SA se 10 top-kushengelplekke

finale-feature-image[Promosieartikel]

Suid-Afrika is geseën met duisende kilometer se kuslyn en ’n oorvloed bobaas-visvangbestemmings. Tog is dit soms moeilik om by te bly met al die reëls ─ die wanneer, waar en hoeveel van hedendaagse hengel. Hengelregulasies word al hoe strenger en met goeie rede ─ die see en al sy spesies is in gevaar. Doen jou deel om jou waardering vir ons pragtige oseane te bewys en vergewis jou van die voorskrifte. Boonop was dit nog nooit so maklik soos met dié lekker gids nie!

Ons het by Petri de Wet, aanbieder van die kykNET-hengelprogram, Hier gaan ons al weer, en ’n paar ander gesoute hengelaars gaan kers opsteek om uit te vind wat hul gunsteling-kushengelbestemmings in Suid-Afrika is en watter lekker vis ’n mens daar kan uittrek.

Hier is tien van die gunstelinge met al die inligting wat jy nodig het om verantwoordelik lyn nat te maak. Ons het by elke bestemming hieronder inligtingsgrafika ingesluit wat ’n paar van die visse aandui wat daar uitgetrek kan word, hoeveel van daardie vis jy per dag mag vang en die minimumgrootte van die vis indien daar ’n beperking is.

Wes-Kaap

Wes-Kaapse hengelaars se brood is aan albei kante gebotter met die warm Indiese Oseaan aan die Tuinroete se kant en die yskoue Atlantiese Oseaan aan die Weskus. Dit beteken dat daar ’n groot verskeidenheid kushengelbestemmings in die Wes-Kaap is, maar ons gunstelinge is hieronder gelys.

1) Langebaan

By Langebaan kan jy jou katrol op die rotse, strand of by die strandmeer laat sing. ’n Vis wat heel volop hier voorkom van Augustus tot Mei is die witstompneus ─ dit is boonop ook ’n baie lekker eetvis. Die elwe is bietjie moeiliker om te vang, maar jy sal heelwat van hulle ook hier raakloop.

Wenk: As jy kabeljou of elf wil vang, stel die gesoute Langebaan-vissermanne kraakvars sardyne voor ─ maar jy moet die aas gereeld ruil en seker maak dat dit vars is. En as jy die witstompneus wil aanvat, is witmossel-, garnaal- of selfs rooiaas ’n wenner.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

langebaan

2) Arniston

’n Groot verskeidenheid vissoorte kan in Arniston se waters uitgetrek word en hoewel ʼn mens ’n 4×4 benodig om die beste hengelplekke te bereik, kan jy sommer voor die Arniston Spa Hotel, links van die skeepshelling, lekker lyn natmaak!

Wenk: Daar is nie regtig aas op die klein dorpie te koop nie. Neem dus jou eie garnaal- en bloedwurm-aas saam ─ dit werk goed vir die meeste visse wat hier voorkom.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

arniston

3) Witsand

Of jy nou in rivier-, kus- of diepseehengel belangstel, Witsand het ’n hengelplek vir jou. Kabeljous van meer as 50 kg is al by die Breederiviermond uitgetrek, maar dit is nie al spesie wat hier te vinde is nie.

Wenk: Die getypoel is baie gewild onder die plaaslike vissermanne, veral wanneer die Suidooster waai. Die visspesies in dié area is mal oor vars, natuurlike aas soos sandgarnale en verskeie wurmsoorte.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

witsand

4) Mosselbaai

Mossels en mosselkrakers is nie al wat in dié baai voorkom nie ─ verskeie ander lekker visse kan ook hier uitgetrek word.

Wenk: Die kabeljous is volop sowat 300 m anderkant die Hartenbosriviermonding en die mosselkrakers skuil in die water agter die Mosselbaai-gholfbaan, maar as jy jou lyn hiér wil natmaak, sal jy iemand moet ken om verby sekuriteit te kom.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

mosselbaai

5) Wildernis

Leentjiesklipstrand is ’n gewilde kushengelbestemming in Wildernis. Terwyl jy rustig wag vir ’n byt kan die res van die gesin lekker ontspan by Leentjiesklip se braai- en piekniekarea. Gedurende die walvisseisoen kan die jongspan hul oë oophou vir dié merkwaardige reuse.

Wenk: Met vars sandgarnale verdubbel jou kanse om ’n grote uit te trek, maar let asseblief daarop dat jy ’n permit vir sandgarnale nodig het.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

wildernis

6) Plettenbergbaai

Plettenbergbaai bied verskeie uitstekende bestemmings vir kus-, strandmeer-, en diepseehengel. Hier is ook verskeie doendinge om die res van die gesin te vermaak, maar as die kleingoed wel wil leer hengel, is die strandmeer die ideale plek.

Wenk: Die Keurboomstrandmeer is dié hengelplek in Plettenbergbaai en om die kanse vir ’n kabeljou-byt te vergroot moet jy jou lyn natmaak wanneer dit hoogwater word.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

plettenbergbaai

Oos-Kaap:

Die Oos-Kaap spog met kilometer op kilometer se ongerepte kus en hierdie deel van ons land is puik vir alles van dam- tot diepseehengel. Ons gunsteling-bestemmings vir kushengel in die Oos-Kaap is Port Elizabeth en Jeffreysbaai.

7) Jeffreysbaai

Wanneer dit by strandhengel kom is Jeffreysbaai ’n bobaas-bestemming! En boonop is daar hope doendinge vir die res van die gesin terwyl jy jou katrol-arm oefen.

Wenk: Kabeljous is een van die lekkerste visvangplekke in Jeffreysbaai ─ waar dink jy het dié plek daardie naam gekry! Walskipper by die Marina is ook ’n gesellige visvangplek waar jy elwe, dassies en soms mosselkrakers kan vang.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

jeffreysbaai

8) Port Elizabeth

Port Elizabeth is ’n uitstekende hengelbestemming ─ die hele ent van die Sondagsrivier tot by die hawemuur, die Kaap Recife-natuurreservaat en Maitlands sal jy ’n rits puik visvangplekke aantref.

Wenk: Die Tuna Classic-fees vind elke jaar in Mei hier plaas en as jy nog altyd ’n geelvintuna wou vang, stel ons voor jy maak dan ’n draai in Nelson Mandelabaai.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

port-elizabeth

KwaZulu-Natal:

KwaZulu-Natal is bekend vir sy voortreflike swemstrande en lekker warm water, maar die Natalse kus spog ook met ’n rits lekker hengelplekke. Ons twee gunstelinge is Kosibaai en St. Lucia.

9) St. Lucia

Diepseehengel is nogal gewild by St. Lucia en as die elwe loop, wemel die strand van ywerige hengelaars. Maar dis nie al ding wat hiér byt nie.

Wenk: As jy kabeljou wil vang, stel die gesoute vissers voor dat jy ’n kombinasie van herringaas en tjokka gebruik ─ dit werk blykbaar beter as garnale in dié waters.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

st-lucia

10) Kosibaai

Kosibaai is naby die Mosambiekse grens geleë en dis een van die stilste strande in Suid-Afrika. Dis bekend vir die tradisionele Tsonga-visfuike wat al vir eeue hier gemaak word.

Wenk: ’n Mens het permitte nodig om toegang tot sekere van die strande te kry. Die beste plek om vis te vang is gewoonlik teen die kus by die derde en grootste meer, Kosimeer.

Kyk gerus hieronder na ’n paar van die visse wat gewoonlik in dié geweste byt:

kosibaai

Hou in gedagte dat jy ’n ontspanningshengelpermit nodig het om in Suid-Afrika se waters vis te vang. Daar is ’n langtermynpermit (een jaar geldig) en ’n korttermynpermit (vier weke geldig) wat teen ’n billike tarief deur enige natuurbewaringskantoor of poskantoor uitgereik word. As jy met ’n ontspanningshengelpermit vis uittrek, mag jy nie die vis wat jy gevang het weer verkoop nie. Die vis moet ook met ’n stok gevang word ─ vir ’n harpoen of net het mens ’n ander soort permit nodig.

’n Gedetailleerde dokument met al die hengelregulasies van Suid-Afrika, soos deur die departement van landbou, bosbou en visserye uiteengesit, kan hier afgelaai word. Hier is ’n volledige lys van die vissoorte wat in Suid-Afrika gevang mag word en hier is ’n volledige lys van die aas wat deur hengelaars uitgehaal mag word.

As jy nie aldag self kans kry om lyn nat te maak nie, maar graag ’n vis oor die kole geniet, kan jy hiér kyk of die vis op die rooi, oranje of groen lys is en watter impak dit op die visspesies aan ons kus het.

Ditsem ─ nou weet jy waar om daai grote te gaan soek. Stywe lyne!

Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Frances Strooh, Herman Botha en Nanje Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.