SA tweeling (18) bak hul pad tot in jou hart

Armand en Juan Potgieter (Foto: Verskaf)

Armand en Juan Potgieter, ’n 18-jarige tweeling van Polokwane in Limpopo, het besluit om ná matriek hul passie te volg deur troukoeke, kolwyntjies, makrolletjies en geleentheidskoeke te bak wat enige soettand se tone sal laat omkrul.

Die tweeling, wat die onderneming Bakery Co. begin het, het ook verlede Vrydag ’n nuwe mylpaal bereik toe hulle hul eie Bakery Co.-winkel oopgemaak het.

Volgens Juan het dit alles begin met hul ouer broer, Janneman, se liefde vir motorfietsritte.

“Ons het altyd saam met Janneman gaan motorfiets ry, maar later agtergekom dit is nie vir ons nie. Toe het ons besluit om by die huis te bly. Maar ons ma het gesê ons kan nie net by die huis bly en niks doen nie, so ons moes haar help bak,” het Juan aan Maroela Media gesê.

“Van daar af het ons my ma altyd gehelp bak, tot sy eendag te besig geraak het by die werk. Ek en Armand was slaggereed om te bak en wou nie langer vir my ma wag om klaar te maak met die werk nie. Ons het toe sommer alles self begin doen en koekies gebak. Daarna het ons video’s op YouTube gekyk oor hoe om koeke te versier en nuwe goed te bak. Ons het regtig maar geleer deur nuwe dinge uit te toets en te probeer.”

(Foto: Verskaf)

Teen die tyd dat die tweeling 10 jaar oud was, het hulle reeds ’n vaste bestelling gehad. Hulle moes koeke en kolwyntjies bak vir ’n vroue-onderklerewinkel.

“Dis eintlik baie snaaks, maar dit het ons baie gehelp. Die onderklerewinkel het weekliks ’n bymekaarkomsessie gehad vir vroue, amper soos ’n koek-en-tee-geleentheid. Ons het toe vrye teuels gekry om te maak wat ons wil. Ons kon lekker ons kreatiwiteit uitleef.”

Juan het gesê amper al die vroue wat die koek-en-tee bygewoon het, het toe óók vir die tweeling gevra om koeke te bak vir hul mans of kinders se verjaardagpartytjies.

Toe die tweeling besig was met matriekeksamen het hul ma gesê hulle moet vir eers nie aandag aan die bakkery gee nie omdat hulle fokus op die eksamen moet wees.

“Ons het dan 04:00 in die oggend opgestaan om koek te bak. Ons het die menger in die wasgoed-kamer gesit sodat ons ma dit nie kon hoor nie. Dan het ons tot 06:00 uur gebak en gemaak asof ons vroeg opstaan om te studeer!” het Juan laggend gesê.

“Dit is regtig vir ons lekker om te bak; dit voel glad nie soos werk nie. Al is ons baie moeg, is ons baie trots op onsself en op mekaar oor als wat ons al bereik het.”

In die Bakery Co.-winkel se openingsnaweek, van 30 Maart tot 1 April, het die tweeling 35 koeke, 140 makrolletjies en 1 700 kolwyntjies wat hulle gebak het, uitverkoop.

Karameldrup-koek (Foto: Verskaf)

“Almal was tot dusver baie gelukkig; ons verkoop elke dag voor 14:00 uit. Ons het nou ook ’n nuwe oond bestel, sodat ons dubbel die hoeveelheid wat ons nou bak, kan maak,” het hy gesê.

Die tweeling wil nie hier ophou nie, en beoog om binne die volgende tien jaar agt franchise-winkels in Suid-Afrika te open.

“Maar ons wil eers die eerste winkel perfek kry voordat ons nog winkels oopmaak. Daar het ook al mense navraag gedoen by ons om ’n franchise by ons te koop,” het Juan gesê.

Van die lys koeke wat Bakery Co. maak, sluit in ’n Nutella Ferrero Rocher-koek, vlakoek, karameldrupkoek, wortelkoek, rooifluweel-makrolletjie, ’n verskeidenheid koekies, en nog baie meer.

Tot dusver lewer Bakery Co. die koeke nog net in Limpopo af omdat hulle nog soek na ’n betroubare vervoermiddel wat die koeke vinnig genoeg kan aflewer. Makrolletjies kan wel landwyd afgelewer word.

Die Bakery Co.-koffiewinkel is net in Savannah Mall in Polokwane geleë. Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert Rossouw ·

Oulike twee kinders. Julle sal nog vêr kom in die lewe. Hou so aan

Pieter ·

Uitstekend doen so voort, Julle gebak lyk fantasties. Hoekom probeer julle nie `n draai op KYKNet maak nie ? Dan kan julle seker wees van sukses.

dink daroor. ·

ins volgende KOEKEDORE OF TEWEL KOKEDOOR wenners… mits hul belangstel om in te skryf vir meer ondervunding tips en groter leergeleenthede soos sjef skool ensv.

Penellope Jones ·

Lyk heerlik en baie mooi!
Voorspoed op jul pad vorentoe!

Wow ·

Dis fantasties! Sulke jong ouens wat presies weet wat hul wil doen! Se bietjie wat is makrolletjies?

Penellope Jones ·

“Macaroons”. (Word gemaak met eierwit, suiker en amandelmeel (of klappermeel)

Oom Ekonoom ·

Dankie Maroela dat julle entrepreneurs soos hierdie aan ons voorstel, dit is jong mense soos hulle wat werk skep en verbruikers soos ons wat hulle bemagtig om die land te bou.

Toeris ·

Oppad wildtuin toe die week was ek bevoorreg genoeg om self daar te stop en die lekkerste koffie en koek vir die pad te kry. Die karamelkoek is so lekker soos dit op die foto lyk! Sal beslis weer daar stop oppad terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.