SA wynkenner oes eretitel in

Die Franse regering het prof. Benoit Divol, ʼn wynmikrobioloog en gekwalifiseerde wynmaker, vereer met ‘n Ridderskap in die Orde vir Landbou. (Foto: Verskaf)

Die Franse regering het prof. Benoit Divol, ʼn wynmikrobioloog en gekwalifiseerde wynmaker, met ʼn seremoniële ridderskap vereer. Die eretitel staan bekend as die Chevalier dans l’Ordre du Mérite Agricole, of Ridderskap in die Orde vir Landbou.

“Die ridderskap is bloot seremonieel van aard. Ek voel egter geëerd omdat dit my werk erken, en spesifiek in verband met my pogings om akademiese skakeling tussen Frankryk en Suid-Afrika te bewerkstellig,” sê hy.

Divol is ʼn medeprofessor in die Departement Wingerd- en Wynkunde en ʼn navorser verbonde aan die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut by die Universiteit Stellenbosch (US).

Hy is in Parys in Frankryk gebore, en het ook daar grootgeword. Divol het in 2004 sy PhD in wynkunde aan die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse verwerf, en in 2010 ʼn DSc by die Universiteit van Bordeaux.

Hy is reeds sedert 2005 aan die US verbonde, nadat hy as nadoktorale navorser by die destydse Instituut vir Wynbiotegnologie aangesluit het. Sedertdien het Divol reeds as voorsitter van die Departement Wingerd- en Wynkunde gedien, en is in 2017 tot medeprofessor bevorder.

Die Orde vir Landbou is die eerste keer in 1883 ingestel. Divol is die enigste persoon met Suid-Afrikaanse bande wat in 2020 dié Franse merietetoekenning ontvang het. Dit erken sy wetenskaplike bydraes en sy suksesvolle pogings om samewerking tussen navorsers in Suid-Afrika en Frankryk op die gebied van wingerd- en wynkunde te bewerkstellig.

Divol is dankbaar oor die verhouding wat hierdeur gebou word.

“Ek glo dit bied uitstekende geleenthede vir die professionele en persoonlike verryking van my studente, en dat die bande wat ek help smee, bydra om die internasionale aansien van die US uit te brei.”

Onder die inisiatiewe wat Divol daargestel het, is navorsingsvennootskappe, interaksie op nagraadse vlak, navorsingsgeleenthede vir studente en wetenskaplikes na albei lande, en gesamentlike PhD-studies tussen die US en die Universiteit van Boergondië, die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse, die Universiteit van Bordeaux en die Universiteit van Montpellier. Divol het ook reeds finansiering vir van sy navorsing vanaf bedryfsvennote in Frankryk ontvang.

Divol se navorsing is toegespits op verskillende giste en ensieme wat gedurende die wynmaakproses betrokke is.

Saccharomyces-gis word veral in die voedsel- en drankbedryf gebruik omdat dit suikers maklik omskakel in koolstofdioksied en alkohol, en terselfdertyd ʼn wye reeks geurkomponente produseer. Saccharomyces cerevisiae-gis word tipies in die fermentasieproses gebruik.

Divol se navorsing fokus egter op ander soorte giste wat nie in die Saccharomyces-groep val nie. Hy bestudeer hoe hulle voedingstowwe gebruik en die komposisie van wyn kan beïnvloed. Saam met sy studente bestudeer Divol ook hoe ander soorte giste op ʼn sellulêre en molekulêre vlak reageer wanneer dit aan druiwesap of wyn blootgestel word. Sy navorsingspan poog om hidrolitiese ensieme en selwandproteïene te identifiseer wat van waarde in die wynmaakproses kan wees. Hulle bekyk ook maniere hoe om nie-Saccharomyces-giste te verbeter deur ander tegnieke buiten genetiese modifikasie te gebruik.

“Die bestudering van nie-Saccharomyces-giste het wêreldwyd maar eers sowat twee dekades gelede begin,” vertel Divol. “Hierdie soorte giste is geneig om nie so goed soos Saccharomyces cerevisiae aangepas te wees om die hele fermentasieproses te oorleef waartydens druiwesap in wyn omgeskakel word nie. Tog bly dit belangrik om hulle te bestudeer omdat hulle ook belangrike eienskappe bevat.”

Hy glo dit kan gebruik word om Saccharomyces-rigtings in die wynmaakproses te ondersteun, en dat die gebruik van hierdie bykomende opsies die geleentheid bied om nuwe wynmaakstyle te ontwikkel wat deur liefhebbers geniet kan word. Die gebruik van nie-Saccharomyces-gisspesies kan ook dalk help om die wynmaakproses meer omgewingsvriendelik te maak, en selfs die gebruik van chemikalieë beperk.

Oor die jare is talle soorte gis reeds gekommersialiseer danksy navorsing wat by die US gedoen is. Divol en sy span verwag dat nog een, wat danksy hul werk geïdentifiseer is, binne die volgende jaar of wat kommersieel vir gebruik deur die bedryf beskikbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.