SA skrywer se jeugverhaal vir Carnegie-medalje benoem

jaco-jacobs-2016-ontvang-2018-11

Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim is pas vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke, benoem. Foto: Verskaf.

Die kinderboekskrywer Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim is pas vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke, benoem.

A Good Day for Climbing Trees is vroeër vanjaar deur Rock the Boat, ’n druknaam van Oneworld Publications, wêreldwyd gepubliseer. Italiaanse vertaalregte is ook intussen verkoop.

Die Carnegie-medalje word al sedert 1936 jaarliks deur die Chartered Institute of Library and Information Professionals (CILIP) toegeken. Vorige wenners sluit wêreldbekende skrywers soos CS Lewis, Neil Gaiman, Terry Pratchett, Sharon Creech en Philip Pullman in.

“In die kinderboekbedryf is die Carnegie-medalje een van die héél grotes,” sê Jacobs. “Bloot om net daarvoor benoem te word, is vir my ’n byna ondenkbare groot eer. Ek kan nie genoeg dankie sê vir my uitgewer by Lapa en my oorsese uitgewer, Oneworld, wat so hard gewerk het om die boek die wêreld in te stuur nie.”

Miemie du Plessis, tans aan die stuur van produkontwikkeling by Lapa, is minder skalks. Háár opmerking aan kollegas was: “Ek het soos ’n tiener tekere gegaan wat die Beatles in lewende lywe gesien het toe ek die nuus gehoor het. Die Carnegie‑medalje is enorm, net so Brits en so groot soos die Beatles.” Du Plessis was Jacobs se uitgewer toe die boek verskyn het.

jaco-jacobs-boomklim-boeke-2018-11-06

Jaco Jacobs se boeke “‘n Goeie dag vir boomklim” en “A Good Day for Climbing Trees”. Foto: Verskaf.

’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

’n Goeie dag vir boomklim was in 2016 die wenner van die kykNET Rapport-prys se filmkategorie, en was een van die wenners van die internasionale In Other Words-vertaalprojek. Filmregte vir die boek is sedertdien aan M-Net toegeken.

In Oktober vanjaar het nog een van Jaco se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee verskyn as A Good Night for Shooting Zombies.

  • ’n Goeie dag vir boomklim is by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa Uitgewers beskikbaar. A Good Day for Climbing Trees word ook in Suid-Afrika versprei en is by goeie winkels, ook bekende aanlyn winkels, te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Wel gedaan! Wonderlik as Suid Afrikaners in die buiteland beloon word vir harde werk en grooot talent! Mag die medalje huis toe kom!
Doe so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.