SAʼners hardloop ‘London Undergrond’ vir renosterstropery

Lizanne Deane, 'n stasiewerker, Duncan Deane en Jonathan Kershaw. Foto: Facebook via Run The London Underground

(Van links) Sally Wilson, ‘n stasiewerker, Duncan Deane en
Jonathan Kershaw. Foto: Facebook via Run The London Underground

Twee gewese Suid-Afrikaners, wat tans in die buiteland woon, gaan deur Londen se ondergrondse metro, wat bestaan uit 400 km spoorlyne en 270 stasies, hardloop om fondse in te samel vir die stryd teen renosterstropery in Suid-Afrika.

Die “London Underground” is die wêreld se oudste ondergrondse metro, wat sedert 1863 bestaan. Dit is die hart van die stad en vervoer weekliks ongeveer vier miljoen pendelaars.

Duncan Deane, wat oorspronklik van Carletonville kom, maar sedert 2014 in die Verenigde Koninkryk werk en sy drafmaat, Jonathan Kershaw, wat sedert 2011 in die VK  woon en oorspronklik van Benoni is, sê hulle wou op ʼn ongewone manier fondse insamel vir ʼn kwessie wat hulle na aan die hart lê.

“Ons ondersteun die Suid-Afrikaanse liefdadigheidsorganisasie ‘12 Hours’ met die projek, al woon ons in Engeland. Dit is vir ons belangrik om te wys ons wortels is nog in Suid-Afrika geanker en om projekte soos dié te ondersteun,” het Deane gesê.

Hy sê renosterstropery is ʼn kwessie wat hulle na aan die hart lê. “Ons is albei baie lief vir natuur. Ek en my vrou, Lizanne, het die geleentheid gehad om in 2012 ʼn tydjie saam met natuurbewaarders, wat deel is van ʼn renosterbeskermingstaakmag, naby Bela-Bela (Warmbad) deur te bring. Ons het toegang tot ʼn groep renosters gehad en was stomgeslaan oor hoe ongelooflik ʼn renoster is. Dit is vreesaanjaend en onwerklik om te dink hierdie ongelooflike dier is baie naby aan uitsterf,” het hy gesê.

Hy vertel hulle het reeds voorheen projekte bestuur om fondse te probeer insamel vir die stryd teen renosterstropery. “Ons het ons eerste renosterprojek in 2013 by ons troue gehou, waar ons vir al ons gaste ʼn renoster-bandjie gegee het, eerder as die “tipiese” dankie-geskenk. Al daardie geld wat ons bestee het aan die bandjies, het na die “Save The Rhino” projek toe gegaan.”

“Toe ons ‘Run The London Underground’ begin het, het ons eers gedink daaraan om net te hardloop vir die pret daarvan, maar ‘n klomp mense het ons daaraan herhinner daar is ʼn groot Suid-Afrikaanse gemeenskap hier in die UV en ons kan ʼn groot impak maak. Die natuurlike keuse was dus om  ʼn renosterveldtog te begin.”

Hy sê hoewel dit nog nie moontlik is om ondergrond te hardloop nie, is hulle besig met onderhandelings om na-ure in een of twee tonnels te hardloop wanneer die treine dit nie gebruik nie.

Volgens Deane sal dit deelnemers ook die geleentheid bied om Londen te sien, aangesien die mense meestal ondergrond pendel.

“Dit vereis baie beplanning. Ons probeer om ten minste een keer per week op ʼn naweek te hardloop. Indien ons kan, sal ons probeer om ʼn korter roete in die week te hardloop. Ons beplan vyf roetes vooruit en stuur dit aan enigiemand wat wil saam hardloop. In die begin het ons begin by vyf km en soos wat ons fikser raak, hardloop ons na meer stasies. Ons trek nou al by 11km en beplan om Paasnaweek ʼn 21km roete te doen.”

Die drawwers, asook die nie-winsgewende organisasie, 12 Hours, sal die geld gebruik soos wat dit nodig is. “Al die geld gaan direk na 12 Hours, maar ons werk saam met hulle om te besluit hoe die geld gebruik moet word. Ons beplan om die geld spesifiek te gebruik vir die snuffelhonde in die Kruger-wildtuin. Hulle kry soms baie seer in gevegte met stropers en hul welstand kos baie geld.”

Die drawwers is tans besig om Suid-Afrikaanse rugbyspelers in die Verenigde Koninkryk te oorreed om saam met hulle van die roetes te hardloop en derhalwe meer ondersteuning te werf.

Besoek Run the London Underground se Facebook-blad, die webwerf of neem deel aan die inisiatief deur skenkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.