon tot op ʼn diepte van 4 000 meter afsak en dadelik data na die operateurs stuur. Hierdie veelsydige kameras kon ook ʼn 3D-model van die Endurance en sy toerusting maak. Argeoloë en museums kan dit nou as ʼn 100%-getroue weergawe gebruik.

Hoe kry ʼn 26-jarige dit reg om ʼn tweede keer as navorser op die poolnavorsingskip te werk?

Slegs ‘n handjievol skepe kon voorheen in hierdie omgewing naby die Falkland-eilande vaar. Die span navorsers op die “SA Agulhas II” het op 5 Maart die 107-jaaroue wrak van die Endurance hier opgespoor. (Foto: Verskaf)

Matthee het as derdejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch ʼn lesing deur professor Annie Bekker oor die SA Agulhas II bygewoon. Omdat hy nog altyd in Antarktika-feite belanggestel het, het hy sy finalejaarskripsie vir sy ingenieurswesegraad oor dié navorsingskip gedoen.

Al het hy in sy derdejaar geglo dit sou ʼn groot genoeg voorreg wees om één keer ʼn skip te besoek wat voorheen in die Suidpool was, kon hy een aand as deel van sy navorsing, operasionele modale analises op die SA Agulhas II in Kaapstadhawe doen. “Dit was ’n fantastiese ervaring,” vertel hy.

In 2019 was Matthee ʼn navorser op die SA Agulhas II se eerste soektog na die Endurance. Dit is Sir Ernest Shackleton se skeepswrak wat in 1915 in die Weddell-see onder ys verdwyn het. “Die eerste planne om na die Endurance te soek, is tien jaar gelede in ’n koffiewinkel in Londen deur die argeoloog Mensun Bound gesmee; hy is ook nou aan boord.

“Die eerste vaart was ’n onbeskryflike ondervinding. Om vir 100 dae op die see te wees; om die rouheid en krag van die see te ervaar, soos hy hierdie skip van 140 meter soos ’n vuurhoutjie laat voel.”

Hierdie ekspidisie is ’n gulde geleentheid om sy navorsing vir die SA Agulhas II te verifieer, glo James-John Matthee. (Foto: Verskaf)

Matthee was so geïnspireerd, hy kon glad nie ophou navorsing doen nie.

“Ek het in my vrye tyd aanhou werk aan die algoritme om roetes vir die SA Agulhas II te beplan. Toe ek dit laas jaar vir professor Bekker wys, vertel sy die navorsingskip gaan weer vanjaar in die Weddell-see na die Endurance soek, en daar’s plek beskikbaar! Sedertdien het ek as meesterstudent geregistreer en ek kon twee maande by my werk in Stellenbosch, Nanodyn Systems, afkry.

“Deesdae besef ek hoe baie geleenthede daar is vir mense wat regtig Antarktika toe wil gaan – diesel mechanics, elektriese tegnici, dokters, kokke, kameramanne, bioloë, weerbeamptes en selfs ’n masseuse.

“My vorige navorsing op die Agulhas het oor vibrasie- en klankanalise gegaan. Ek is tans deel van die klank- en vibrasienavorsingsgroep by die Universiteit Stellenbosch onder professor Bekker.

Hy werk spesifiek aan ’n roetebeplanningsalgoritme wat die navigasieroete van punt A na punt B deur verskillende ystoestande beplan. Deur om te weet hoe die skip oor die laaste tien jaar deur verskillende ystoestande beweeg het, kan hulle satellietfoto’s gebruik om ook nuwe paaie deur die ys te beplan.

“Dit kan tyd, brandstof en risiko verminder. Dink daaraan as ’n program soos ’n GPS, wat kan voorspel watter roete jy deur die ys moet neem.

“Hierdie ekspedisie is ’n gulde geleentheid om die algoritme te verifieer. Ek is deur professor Bekker as navorser genooi, maar ook om Ben Steyn, die ander Suid-Afrikaanse navorser, te help data insamel en seker te maak al ons stelsels op die skip bly aan.

In die Weddell-see is die grootste vyand vandag nog, soos in Shackleton se tyd, die ys. James-John hier voor die ‘SA Agulhas II’. (Foto: Verskaf)

Matthee sê om vir ʼn tweede keer deel te wees van hierdie span is ’n enorme eer. Dit is ook ongelooflik om deel van ’n internasionale span te wees.

“Ons moes baie op die ys werk. Daar was dae van -30 grade, waar ʼn mens nie die skip kan sien as jy 200 meter wegstap nie. Jy berei goed vir die koue voor en genoeg lae klere help; ek het probeer om elke dag buite te kom.

“Minder as ’n handvol skepe kon al in die Weddell-see vaar. Ons kon vir 18 dae waardevolle data op die ys insamel, insluitend sneeuval en yskaraktereienskappe wat ons ’n beter insig gee oor die variansie van yskonsentrasie wat ons in die Weddell-see sien. Hierdie is ’n besondere ekspedisie om regtig die tegnologie van die 21ste eeu tot sy limiete te toets.”

Matthee voeg by dat in die Weddell-see ʼn mens se grootste vyand vandag steeds – soos in Shackleton se tyd – die ys is.

“Ons het beplan om by die wrak te wees tydens die ys-minimum van die jaar, maar die seisoen draai vinnig en toe ons terugdraai, was daar reeds baie meer ys as 18 dae tevore.”

Frank Worsley, die Endurance-kaptein, kon die koördinate in 1915 redelik noukeurig neerskryf, sonder moderne hulpmiddels. Hy was slegs 6 kilometer uit – báie min as ʼn mens dink aan die tegnologie van daardie tyd. Volgens Matthee is daar steeds ’n sekstant aan boord waarmee die kadette leer hoe om sonder ʼn GPS te navigeer.

Verskillende dissiplines het uitstekend saamgewerk om die ekspedisie te laat slaag. (Foto: Verskaf)

“Ons is 11 nasionaliteite aan boord; almal het goed oor die weg gekom. Dis interessant om te sien hoe een persoon se navorsing in ’n ander s’n vloei. Ander Suid-Afrikaners is die yskaptein, Freddie Ligthelm, plus vyf Suid-Afrikaanse wetenskaplike navorsers – professor Bekker en Ben Steyn, ek en die Suid-Afrikaanse Weerdiens se Marc de Vos en Carla Ramjukd.

“Die meeste van die seelui is Suid-Afrikaners – ’n uitstekende span onder leiding van kaptein Knowledge Bengu.

Wat Matthee sal bybly, is die ongerepte natuurskoon met soveel pikkewyne, walvisse en robbe wat om ʼn mens baljaar.

“Die pikkewyne is baie nuuskierig. Elke keer as ons stop of op die ys werk, moet hulle eers kom kyk wat ons doen; soms tot een meter van ons af.

“Dit was ’n voorreg om my tone ʼn sekonde lank in die see van geskiedenis te kon dompel. Om te weet ons dryf bo die wrak van een van die bekendste avonturiers van die vorige eeu, en om die wrak te kon sién – ek sal dit altyd onthou.

“Afsluitend kon ons foto’s van Shackleton se Endurance op sy graf in Suid-Georgië gaan neersit, presies 100 jaar nadat hy daar begrawe is.”

Die SA Agulhas II kom Saterdag in Kaapstadhawe aan.

(Foto: Falklands Maritime Heritage Trust/National Geographic)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.