SA word tweede land ter wêreld waar tieners beenmurg kan skenk

Suid-Afrikaanse tieners van 16 en 17 jaar sal nou saam met tieners in die Verenigde Koninkryke (VK) geskiedenis maak deur die wêreld se jongste beenmurgskenkers te word.

Onlangse veranderinge in wetgewing en vooruitgang op die gebied van stamseldonasies laat nou registers toe om die ouderdom van skenkers te verlaag. Suid-Afrika is die tweede land na die VK wat dié skuif maak.

Dr. Charlotte Ingram, mediese direkteur van die Suid-Afrikaanse beenmurgregister (SABMR), sê dié skuif is ʼn geskiedkundige oomblik aangesien dit tot gevolg sal hê dat meer lewens gered sal word.

“Oor die algemeen is jonger mense beter skenkers. Navorsing toon dat jonger skenkers se beenmurg verbind word met ʼn beter oorlewingsyfer onder pasiënte na ʼn stamseloorplanting. Dit is ʼn stap in die regte rigting.”

Voorheen moes tieners gewag het tot hulle 18 jaar oud is om by SABMR aan te sluit. Nou kan 16‑ en 17-jariges gewoonweg aansluit. Terwyl dit nie vereis word nie, is dit wel vir SABMR belangrik om die ouers van die tiener ook te betrek om enige vrae te beantwoord of bekommernisse wat hulle het te bespreek.

Tans bestaan 6,8% van die SABMR se register uit 18‑ tot 25-jariges, maar met toenemende bewusmaking oor beenmurgskenking onder jong mense sal hierdie persentasie na verwagting toeneem.

“Studies toon dat generasies WE (14-20) en Z (21-25) baie meer bewus is van hul sosiale verantwoordelikheid en globale kwessies as vorige generasies. Hulle is meer daarop ingestel om kwessies aan te pak en werk daarvan te maak om ʼn verskil te maak.

“Jong mense vandag is dikwels drywers van maatskaplike verandering en ons sien daarna uit om saam met hulle te werk.”

Ingram sê daar is geen beter manier om ʼn ander mens te help as om te help om sy lewe te red nie.

“So baie lewens gaan verlore as die soektog na ʼn gepaste skenker sloer. Terwyl ons reeds 74 000 in ons register het, kom ons dikwels agter dat baie ouer skenkers nie meer stamselle kan skenk nie omdat hulle siektetoestande ontwikkel het.

“Wanneer dit gebeur begin ons die soektog van voor af, wat die proses om ʼn gepaste skenker te vind verleng. Deur skenkings oop te maak vir jonger mense, sal dokters eerste die gesondste skenker kan kies en dit sal die pasiënte se kans om te oorleef drasties verhoog,” sê Ingram.

As jy tussen die ouderdom van 16 en 45 is en jy wil ʼn skenker word, kontak die SABMR by

[email protected] of besoek hul webtuiste hier om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Phillip ·

Dankie MM vir die Berug En Email Aderes Wardeer . Het hulle op Radio Pretoria Fm was hulle ook daar maar daai email werk nie by ons nie Phillip Jessen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.