Sakeplankompetisie: Hoenders wat ‘anders’ is

Renita Fourie en haar man, Chris, en seuntjie, Ardu FOTO: Atterbury Trust

Renita Fourie, haar man, Chris, en hulle seuntjie, Ardu. Foto: Atterbury Trust

Renita Fourie het die spreekwoord ’n boer maak ’n plan letterlik opgeneem toe sy ’n plaas wat ‘gewone’ hoenders in smaaklike, eenvoudige etes verander, op die been gebring het.

Dié Vrystaatse boervrou was in 2014 die wenner van Akademia se sakeplankompetisie vir die beste nuwe besigheid, nadat sy die vorige jaar in die tweede plek geëindig het. Die Atterbury Trust het met haar gesels om meer oor haar onderneming uit te vind.

Fourie het nadat sy haar B.Comm (Regte) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, as rekenmeestersklerk en later as batebestuurder by ’n beleggingsfirma gewerk. Ná sy met haar skoolliefde, Chris Fourie, getroud is, het sy daagliks 160 km heen en weer gependel tussen Bloemfontein en Petrusburg. Dit is eers toe sy swanger raak dat sy by die uitbreiding van die hoenderplaas betrokke geraak het. Sy en haar man het tot in daardie stadium hoofsaaklik met Nguni-beeste en boerbokke geboer.

Die hoenderboerdery staan bekend as Chiren Chix. Chiren Trust, haar ander maatskappy, is in beheer van die grootmaak en slag van die hoenders. Chiren Chix hanteer die bestuur en die waardetoevoeging. Die waardetoevoeging behels die ontbening en vul van die hoenders. Ná die eerste proses word die hoender opgerol, in ’n net gevou en word dan in ’n oondsakkie geplaas.

“Die klant prik slegs die sakkie, plaas die bevrore rol in die oond en so 80 minute later het jy ’n heerlike hoendergereg,” het sy gesê.

Dié projek is in 2013 in alle erns aangepak as deel van ’n groeiprojek met die inrig van hul eie slagpale en was voorheen meer van ’n bysaak by die res van die boerdery. Die idee was om ’n voet in die deur van die hoendermark te kry. Die groeiproses het goed verloop maar by die verkoop het hulle gesukkel omdat klante eerder plaashoenders koop by mense wat hulle jare lank al ondersteun “as by ons groentjies”. Waardetoevoeging was die oplossing om klante te verkry.

Haar meeste klante is tans in Bloemfontein en Kimberley waar sy per bestelling een of twee keer per maand aflewer. Sy het ook ’n weeklikse stalletjie in Bloemfontein en koerier die hoenderrolle na kontakte in Bothaville, Rustenburg en Johannesburg per bestelling. Sy probeer tans haar produk verkoop kry op die Irene Village-mark.

Fourie beplan om met haar prysgeld van R150 000 meer bemarking te doen om ’n paar uitbreidings te voltooi. Sy beplan ook om in die toekoms ’n afleweringsvoertuig, waarin sy regop kan staan, aan te skaf.

Haar droom is om ’n landwye mark vir Chiren Chix-hoenderrolle te skep. Haar oogmerk is minstens 4 000 rolle per maand.

Maar intussen gaan sy en haar gesin eers ʼn welverdiende vakansie in die Kaap hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dina-Lee de Wet ·

Goeiedag
Is daar dalk kontak besonderhede beskikbaar vir Renita Fourie en Chiren Chix?
Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.