SA se verlamde varkie inspireer kunswerk

Snortie, die verlamde varkie (Foto: Nicola Vernon)

Snortie, ’n verlamde varkie van die Wes-Kaap, het onlangs kitsroem bereik nadat sy as inspirasie gedien het vir ’n enorme beeldhouwerk in Manchester, Engeland.

Snortie is as ’n klein varkie deur Toni Brockhoven, hoof van Beauty Without Cruelty SA, gered uit ’n agterplaas varkboerdery in Kaapstad. Sy was in ’n verwaarloosde toestand aangetref en Brockhoven het die eienaar oorreed om Snortie in haar sorg oor te plaas.

Daarna kon die varkie se nuwe lewe by die Greyton Farm Animal Santuary begin.

Nicola Vernon, stigter van dié dierehawe, het Snortie met ope arms verwelkom. Vernon vertel dat Snortie met uitstaanpoot-sindroom (splay leg syndrome) gebore is en dat sy geen gevoel in haar agterbene het nie. “Indien haar bene direk na geboorte aan mekaar vasgebind was, sou dit haar vandag gehelp het, maar die boer het haar aan haar eie genade oorgelaat,” sê Vernon.

Die beeldhouwerk van Snortie in Manchester, Engeland (Foto: Anthony Devlin/PA Wire)

‘n Kunstenaar van Bloemfontein, Marius Jansen van Vuuren, het van Vernon en die Greyton-dierehawe te hore gekom en haar gekontak om te vra vir ’n foto van ’n vark in ’n sittende posisie. Vernon het onmiddellik aan Snortie gedink omdat sy gewoonlik in ’n sittende posisie verkeer weens haar gestremdheid. Sy het toe sonder enige moeite die spesiale varkie van alle kante afgeneem.

Jansen van Vuuren, in samewerking met Alex Rinsler, ’n kunstenaar van Engeland, het op grond van foto’s van Snortie ’n reusebeeldhouwerk van 6 m hoog binne drie weke geskep. Vernon sê die kunswerk se raamwerk is van twee ton staal gemaak met liggies wat aan die binnekant van die raam geplaas is. Die “vel” van die vark bestaan uit 200 m² materiaal met ’n katoenbasis wat pienk gespuitverf is.

Jansen van Vuuren was verantwoordelik vir die ontwerp van die kunswerk terwyl die Suid-Afrikaanse tekenaar, Lehlohonolo Lepheana, die tegniese plan opgetrek het.

Die beeldhouwerk van Snortie in Manchester, Engeland(Foto: Anthony Devlin/PA Wire)

Die beeldhouwerk het tydens die Chinese nuwejaarsviering op die St. Ann-plein in Manchester gepronk. Volgens Vernon is daar ’n sterk Chinese gemeenskap in Manchester en daarom was dit gepas om die Chinese “Jaar van die vark” met dié beeldhouwerk te vier.

Hierdie projek lê Jansen van Vuuren na aan die hart omdat hy self ’n vegetariër is. Hy kon deur middel van sy kunswerk ’n sterk boodskap rondom die bewaring van diere na die wêreld uitstuur.

Vernon vertel opgewonde hoe skenkings van reg oor die wêreld ingestroom het ná die afloop van dié projek. Met die skenkingsgeld het sy vir Snortie ’n spesiale rystoel aangekoop wat eersdaags afgelewer sal word en die varkie se lewe sal vergemaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genoeg ·

Ek het nou 2 varkies met splitbeentjies wat ek grootmaak, het die agterbeentjies ook net met ‘n verbandjie aanmekaar. Vasgemaak en 3 dae later afgehaal en hulle is nou spekvet en gesond. Enetjie was verlam in die agterlyfie en ek het hom met antibiotika en oefeninge gehelp en hy is nou pragtig met ‘n baie mooi persoonlikheid. Ja, hulle het waarlik elkeen sy eie persoonlikheid.

Arnold ·

Brett Murray het ook oitjies beelde van marmer en brons al op uitstalings gehad. Die marmer een weet ek was nou onlangs in die Kaapse waterfront op ‘n kuns uitstalling

Helene ·

Baie bly dat Snortie nou veilig is. Gelukkig is daar nog baie diere-omgee mense daarbuite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.