SA se piepklein baba tuis vir Kersfees

Baba Hope Daniels kort na haar geboorte in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal op 19 Maart. Foto: Verskaf

Baba Hope Daniels is op 24 weke gebore en het toe net 300 g geweeg. Sy word geag as een van die kleinste premature babas wat nog in Suid-Afrika oorleef het.

Baba Hope is Vrydag uit die Netcare Kuilsrivier-hospitaal ontslaan en sal nou die feesseisoen saam met haar ouers tuis kan deurbring.

Sy is op 19 Maart met ʼn noodkeisersnee in die hospitaal in die lewe gebring en was vir meer as nege maande in die hospitaal se neonatale-waakeenheid voordat dokters besluit het sy is sterk genoeg om ontslaan te word en tuis by haar ouers, Dorianne en Lesley Daniels, verder aan te sterk.

Volgens hospitaalpersoneel het baba Hope nie net almal verstom met haar vordering nie maar het sy ook diep in die harte gekruip van dokters, die bestuur, verpleegsters en ander personeel van die hospitaal. Talle van die personeellede was Vrydag teenwoordig om baba Hope en haar ouers af te sien.

“Ons is baie tevrede met Hope se neurologiese, visuele en gehoorontwikkeling. Sy weeg nou 5,44 kg en groei sterk en het net so ʼn sterk persoonlikheid,” het dr. Zaheera Kajee, ʼn neonatoloog by die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, gesê. Hy was deel van die span wat verantwoordelik was vir baba Hope se sorg.

“Aangesien sy so vroeg gebore is sal baba Hope egter steeds spesiale sorg en voeding tuis moet ontvang en sal ons ʼn wakende oog moet hou oor haar ontwikkeling en gesondheid soos wat sy groei.”

Ma Dorianne Daniels by baba Hope. Sy was net twee weke oud hier. Foto: Verskaf .

Dorianne Daniels, Hope se ma, beskryf haar dogtertjie as haar “wonderwerkbaba”.

Volgens Kajee is daar al babas op minder as 24 weke gebore, maar word Hope beskou as die kleinste premature baba wat nog in Suid-Afrika oorleef het.

Baba Hope se gewig het ʼn week ná haar geboorte na 285 g geval – dit het die gewig van die pypies wat aan haar gekoppel was ingesluit. Haar gewig was dus naby aan een van die kleinste babas wat nóg enige plek in die wêreld oorleef het. In 2004 is ʼn baba in Chicago op 25 weke gebore wat net 243,8 g geweeg het.

Volgens Kajee het sy vir Hope se lewe gevrees aangesien sy so vroeg gebore is en haar organe nog baie onderontwikkeld was. Kajee het Hope se ouers gewaarsku dat die kans groot was dat Hope moontlik nie sou oorleef nie en indien sy sou, sy talle uitdagings sou ervaar rakende haar ontwikkeling en gesondheid.

Volgens dr. Paul Keating, ʼn kinderarts by dié hospitaal, is die feit dat só ʼn klein baba nie kunsmatige asemhaling kan kry nie, een van die grootste probleme. “Ons het al die ondersteuning gebied wat ons kon, maar sy moes op haar eie asemhaal. Dit is wonderlik dat Hope dit van meet af met sukses gedoen het.”

“Ek en my man, Lesley, het al die afgelope tien jaar gesukkel om swanger te word en het hard gebid vir Hope sedert sy gebore is,” het Dorianne gesê. “Die 275 dae wat Hope in die hospitaal deurgebring het, was baie moeilik vir ons en ʼn emosionele wipplankrit, maar ons is so dankbaar dat sy nou kan huis toe kom.”

‘n Foto van baba Hope kort voor sy Vrydag uit die Netcare Kuilsrivier-hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

Hope sal intussen tuis voeding ontvang deur ʼn spesiale pomp. “Hope het gewys sy is ʼn klein vegtertjie en het een van die gunstelinge geword in die hospitaal,” het sy gesê.

Dorianne het ondanks vrugbaarheidbehandeling gesukkel om swanger te raak weens ʼn chroniese siekte. Sy is aan die einde van 2017 met Bell se verlamming gediagnoseer.

Op 21 weke van haar swangerskap het sy preëklampsie ontwikkel. “Aangesien die swangerskap my gesondheid ook in gevaar gestel het, het dokters gesê ons kan nie veel langer wag om Hope in die wêreld te bring nie.” Dorianne se gesondheid het aanhou agteruitgaan en Hope is op 24 weke en drie dae in die lewe gebring.

“Daar was baie mense wat my en Hope in dié tyd in die hospitaal ondersteun het, insluitend die wonderlike dokters en verpleegpersoneel van die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, sowel as lede van die gemeenskap en my familie,” het Dorianne gesê.

Nolan Daniels, hoofbestuurder van die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, het gesê almal by die hospitaal het geheg geraak aan baba Hope en dat hulle ongelooflik bly is dat sy die feesseisoen tuis saam met haar ouers kan deurbring.

“Ons wens baba Hope en die Daniels-gesin alle voorspoed toe,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.