SA uitvoerende kunste het weer visier op buiteland

Jayden Gerber (Foto: Myburgh Photography)

Die jaarlikse Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste het die afgelope naweek in Rustenburg in Noordwes vir die 21ste agtereenvolgende jaar afgeskop – en dié jaar hoop die kampioenskap om selfs meer as verlede jaar se 180 medaljes huis toe te bring.

Altesaam 2 700 deelnemers sal tot eerskomende Saterdag teen mekaar meeding om uiteindelik as ʼn verteenwoordiger van Suid-Afrika verkies te word wat in Julie vanjaar die land by die Wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste in Los Angeles in Amerika sal verteenwoordig.

Meer as 52 lande neem vanjaar deel aan dié kompetisie – in kunstekringe bekend as die Olimpiese Spele vir die uitvoerende kunste.

Beoordelaars in verskeie kategorieë soos sang, dans, toneelspel, modelwerk en ʼn instrumentale afdeling moet vanjaar om en by 15 000 items beoordeel. Talle bekendes, waaronder die Afrikaanse sangers Lizandra Winter, Suzi Swanepoel en Riaan Grobler, is op vanjaar se beoordelingspaneel.

Tamica Jade Windell (Foto: Myburgh Photography)

Ellen Roux, wat vanjaar vir die 21ste jaar die kompetisie aanbied, sê daar is jaarliks ʼn toename in die aantal Suid-Afrikaanse deelnemers. Roux sê dié kompetisie bied aan plaaslike kunstenaars die geleentheid om internasionale erkenning te verkry.

“Ons land het ongelooflike goeie talent,” vertel sy. “Van ons modelle word internasionale kontrakte aangebied, van ons akteurs wen beurse om aan oorsese universiteite te studeer en van ons dansers gaan maak gereeld ʼn draai op internasionale verhoë. Plaaslike deelnemers staan die kans om blootstelling te verkry in Hollywood, van die deelnemers stap weg met kontantpryse, sommige kry uitnodigings om oudisies af te lê en ander deelnemers kry beurse om te gaan studeer by onder meer die New York Film Academy en die Millennium Dance School in Los Angeles.”

Vanjaar se Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan buiten die oudisies ook ʼn groep Afrikaanse kunstenaars met ʼn spesiale toekenning vereer. Onder dié kunstenaars geld die sangers Kevin Leo, Tobie Jooste, Charné Hugo, Riaan Grobler en die akteurs Deanré Reiners, Germandt Geldenhuys, Juanita de Villiers en Daniah de Villiers.

Die Suid-Afrikaanse span wat vanjaar Los Angeles toe gaan word Saterdag tydens die gala-geleentheid bekend gemaak.

Rochelle Malherbe (Foto: Myburgh Photography)

Ruan Nel (Foto: Myburgh Photography)

Armand Marius Pretorius (Foto: Myburgh Photography)

Timothy Joel Sello (Foto: Myburgh Photography)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.