SA-vulstasie besorg handsak terug aan Belgiese toeris

Michèle Simonis en haar gesin. (Foto: Verskaf)

Michèle Simonis en haar gesin. (Foto: Verskaf)

ʼn Belgiese vrou wat haar handsak met waardevolle items by ʼn Engen 1 Stop-vulstasie in Mosselbaai vergeet het, het ʼn smakie van Suid-Afrikaners se gasvryheid gekry toe dié handsak met behulp van die vulstasies se werknemers aan haar terugbesorg is – al die pad België toe.

Toe Michèle Simonis, wat saam met haar gesin met vakansie in die Wes-Kaap was, besef sy het haar handsak by die vulstasie vergeet, was hulle reeds 200 km weg daarvandaan en het sy geglo sy gaan dié sak nie weer sien nie.

Lynette Josephs, Hazel Matiso and Monique Floors. (Foto: Verskaf)

Lynette Josephs, Hazel Matiso and Monique Floors. (Foto: Verskaf)

“Die werknemers by Engen het egter groot moeite gedoen om te sorg dat die vrou haar handsak terugkry,” het Gavin Smith, kommunikasiebestuurder vir die Engen-groep, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Lynette Josephs, Hazel Matiso en Monique Floors is die werknemers wat op die handsak afgekom het. Hulle het kontak gemaak met Dirk van Niekerk, direkteur van die Engen 1 Stop in Mosselbaai.

“Die sak is daarvandaan aan die seun van ʼn eienaar van ʼn gastehuis op George wat op pad terug huis toe in Duitsland was, toevertrou. Hy het die sak per koerier na Simonis is België gestuur. Dit was dus ʼn spanpoging om die sak weer by Simonis uit te kry.”

Luc Theunissen, Simonis se man, het in sy eerste skrywe aan Van Niekerk sy kommer uitgespreek oor ʼn bril, sy vrou se sleutels en ʼn USB-stokkie met foto’s van die gesin se vakansie in Oudtshoorn saam met hulle twee dogters. “Alles was egter steeds in die sak, selfs die kontant,” het Van Niekerk luidens die mediaverklaring laat hoor.

“Ek is uiters trots op ons werknemers. Hulle het ʼn situasie wat ʼn slegte smaak in die monde van buitelandse toeriste kon laat in ʼn totale oorwinning verander,” het Van Niekerk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Welgedaan ·

Welgedaan dames, mens kry min sulke eerlike mense. Thumbs up vir julle 3 dames.

chris ·

wel gedaan meisies julle is n goeie voorbeeld weskaap bo God sal julle seen vir julle eerlikheid

Sophia ·

Julle is drie pragtige meisies van buite en binne wat iets wat negatief kon wees omgedraai het na iets baaaie positief vir ons land en ook vir jul eie menswees. Ons is soooo trots op julle.

humor ·

Stem saam onder SA omstandighede verdien hulle seker lof, maar behoord dit nie ons algemene alledaagse lewensstyl te wees nie.

Oom Kalahari ·

Hier is nou ‘n bewys van drie dames wat werklik ‘n aanwins vir enige maatskappy is. Hul eerlikheid, opregtheid en integriteit staan uit soos ‘paal.
Hierdie drie dames kan werklik ‘n toekening asook sertifikaat van verdienslikheid van werknemer ontvang. Lynette, Hazel en Monique jul is ‘n trots van julself, jul werkgewer, families, gemeenskappe, Suid-Afrika asook die buiteland.
Dit is vrouens soos jul wat ons nodig het in die Parlement om al die korrupsie daar uit te roei.
Wens jul alle sterkte vorentoe en gaan voort met jul goeie dade en menslike verhoudinge. Bly om soms sulke goeie nuus te kan ontvang en ook ‘n groot dank aan die res van rolspelers wat moontlik gemaak het vir die toeris om haar handsak en waardevolle artikels terug te kan ontvang. “Groot dank aan jul almal en Seeninge”.

Bloudrom ·

In SA is eerlikheid darem n rare verskynsel. Kyk net hoe word hierdie normale optrede opgehemel. Dis darem n plesier om nie daar te woon nie.

Diefie ·

Girls ons is trots op julle. Mag julle vir die hele SA ‘n voorbeeld wees. Maroela stuur asb dit aan Kyknet nuus en die SABC se nuus kantore.

wielie ·

Julle is dierbaar! Ek hoop julle het julle darm n bos blomme gekry vir jul eerikheid.
Maak mens trots, wees geseend in die toekoms

Karolis ·

Positiewe berig, maak die dag sommer beter voel.
Eer aan eerlikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.