Schweizer-grafte skitterblink danksy vrou se onderneming

Madelein Deale behandel die houtkruise met olie. (Foto: Verskaf)

Madelein Deale, ʼn 30-jarige boorling van Schweizer-Reneke in Noordwes, het sowat drie maande gelede die eerste keer sedert haar pa se dood moed gehad om ʼn draai by sy graf te maak.

Madelein se pa is in Oktober verlede jaar dood en in Schweizer-Reneke se begraafplaas begrawe. Dit was egter vir haar moeilik en sy wou vir lank nie haar pa se graf besoek nie.

“Ek was skrikkerig om soontoe te gaan, want ʼn mens weet nie hoe veilig dit is nie. My man het toe aangebied om saam met my te gaan,” sê sy.

Daar aangekom het Madelein besef veiligheid is nie die grootste bron van kommer nie, maar eerder die toestand waarin die begraafplaas was. Die grafte was oorgroei met bossies en onkruid, rommel was oral gestrooi en die res was vervalle.

“Ons kon nie destyds ʼn grafsteen vir my pa se graf laat maak nie; so dit was moeilik om syne uit te ken. My man het toe die graf opgespoor en tot ons albei se skok het ʼn bakkie sommer bo-op die plek waar my pa begrawe is, parkeer,” onthou Madelein.

Sy het besef dit is tyd dat iemand eienaarskap neem en ʼn plan beraam om die begraafplaas reg te ruk. Madelein sê die gebrek aan instandhouding van grafte het haar behoefte om ekstra inkomste te genereer soos ʼn handskoen gepas.

“Ek het toe al ʼn hele ruk gewonder hoe ʼn mens in ʼn plattelandse dorp soos Schweizer ekstra geld kan verdien. Ek wou nie iets begin wat reeds bestaan nie,” vertel sy.

Madelein het voelers na die gemeenskap en op WhatsApp uitgesteek en gevra of mense sou belangstel in ʼn skoonmaakdiens vir die begraafplaas. Sy sê die reaksie was oorweldigend en so het Madelein se onderneming sommer vinnig aan die gang gekom.

Vir R100 per maand maak sy en haar werker drie keer ʼn maand die grafte skoon. Hulle skoffel om die graf, was en politoer die grafstene en vir ʼn bykomende bedrag kan blomme of plante op die graf gesit word.

“Dit is vir my ongelooflik lekker om hierdie namens ander mense te kan doen. Ek neem voor die tyd foto’s en sodra ons klaar is, neem ek weer foto’s. Dan stuur ek dit vir die geliefdes om te wys hoe die graf nou lyk.

“Mense wat ver is of nie self by die graf kan uitkom nie, is ontsettend dankbaar vir die diens. Baie van hulle sê dit is gerusstellend om te weet dat daar nou meer gereeld iemand is wat hier en daar na die begraafplaas omsien,” vertel sy.

Madelein se skoonmaakdiens het met 28 grafte begin en sy sien deesdae na 43 grafte om. Sy sê die onderneming is klein en die wins nie enorm nie, maar dit stop darem ʼn paar gate toe.

Vir meer inligting oor Madelein se skoonmaakdiens, besoek haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

wat ‘n pragtige gebaar, baie dankie madelein vir jou as “mens” om na die grafte om te sien

Driekus ·

Dis ‘n baie goeie gebaar. R100 ‘n maand is darem maar spot goedkoop. Ek sou dink die mense sal uit hul eie meer aanbied vir so ‘n diens. Dalk R100 per keer wat dit skoon gemaak word klink vir my nogsteeds billik. ‘n Mens se afgestorwenes is tog van onskatlike waarde…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.