SA-ners maak skoonskip by internasionale talentkompetisie

Caleb Bediako. (Foto: Verskaf)

Deur Riaan Grobler

Die 18-jarige Caleb Bediako van Pretoria is by die wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste (WCOPA) in Los Angeles, VSA, as die algehele wenner in die kategorie vir seniors aangewys.

Die WCOPA word die afgelope 25 jaar beskou as die Olimpiese Spele vir dansers, sangers, akteurs, modelle en instrumentaliste. Hier ding kunstenaars uit 28 lande mee op ʼn internasionale verhoog om brons, silwer en goue medaljes en die hoop om as algehele kampioen in hulle afdeling gekroon te word.

Altesaam 12 plaaslike opkomende kunstenaars het Vrydagaand aan die eindronde van dié glansgeleentheid deelgeneem. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die kampioenskap dat Suid-Afrika deur soveel finaliste verteenwoordig is.

Die 14-jarige Carla Schönfeldt en Ruanco Ueckermann van die Oos-Rand het in die junior toneelspelkategorie met die louere weggestap terwyl die 16-jarige Vongai Dhliwayo van Pretoria as die wenner van die senior toneelspelkategorie gekies is.

Die 16-jarige Naveena Sabu van Mbombela het die senior danskategorie gewen. Suid-Afrika het altesaam 81 goue, 88 silwer en 40 brons medaljes ingeoes. Verskeie deelnemers het ook beurse by vooraanstaande Amerikaanse universiteite losgeslaan.

“Die deelnemers het werklik hulle alles gegee tydens die kompetisie,” sê dr. Ellen Roux, direkteur van die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste (SACOPA).

“Wat vir my uitgestaan het, was die sportmansgees. Ons het as ʼn span mekaar ondersteun en ek dink dit het ʼn groot verskil gemaak. Die ander lande was maar skrikkerig vir die groen en goud,” skerts Roux trots.

Opkomende kunstenaars kan nou inskryf vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap van SACOPA wat in September in Rustenburg aangebied word. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Weereens net nog ‘n bewys hoe Suid-Afrika kan presteer en dat ons oor goeie en talentvolle ambassadeurs beskik – baie geluk aan almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.