SA polisievrou wéér wêreldkampioen

Lt.kol. Kabous Louw (Foto: Verskaf)

Lt.kol. Kabous Louw van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer nadat sy in Ierland vir die tweede keer as die Wêreldkushengelkampioen aangewys is.

Maroela Media het vroeër berig Louw het in 2016 geskiedenis gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat as die Wêreldkushengelkampioen aangewys is.

Louw het van 21 tot 26 Oktober in Ierland aan die wêreldkampioenskap deelgeneem. Hoewel sy al voorheen dié gesogte titel verower het, het sy gesê dit was steeds ʼn groot verrassing om dit weer te wen.

“Ek het my alles gegee, en toe maak ek dit weer! Maar ek het dit geensins verwag nie. Dit voel nog onwerklik, dit was absoluut nes die eerste keer – ʼn groot verrassing,” het sy aan Maroela Media gesê.

Louw het begin hengel toe sy baie klein was. Sy en haar pa het destyds saam in Hentiesbaai gehengel.

“Toe ek begin werk het, het ek elke jaar seker gemaak ek sit verlof in om steeds in Hentiesbaai te gaan hengel. Dit was eers toe een van my kollegas hier by die polisie my aangemoedig het om vir die polisieklub te hengel, dat ek dit ernstig begin doen het.”

Lt.kol. Kabous Louw (Foto: Facebook)

Louw vertel dat sy vir ʼn tyd lank vir die polisiehengelklub gehengel het, maar dat die klub later ontbind het omdat daar nie meer belangstelling was nie. Nou hengel sy vir die Tygerberg strand-en-rotshengelklub.

“Toe ek begin het, is ek amper onmiddellik vir die Wes-Kaapse span gekies, en toe ook vir die Protea-span,” het sy gesê.

Louw het gesê omdat die polisie nie meer ʼn klub vir hengelaars het nie, moet sy haar eie jaarlike verlof en naweke gebruik wanneer sy aan kompetisies deelneem of wanneer sy moet oefen.

Al die koste verbonde aan die sport kom ook uit haar eie sak. Dié koste kan tot R50 000 beloop net om aan ʼn kompetisie deel te neem, omdat inskrywings vir internasionale kompetisies in euro betaal moet word.

“Dit kom uit my eie sak, maar ek betaal dit maar. Die dag as die sport nie meer vir my lekker is nie, sal ek ophou, maar tot nou toe geniet ek dit nog baie,” het sy gesê.

Louw het gesê die moeilikste deel van die sport is om aan omstandighede in ander gebiede gewoond te raak.

“ʼn Mens kan nie regtig oefen vir hengel nie; ʼn mens moet net leer hoe om baie aanpasbaar te wees. Want in die een plek is die vis diep en op die ander plek is die vis baie vlak. Die manier waarop ek hengel in Suid-Afrika is byvoorbeeld baie anders as in Ierland. En ʼn mens het net drie dae om aan die nuwe omstandighede gewoond te raak voordat jy aan die kompetisie deelneem.”

“Jy speel maar met jou oë, pas dit toe, en leer só. ʼn Mens moet maar net kan aanpas by die area. Maar vir my bly dit lekker, maak nie saak hoe die area lyk nie,” het sy gesê.

Louw het gesê dit is nie net ʼn groot oorwinning vir haar om die titel van Wêreldhengelkampioen te dra nie, maar ook vir die Protea-span wat algeheel tweede in die kompetisie geëindig het.

“Dit is ʼn besonderse eer, want vir Suid-Afrika is dit moeilik om te kompeteer. In ander lande is hengel ʼn baie groter sport as hier. Dit is moeilik vir ons om by hul omstandighede aan te pas, maar ons het hierdie jaar gegaan om te wen en om te wys Suid-Afrika kan ook die ding doen.”

Louw sal in Februarie 2019 weer Suid-Afrika verteenwoordig by die Wêreldhengelspele wat in Langebaan aan die Weskus sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Ek weet nie hoekom nie, maar op my skerm lyk dit of die grootste gedeelte van die artikel gedupliseer is?

MG ·

Wat ‘n prestasie, baie geluk!
Maroela Media, lyk my dié berig is so positief dat dit twee keer in een artikel verskyn. ;-)

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die dubbele plasing. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

leser ·

baie geluk
ja die artikel kon baie korter gewees het as dit nie was vir die duplisering nie

Johan ·

Waar is al die borge wat al die hengelprogramme op tv borg ? Hoekom kan hierdie hengelaar ook nie ondersteun word nie?

humor ·

Die tannie het stewige skouers en kan beslis n sinker laat sing op pad diepsee toe. Ons boere Oubruinmerie – drinkers so om Hentiesbaai kan sekerlik by haar n les of twee leer al het sy hier by ons boere die kuns baas geraak..

Gemaskerde Sopbeen ·

In die nuwe Suid Watookal hengel die dienders net vir “braais”….

RN ·

Baie geluk. Voorwaar ‘n ambassadeurs vir SA. Sterkte vorentoe met die hengel.

ChrisE ·

Geluk. Dit is nogal snaaks. Wat sal haar man se verskoning wees as hy visvang storie wil gebruik. Sy ken haar storie, so pappie moet ligloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.