SA’ners vier Kersfees in die buiteland

Melani Young het met Wêreldwyd gesels oor hoe hulle Kersfees in Nederland vier. (Foto: Melanie Young/Wêreldwyd.co.za)

Terwyl die begin van Desember ʼn vreugdevolle tyd is waartydens ons met groot opgewondenheid uitsien na familievakansies by die see of in die bos, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in.

Wêreldwyd, ʼn inisiatief van AfriForum, het in ʼn spesiale Kersfeesuitgawe van sy Kollig-nuusbrief vir Suid-Afrikaners in die buiteland gevra om hulle interessante gewoontes en tradisies, staaltjies en gunsteling-resepte vir hierdie tyd van die jaar te deel.

Kersfees in Frankryk

“Elke jaar teen Kerstyd is die winkels gepak met verskillende soorte Adventkalenders, kinders hou veral van dié met sjokolade. Hulle kan elke dag ʼn sjokolade eet en die dae aftel tot Kersfees. Dit is natuurlik vir hulle baie lekker om vir 25 dae van Desember om 06:00 in die oggend sjokolade te eet.”

Louise Uys gesels om te vertel hoe hulle Kersfees in Frankryk vier. Lees die volledige artikel hier.

Kersfees in die Verenigde Arabiese Emirate

“Hier is dit ʼn mengelmoes van kulture – in die Verenigde Arabiese Emirate sal jy mense van ʼn klomp verskillende lande kry. Maar as geheel, selfs al is dit in ʼn land in die Midde-Ooste, word Kersfees op ʼn baie tradisionele Europese manier gevier.”

Thinus van der Westhuizen gesels om te vertel hoe hulle Kersfees in die Verenigde Arabiese Emirate vier. Lees die volledige artikel hier.

Kersfees in Nederland

“Met die aanbreek van ons eerste Kersseisoen in Nederland was ek so verward met al die vreemde tradisies en ‘sints’, ek het nie geweet wanneer om vir watter sint te sing, te soek of te verwelkom nie. Die fyner detail bly steeds vir my ʼn raaisel. Dit is ʼn mondvol, maar ek deel met julle so ʼn bietjie van wat in Nederland gebeur vanaf November.”

Melani Young gesels oor hoe hulle Kersfees in Nederland vier. Lees die volledige artikel hier.

(Foto: Valentin Petkov/Unsplash)

Kersfees in Switserland

“Natuurlik eet die mense in Switserland die meeste sjokolade in die wêreld en dus is ʼn Adventkalender ʼn moet in ons huis. Ons sal beetlanterns maak met kersies in en in die straat loop en liedjies sing. Daar is oral openbare, opelug ysskaatsbane wat ons gereeld besoek.”

Michelle Vosloo gesels oor hoe hulle Kersfees in Switserland vier. Lees die volledige artikel hier.

Kersfees in Australië

“Aangesien dit somer is wanneer dit Kersfees is, hou mense daarvan om ligter kos te eet. Baie mense hou daarvan om seekos te braai (“barbie”), byvoorbeeld garnale of vars vis van die plaaslike vismark.”

Jeannie van Zyl gesels oor hoe hulle Kersfees in Australië vier. Lees die volledige artikel hier.

Kersfees in Ierland

“ʼn Nuwe land, nuwe mense, nuwe kulture en natuurlik nuwe tradisies. Kersfees is ʼn opwindende tyd van die jaar en dit is selfs meer so wanneer jy in ʼn nuwe land gaan woon. Hier in Ierland neem hulle Kersfees baie ernstig op. Van die winkels begin al in September Kersversierings opsit, maar die meeste mense sal eers hul huise van 1 Desember af begin versier.”

Hananja Liebenberg gesels oor hoe hulle Kersfees in Ierland vier. Lees die volledige artikel hier.

Klik hier om die jongste Kollig-nuusbrief aanlyn te lees. Maak seker jy mis nie die Amarula-malvapoedingresep en nog artikels oor Kersfeesvieringe in die buiteland nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.