Sanparke-veldwagter vereer vir renosterbewaring  

Die Krugerwildtuin se lugvleuel is vanjaar as die beste bewaringspraktisyn aangewys. Hulle ondersteun, beskerm en bewaar bedreigde spesies soos renosters. (Foto: Krugerwildtuin/Twitter.)

Sanparke se personeel het talle pryse vir hulle bewaringswerk op vanjaar se toekenningsgeleentheid van die Rhino Conservation Awards gewen.

Die geleentheid is Vrydag op Internasionale Veldwagtersdag in samewerking met die Veldwagtersvereniging van Afrika aangebied. Mense en organisasies wat hulle daarvoor beywer om die volhoubaarheid van bewaringspogings in Afrika te verhoog word by dié geleentheid vereer. Prins Albert II van Monaco is die beskermheer van dié pryse vir renosterbewaring.

Die Krugerwildtuin se lugvleuel is vanjaar as die beste bewaringspraktisyn aangewys.

“Hierdie toegewyde span professionele mense werk onverpoosd om veldwagters, veeartse en navorsers te ondersteun in die beskerming, bewaring en monitering van bedreigde spesies in die Krugerwildtuin en ander bewaringsgebiede,” het die beoordelaars opgemerk.

Die vlieëniers en hulle ondersteuningspersoneel is ook aangeprys vir die belangrike rol wat hulle in teenstropingsuksesse in dié omgewing speel.

Don English, ʼn veldwagter van Sanparke se Maroela Suid-streek, is aangewys as die beste veldwagter. English is onder meer vir sy leierskap aangeprys. Hy en sy span het ʼn aansienlike daling in renosterstropery op ʼn jaargrondslag in die Krugerwildtuin se intensiewe beskermingsone help bewerkstelling.

Albert Smith, nog ʼn Sanparke-veldwagter, het die derde plek in hierdie kategorie behaal.

Sanparke se ondersoekspan vir omgewingsmisdade het die tweede prys ontvang in die afdeling vir beste ondersteuner in die bewaringsbedryf.

“Ons is besonder trots op ons toegewyde veldwagters en personeel. Dit is vir my ʼn eer om hierdie mense my kollegas en vriende te noem,” het Fundisile Mketeni, Sanparke se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons waardeer julle werk en bedank julle vir jul bydraes,” het hy gesê. “Hou aan om die goeie stryd te stry en weet ons ondersteun julle ten volle.”

Mketeni het ook hulde gebring aan die veldwagters wat hulle lewens verloor het in ʼn poging om Suid-Afrika se natuurerfenis te beskerm.

Vasteland se beste veldwagters

Samuel Loware van die Uganda-wildowerheid het die prys vir die beste veldwagter in die veld gekry.

Loware is vereer vir sy doeltreffende monitering en dataversamelings-vaardighede wat ʼn beduidende invloed op die toename in kampeelperd- en leeubevolking in die Kidepo-vallei Nasionale Park gemaak het. Hy is ook verantwoordelik vir habitatbeoordeling en het gehelp om renosters in Kidepo terug te bring terwyl hy ook betrokke is by die verskuiwing van wild om sleutelspesies te help bewaar.

Lynne Taylor van die Tashinga-insiatief in Zimbabwe is as die beste bewaringsondersteuner aangewys. Die inisiatief help om die natuurlewe in die Zambezi-vallei te beskerm en werk saam met Zimbabwe se parke en wildlewe-owerheid.

Die beoordelaars het Taylor geloof vir haar geteikende inisiatiewe wat veldwagters help om effektief te funksioneer sodat hulle deurlopende beskerming aan die bedreigde spesies in Zimbabwe kan bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.