SA maak harte, hande oop vir borskanker-oorlewendes

V.l.n.r. is Maryke Botha van Pick n Pay, Stephné Jacobs, voorsitter van Reach for Recovery, Ross Richardson, voorsitter van Samfa, en Tandiwe Tembani van Pick n Pay by die oorhandiging van die skenking op prostese vir borskankerpasiënt aan te skaf. (Foto: Verskaf)

Met Wêreldkankerdag wat vandag herdenk word, word daar ’n beroep op alle mense gedoen om te help met die versorging van kankerpasiënte, ongeag hulle inkomstevlak.

Dit is iets wat Suid-Afrikaners jaarliks doen deur hulle ondersteuning aan die Power of Pink-veldtog van die organisasie Reach for Recovery.

Reach for Recovery is ’n plaaslike niewinsgewende organisasie, wat jaarliks gratis silikoonprosteses aan minderbevoorregte borskankeroorlewendes skenk. Die vroue kan gewoonlik geen vorm van borsrekonstruksie bekostig nie.

Die doel van die prostese is om hierdie vroue te help om te herstel en beter oor hulleself te voel; ’n belangrike waardigheidskwessie vir talle kankeroorlewendes.

“Duisende vroue in Suid-Afrika gaan elke jaar deur hierdie traumatiese ervaring en die meeste het nie mediese versekering om die koste van ’n silikoonborsvorm te dek wat ’n natuurlike bors naboots nie,” sê Stephné Jacobs, nasionale voorsitter van Reach for Recovery.

“Vroue het ook nie altyd maklik toegang tot hoëgehaltesorg in Suid-Afrika nie. Terwyl die private sektor sorg van hoë gehalte bied, is dit duur en onbekostigbaar vir talle Suid-Afrikaners. Die openbare sektor sorg vir meer as 80% van Suid-Afrikaners wat gesondheidsorg soek.”

Hierdie werklikheid het die Suid-Afrikaanse Sampioenboerevereniging (Samfa) gemotiveer om saam met Pick n Pay en die verpakkingsmaatskappy Sinica met ’n oplossing vorendag te kom.

“Silikoon-borsprostese kos gewoonlik meer as R3 000 elk. Dit is heeltemal te veel om toeganklik te wees vir baie minderbevoorregte vroue in Suid-Afrika,” sê Ross Richardson, voorsitter van Samfa.

“Met dié projek hoef jy egter net ’n staatshospitaalpasiënt te wees om vir borsprostese te kwalifiseer. Vanaf 2011 kon ons net minder as 8 000 silikoonprosteses verskaf teen ’n koste van meer as R5,9 miljoen aan borskankeroorlewendes wat finansieel sukkel.”

V.l.n.r. is vrywilligers van Reach for Recovery, Shirley Gottchick, Cherry Hart, Bessie Tselapedi, Maureen Green, Beulah Jankelowitz, Stephné Jacobs en Edith Venter. Agter staan Ross Richardson van Samfa. (Foto: Verskaf)

Elke jaar vind gewone Suid-Afrikaners dit ook in hulle harte om hierdie nimmereindigende goeie werk te ondersteun deur letterlik in te koop by Samfa se Power of Pink-veldtog. Die versorgingsprogram skenk jaarliks ​​R1,00 aan Reach for Recovery uit elke pienk pakkie vars sampioene wat gedurende Oktober by Pick n Pay-winkels gekoop word.

Altesaam R626 820 is in 2021 vir die projek ingesamel.

’n Volle 95% van die geld wat deur die Power of Pink-veldtog ingesamel word, word gebruik om silikoonprosteses te finansier, en die res gaan na die verskaffing van sorgsakke met ondersteuningsitems en inligting wat vrywilligers van Reach for Recovery uitdeel wanneer hulle post-operatiewe borskankerpasiënte besoek.

Die eet van vars sampioene is sedertdien nou gekoppel aan die voorkoming van borskanker. Die Beckman-instituut by die City of Hope-kankersentrum in Kalifornië, VSA, het in 2010 bevind dat die eet van net 10 g sampioene per dag ’n mens se risiko om borskanker te ontwikkel met meer as die helfte verminder het. Prakties gesproke beteken dit dat jy net een vars sampioen per dag moet eet om voordeel hieruit te put.

Ten tyde van die bevinding het dr. Shiuan Chen, voorsitter van die departement van kankerbiologie by die Beckman Research Institute of City of Hope, opgemerk dat die eet van sampioene ’n maklike ingryping sou wees, aangesien dit “’n kostedoeltreffende voedselsoort” is.

Die organisasie en sy vennote het Suid-Afrikaners bedank vir die omgee vir borskankeroorlewendes en moedig almal aan om die sorggaping in hulle eie lewe te verklein deur elke dag ’n paar vars sampioene te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

So dankbaar vir dinge en mense soos hierdie.
Ek is op ‘n mediese fonds, maar twyfel of daar genoeg fondse sal wees as so iets ooit met my moet gebeur.
Soos een vrou een keer gesê het: kanker is ‘n BAIE DUUR SIEKTE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.