Sê saam dankie vir gesondheidwerker-helde

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit het gesê gesondheidwerkers verdien dus SA se buitengewone steun. (Foto: Solidariteit/Twitter)

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand het as eerbetoon vir gesondheidswerkers op Maandag 1 Februarie ʼn groot wit lint van 180 meter om Unitas Hospitaal in Centurion gespan as simbool van dankbaarheid teenoor die land se gesondheidswerkers.

“Dit is ʼn ongelooflike eer om buite ʼn hospitaal te kan staan en ons gesondheidswerkers te kan vereer met die wete dat daar tans binne-in hierdie gebou en reg oor die land heldedade plaasvind om mense se lewens te red,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê terwyl hy ook sy dankie-boodskap aan die gesondheidswerkers geskryf het vir hul krag, moed en opoffering tydens die Covid-19-pandemie.

Hierdie projek is deel van die #Witstrik-inisiatief wat saam met Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur is en waardeur die publiek landswyd erkenning kan gee aan elke instansie en praktyk wat die gemeenskap gedurende die Covid-19-pandemie dra. Alle mediese personeel en almal wat hoop gesaai het en dit steeds doen, word ook hierby ingesluit.

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand het uit eerbetoon vir gesondheidswerkers Maandag ʼn wit lint om die Unitas-hospitaal in Centurion gespan. (Foto: Solidariteit/Twitter)

Die stryd teen Covid-19 duur steeds voort, en daarom wil Solidariteit aan elke gesondheidswerker erkenning gee en hulle eer. “Gesondheidswerkers is die hedendaagse helde van Suid-Afrika,” voeg Hermann by. “Hulle werk ongelooflike ure onder moeilike omstandighede en word buite verhouding aan die virus blootgestel. Hulle verdien dus ons buitengewone steun. Ons wil dankie sê aan elkeen wat ten spyte van hierdie pandemie elke dag hul gesinne verlaat om na ons s’n om te sien.”

Jy kan ook ʼn boodskap van waardering aan alle dokters, verpleegsters en ondersteunende personeel op die wit lint gaan skryf. Indien jy nie in die omgewing bly nie, gaan skryf gerus ʼn boodskap van waardering op die webblad sodat Solidariteit dit namens jou op die lint kan gaan skryf.

Solidariteit sê dankie vir #OnsHelde:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Hierdie pandemie het vir my geleer dat die mense wat dikwels die minste geld kry, se harte nog reg is.
Ek wil dankie sê aan elke nood diens werker. Mense wat, terwyl die hele land in hul huise ingeperk was, elke dag op “straat” was om lewens te beskerm. Ja tot die Polisie, wat die onsinnige regulasies moes afdwing. Onthou asb dat hulle nie die wette maak nie, maar aangestel word om dit af te dwing, al dink hulle ook dis onsinnig.

Die vrot appels is daar ook, maar in elke beroep is hulle.

Weereens dankie julle, 3 van my vriende se lewens is deur julle gered!!

Androclus ·

Dis waar ek stem met jou saam,daar’s so baie van ons wat nie die klein dingetjies in die lewe wat saak maak sien nie,weereens dis waar wat jy skryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.