Sê dit anders

vintage-1830402_640Woorde is ons hele bestaan. Een foto is ʼn duisend woorde werd, daarom is woorde so belangrik, skryf Ronéll van Rooyen.

Ons kan nie na iets kyk sonder dat woorde in ons gedagtes opkom nie. Die mooiste sonsondergang vul ons gedagtes met verwondering en woorde spoel deur ons gedagtes wat die kleure beskryf en die ervaring van die oomblik wat ons inneem met ons hele wese en al ons sintuie op daardie oomblik. Soms dink ons ons is sprakeloos in ʼn oomblik, maar selfs sonder om woorde te vorm gee ons gedagtes woorde aan die oomblik waaraan ons dalk eers later werklik terugdink.

Net soos die oomblikke van woordelose verwondering is daar oomblikke van hartseer, vernedering en verdriet. In sulke oomblikke vorm ons gedagtes die woorde in ons onderbewussyn, maar dalk nie dadelik in ons bewussyn nie. Stukkies stukkende menswees word soms in woorde en woede uitgebring, juis omdat daar nie woorde is vir die werklike seer nie.

In die huwelik en in die huis kom daar baie sulke oomblikke. Tye van verwondering, liefde, opgewondenheid, en sommer net tye van lekker lag. Mense gee maklik uiting aan sulke emosies en vorm maklik woorde daarvoor. Maar in oomblikke van gebrokenheid is daar soms nie woorde vir die koudheid van die naakte seer nie.

Dit is goed as ons ʼn paar dinge oor kommunikasie kan aanleer vir ʼn gesonde huwelik. Man en vrou moet leer om mekaar te bestudeer soos toe hulle mekaar leer ken het. Die trekkie van pyn om die mond, die sweempie seerkry in die oë, die spiertjie wat spring van irritasie in die wang, die vinnige blik van waardering. Wanneer man en vrou mekaar deur en deur leer ken, sal hulle leer wanneer die regte tyd vir sekere gesprekke is.

Dit maak nie saak watter tipe persoonlikheid jy het nie, woorde bly deel van jou bestaan. Hoe jy dit gaan hoor en hoe jy dit gaan sê, is wat ʼn ewige rimpeleffek gaan hê. Woorde het krag, sê die Bybel, en daarom moet ons vinnig wees om te luister en stadig om te praat en stadig om kwaad te word.

Ons kommunikeer soms informatief, soms persoonlik en soms emosioneel. Informatief is die daaglikse reëlings en gesinsinformasie en meestal gaan dit vinnig en glad verby. Wanneer ons persoonlike woorde begin kommunikeer, sal die emosionele luisterraar dit met ʼn emosionele oor opneem en dis wanneer die gekraakte glas soms stukkend breek.

Hoe moet ons maak dat woorde ʼn asemrowende sonsondergang bly en ʼn oomblik van ekstase agterlaat by ons geliefde wat daarna luister? Woorde wat mense sal onthou en eendag ons mee sal beskryf? Woorde wat die Here sal kan uitspreek oor ons as goeie en getroue ware kinders van Hom?

Ons kan begin deur dit anders te sê. Wanneer ons gefrustreerd voel, kan ons iewers eers die stres van die oomblik laat afkoel en iewers alleen net stil raak. In die stilte sal ons onderbewussyn aan die probleem begin werk en sal ons nugter daaroor kan dink. In stilwees en glo lê soveel wysheid. Wanneer ons dan met ons huweliksmaat kommunikeer, sal ons die wysheid van Bo kry om dit anders te sê as in daardie oomblik van stres.

Ons kan ook woorde van aanval soos “jy en jou” vervang met sagter woorde soos “ek voel / ek dink / dit voel vir my asof dit”. Wanneer jy uit jou gevoel praat, voel jou maat nie beskuldig nie, maar voel dit asof daar ‘n klein venstertjie in jou hart oopgaan om in te kyk. Sulke woorde verander die spies in ʼn oomblik van nabyheid.

Ons kan die probleem as ʼn aparte kussing neersit en sê dat ons oor die probleem gaan praat nie oor mekaar se optrede nie. Dit veroorsaak ʼn span in stede van ‘n wedstryd tussen man en vrou.

Ons moet altyd vir die geskikte private oomblik wag om kalm te gesels. Kalmte is die musiek van die siel. En die heel belangrikste woorde wat ons as huweliksmaats en as ouers kan sê is “Ek is lief vir jou en ek is opreg jammer.” Laat die woorde van ons mond en die oordenkinge van ons harte altyd skoon en rein wees.

Sê dit van vandag af … anders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.