SA Pray-veldtog: ‘Menslike planne kan SA nie meer red’

gebed-hande-bybelstudie

Foto: Godsgirl_madi/Pixabay.com

“Ons het op ʼn plek gekom in Suid-Afrika waar ons radikaal aangewese is op God se ingrype,” sê Jannie Pelser, wat die gebedsinisiatief, SA-Pray, van stapel stuur. “Dink maar aan die absolute noodtoestand in die Wes-Kaap, wat ʼn waterkrisis beleef – net die Here kan dit verander. Menslike planne kan ons nie meer red nie.”

SA Pray skop op 25 Mei af en is ʼn veldtog wat mense reg oor Suid-Afrika oproep om 11 dae lank vir die land te bid. “Die tydperk tussen 25 Mei tot 4 Junie het veral betekenis vir die kinders van God omdat dit die tydperk is tussen Jesus se hemelvaart en Pinkster, waar die Heilige Gees vir ons gegee is.”

Pelser roep Christene op om veral in dié tyd te bid deur die Heilige Gees “wat ons toerus en help om te bid”.

“Deur te bid kan God ʼn verandering in ons harte – en ook vir dié waarvoor ons bid, laat plaasvind,” sê Pelser. Hy glo ons word op hierdie manier die antwoord op ons eie gebede. “As jy vir mense in nood bid en jy staan die volgende dag op om daardie mense te help, is jy die antwoord op jou eie gebed. Kan jy dink hoe die samelewing gaan verander as 100 mense só bid? Ons as Christene gee weer hoop aan die mense rondom ons.”

Die SA pray-veldtog fokus daarop dat individue nie vir gemeenteleiers moet wag om ʼn gebedsaksie te reël nie, maar self inisiatief moet neem. “Daar waar jy besig is met jou daaglikse lewe: saam met die vreemdeling in die winkel, of die kollega by die werk, bring jou offer aan God – bid. Solank as wat ons op aarde is, kan ons nie ophou bid nie.”

Vir meer inligting oor hierdie projek, besoek www.sapray.co.za  of volg SA Pray op Twitter en Facebook om op hoogte te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

theuns ·

Dit help nie 100 mense bid nie, God is nie `n quick fix nie – die mense wat sê dat hulle Christene is, moet soos Christene begin leef.

Eish ·

Amen daarop. Meer as 25% van die Bybel is profesie waarvan helfte gerig is op die eindtyd. 2 Timotheus 3:1-4 is so n profesie:” Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hul self wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloen het. Keer jou ook van hierdie mense af. ”
Dit is voorspelde profesie en ons kan bid dat ons blouvitterjoel word, dit gaan nie verander nie. Waarvoor ons wel kan bid is vir bewaring in die tyd waarin boosheid so welig tier. Die dag na Angus Buchan se It’s time toe breek chaos uit op Lictenburg en Coligny. TB Joshua, die ” profeet” waarheen n klompie predikante hul lidmate toe aangekarwei het, sien toe nie dit kom nie en daar val sy kerk op sy eie stoom inmekaar met klomp Suid Afrikaners wat die lewe laat.Hy belowe om ons te bewaar. Pasop Jannie, soos Louis Malherbe gese het, moenie so besig raak met die dinge van die Here dat jy nie by die Here van die dinge uitkom nie!

Basson ·

Voorspoed! Dink julle ex-Rhodies bid ook nog?
Dink op die stadium ons moet twee bekers aksie by die bidresep gooi.

Hendrik ·

‘n Mens kan nie denoeg bid vir die land nie. Is dit dan nie nou tyd om dinge begin doen nie? Dinge soos protes en aksie nie? Zimbabwe is wat dit is omdat die mense passief gebly het en bid en gehoop het. Wat moet ons doen ? Bid en werk vir uitkoms.

Peet J ·

Ek vermoed dat die veldtog eerder gemeenteleiers moet betrek en soos in die verlede soortgelyk aan Jesus se buitemuurspreke maar huidiglik op straathoeke en pleine die christelikegeloof verkondig en d.m.v.gebedsaksie die hele reënboognasie betrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.