SA veeartse help oorsese olifant met tandpyn

Prof. Gerhard Steenkamp. Foto: Verskaf

Twee wêreldbekende veeartse verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) het dié week ʼn ingewikkelde tandheelkundige operasie op ’n olifant in Georgië uitgevoer om sy ontsteekte tand te verwyder.

Prof. Gerhard Steenkamp en dr. Adrian Toridffe het die operasie Woensdag by die Tbilisi-dieretuin uitgevoer.

Volgens Steenkamp, wat kursusse in diere-tandheelkunde en maxillo-chirurgie aan UP se fakulteit veeartsenykunde onderrig, het dié dieretuin drie jaar gelede groot hartseer beleef. “Die dieretuin het binne minute oorstroom en ongeveer 300 diere is dood,” het Steenkamp gesê.

“Hulle het tans twee Asiese olifante en ʼn 23-jarige bul genaamd Grand wat vier jaar terug deur die Yerevan-dieretuin in Armenië aan hulle geskenk is.” Grand het tydens die skuif van die Yerevan-dieretuin na die Tbilisi-dieretuin frakture aan albei sy tande opgedoen en sy linkertand is in 2014 verwyder.

Volgens Steenkamp kon die regtertand weens komplikasies nie verwyder word nie en het dit kronies ontsteek geraak. Dit kon daartoe lei dat bakterie die bloedstroom binnegaan wat sy dood kon veroorsaak het.

“Grand se vorige operasie het talle komplikasies gehad. Een daarvan was ʼn uitgerekte hersteltyd en die dieretuin was huiwerig om hom weer kort na die vorige prosedure te opereer.”

Prof. Gerhard Steenkamp en dr. Adrian Toridffe. Foto: Verskaf

Dr. Tordiffe, wat waardevolle ondervinding opgedoen het in die verdowing en immobilisasie van olifante terwyl hy werk by die Pretoriase dieretuin gedoen het, was die perfekte keuse om te help met die operasie op Grand. Steenkamp ontwikkel al sedert 1998 tegnieke om olifanttande te behandel.

Die hele prosedure, van die verdowing tot Grand weer opgestaan het, het vier uur en 15 minute geneem. Die chirurgie het vir net meer as drie ure lank geduur. ʼn Hyskraan is gebruik om die olifant van 3,5 ton te skuif.

“Die verdowing en operasie het volgens plan verloop en almal was verlig toe Grand weer op sy vier bene gestaan het vier uur en 15 minute later. Toe hy die vorige keer verdoof is, het hy eers na 12 ure weer gestaan. Dit het my nederig gemaak toe die hele skare wat die operasie aanskou het, begin hande klap het toe Grand opgestaan het. Dit is duidelik dat die olifant so baie vir die mense van Georgië beteken.”

Volgens Steenkamp was die mediese span “uiters op hul senuwees” aangesien die dwelms wat hulle  gewoonlik gebruik, etorfien, onwettig is en verbied word in Georgië. “Ons moes dwelms gebruik waarmee ons geen ondervinding het nie. Die gevaar van die operasie is om hoofsaaklik seker te maak dat almal wat betrokke is veilig gehou word aangesien ons met ʼn gevaarlike dier werk. Die operasie self is nie gevaarlik nie, net moeilik en fisies uitdagend.”

Foto: Verskaf

Grand is ʼn bekende in Georgië en internasionale verslaggewers het op die dag van die operasie op die dieretuin toegesak. Grand se operasie is ook deur ʼn filmspan van die BBC opgeneem as deel van hul nuwe reeks Big Animal Surgery.

“Die immobilisering van olifante word as vanselfsprekend aanvaar in die suide van Afrika aangesien ons veeartse gereeld ontbied word om die prosedures uit te voer. Om ʼn olifant vir lang tye onder verdowing te hou is nie so algemeen nie en om ondervinding hierin op te doen neem tyd. Wanneer mense gaan kyk na dieretuine elders in die wêreld word olifante nie oor die algemeen verdoof nie.”

Steenkamp en Tordiffe het al wêreldwyd gereis om olifante te behandel, onder meer in Australië, Asië, Afrika en Europa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsa ·

Dis lekker om te lees hoe Suid- Afrikaanse veeartse wêreldwyd erkenning kry vir hul baanbrekerswerk met operasies op olifante en renosters.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.