SA’ner by Oxford leef letterkunde-droom

Laura Brink. (Foto: verskaf)

“Engels is die taal van my brein, maar Afrikaans bly die taal van my hart.”

Só sê Laura Brink, ’n Suid-Afrikaner wat nie net uitsonderlik goed presteer het in haar post-matriekjaar nie, maar ook tans by die Oxford Universiteit Engelse letterkunde studeer.

Sy het in 2022 haar skoolloopbaan by Reddam House Durbanville voltooi en is by die Cambridge Internasionale Akademiese-toekennings aangewys as die wêreld se toppresteerder in kuns en ontwerp.

As klein dogtertjie het Laura daaroor gedroom om eendag tussendeur die indrukwekkende geboue van die Oxford Universiteit in Engeland te wandel. ’n ‘Romantiese aantrekkingskrag’, soos wat sy dit beskryf.

Tog, met ouderdom en ’n ontwikkelende verwysingsraamwerk, het sy besef dat die prag en praal van dié geboue maar ’n oppervlakkige rede is om haar tuisland te verlaat om elders te studeer. Haar deurslaggewende liefde en passie vir die Engelse letterkunde is wat eindelik haar pad Engeland toe geteer het.

Dié pad was egter nie sonder draaie en uitdagings nie, erken Laura.

“Ek het onder leiding van my hoërskool se Engelse onderwyser by een van sy voormalige dosente by die Universiteit van Kaapstad uitgekom, en dié twee het my wêreld oopgemaak,” vertel sy terwyl sy hul ook bedank vir die bydrae wat hulle tot haar lewe gelewer het.

“Toe ek ’n smakie van letterkunde-klasse op universiteitsvlak kry, het ek geweet dat ek na ’n plek moet gaan wat my gaan toelaat om van dag een af al my energie in hierdie vak te stort en op die hoogste vlak met ander mense met ewe veel passie te verkeer.”

Hoewel haar punte goed genoeg was om haar plek agter die universiteitsbanke van Oxford te bevestig, moes Laura aan verskeie vereistes voldoen om haar uiteindelik toelating tot die universiteit te waarborg. ’n Proses wat sy vandag, ná twee kwartale by Oxford, ten volle verstaan.

Sy het ’n toelatingseksamen geskryf, opstelle ingestuur en twee onderhoude met van haar huidige dosente gehad. Noudat sy weet hoe moeilik die graad is waaraan sy werk, verstaan sy elkeen van dié hekkies.

Toe sy uiteindelik haar aanvaardings-e-pos oopmaak, het sy skoon ’n gilletjie van verligting gegee, erken sy.

Sy is reeds van verlede jaar af in Engeland, en hoewel sy nog nie iemand van Suid-Afrika raakgeloop het nie, beskryf sy die afstand tussen haar en haar tuisland as iets wat haar liefde vir Afrikaans bloot versterk.

“As ek ooit na Afrikaanse mense verlang, luister ek na Koos Kombuis en dan is alles weer reg,” vertel sy.

“Oxford se kwartale is boonop net agt weke lank en propvol harde werk, so daar is nie te veel tyd om te verlang nie – en ek het nog altyd die tuisste in die geselskap van boeke en akademiese gesprekke gevoel.”

Vir leerders wat ook drome oor soortgelyke studies koester, raai sy bloot aan om te doen waarvoor hulle lief is en waarvoor hulle ’n borrelende passie het.

“My beste raad is om jouself goed te leer ken en eerlik te wees oor jou drome, maak nie saak of almal anders dink dat dit onrealisties of buite jou bereik is nie.

“Die bevrediging wat mens voel wanneer jy besig is om jou gunstelingding te doen, of dit nou is om boeke te lees of krieketballe rond te slaan, sal elke opoffering die moeite werd maak – glo net in jouself.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.