Sanger se mylpaal: ‘Vandag een jaar nugter’

Gavin en Bianca Edwards (Foto: Facebook)

Gavin en Bianca Edwards (Foto: Facebook)

Die The Voice-sanger, Gavin Edwards, het in ʼn Facebook-plasing ʼn groot mylpaal met aanhangers gedeel.

Dié sanger, wat in afrigter Bobby van Jaarsveld se span was en tot die toptwee gevorder het, was Maandag een jaar nugter.

Edwards het sy vrou, Bianca, se huldeblyk aan hom op sy Facebook-blad gedeel. Die egpaar het vroeër in Mei aangekondig hulle verwag hul eersteling.

“Vandag is jy een jaar nugter en dis die bewys van wat dit beteken om dapper te wees. Vandag een jaar gelede het jy ʼn keuse gemaak om jou lewe weer in jou eie hande te neem en ophou verskonings te maak vir alles. Jy het besluit om die man te word wat jy nog altyd wou wees,” het sy geskryf.

Haar boodskap het behoorlik aan die hartsnare van aanhangers gepluk.

“Ek wens vandag die braafste persoon wat ek ken, geluk. Dit gaan oor baie meer as om net sonder alkohol te wees – dit gaan daaroor om jou volle potensiaal te bereik; dit gaan oor jou lewe en om die persoon te wees wat jy moet wees.

“Dankie, Here, dat U hierdie saadjie in sy hart geplant het en dat hy die krag gekry het om dit deur te voer.”

Gavin het ook op sy Facebook-blad geskryf dat sy vrou volgende week ook een jaar sonder alkohol is, omdat sy saam met hom die pad gestap het.

“Hier is op die tweede jaar! Moet nooit bang wees om te skryf oor iets of iemand vir wie jy lief is nie. Sê dit vir die wêreld. Ek leer elke dag om minder bang te wees om te sê wat in my hart aangaan,” het die sanger geskryf.

Die sanger is op 27 Augustus en 3 September by die Gospel Skouspel te sien. Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

Hy is ook by Innieskuur te sien op 5 September.

Besoek ook sy Facebook-blad en webwerf vir meer inligting oor optredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa ·

WONDERLIK! Baie seën vorentoe. Dis nie maklik om by jou goeie besluit te hou nie – dus bewonder ek jou deursettingsvermoë baie.

Johan ·

Veels Geluk. Ek was vier jaar droog toe val ek, sterkte Gavin en Bianca (Day by Day).
Trots op julle span pooging.

Leeutjie ·

Gavin jy is ‘n rolmodel vir almal. My eie seun beskou jou as ‘n yster en in ons harte was jy nommer een met “The Voice” ook!!!

Dr B ·

Die beste nuusberig wat ek nóg gelees het. Sal uitkyk om jou te ondersteun. Dis nou ‘n held (en heldin).

Joan Smith ·

Julle kon nie ‘n beter keuse gemaak het nie. Geluk en baie sterkte. Loop net die pad saam met Hom en julle sal nooit spyt wees nie. Drinkers het geen aandeel in die koninkryk nie. 1 kor. 6

N ·

Dit is wonderlik Gavin. Jy is n “inspiration” vir ander. Geluk en als van die bester vir jou, jou vroutjie en julle baba wat oppad is!

Natasha Esterhuizen ·

Sjoe, dit is fantasties, baie geluk Gavin! Jy verdien elke bietjie geluk wat na jou kant toe kom. Jy is n inspirasie vir baie ander mense. Jy was awesome op “The Voice” en ek het van die begin af vir jou gestem. Ek is bly vir jou en jou familie. All beste seeninge vorentoe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.