Seevakansie verruim wêreld vir dié kinders

Chrisna en Rolindi Devenish. Foto: Verskaf

Rolindi (links) en Chrisna Devenish. Foto: Verskaf

Twee sussies van Pretoria, wat ook alumni is van die Atterbury-trust, het onlangs geloof in die mensdom herstel toe hulle 18 behoeftige kinders op ʼn droomvakansie geneem het.

Chrisna en Rolindi Devenish is al ’n paar jaar lank betrokke by die nie-winsgewende organisasie Vastfontein Community Transformation waar Chrisna gereeld vrywillig as arbeidsterapeut werk. Die twee het ʼn wegbreekvakansie vir die kinders gereël nadat hulle gesien het dat die kinders wat permanent in pleegsorg by die fasiliteit, nie baie geleenthede het om uit hul onmiddellike omgewing weg te kom nie. Met behulp van borge het hulle ʼn seevakansie vir 18 kinders gereël.

“As arbeidsterapeut werk ek elke dag met kinders en dis wonderlik om te hoor hoe hulle goed beleef, wat hulle van die wêreld maak en wat op hulle jong hartjies ʼn indruk maak. Ons was so bevoorreg om as kinders elke Desembervakansie by die see te kon deurbring, en ons wou Vastfontein se kinders ook sulke herinneringe gee. Toe ons dit met die bestuur bespreek, was ons verbaas om te hoor die Here het lankal hierdie droom ook in hulle harte geplant. Die vakansie kom dus regtig uit gehoorsaamheid aan sy opdrag in geloof dat Hy sou voorsien,” vertel Chrisna.

Hulle sê die beplanning vir die projek was die grootste uitdaging. “Daar is gesoek na geskikte kampterreine. Toe stel ons die begroting op, en besef gou dat selfs basiese goed soos swemklere, plakkies en slaapsakke ook nodig was, want hierdie kinders het nog nooit buite Vastfontein oornag nie. Die beplanning het voortgeduur tot ons die kinders ná die vakansie gegroet het. Ons is selfs nou besig om te beplan aan die reünie vir die kinders, waar ons weer gaan stokbrood maak, na foto’s kyk en swem-medaljes uitdeel,” sê Chrisna.

Die uitstappie na die see het verskeie hoogtepunte gehad. “Die uitstappie na Ushaka Marine World, en ook die een na CrocWorld waar die kinders die geleentheid gekry het om aan slange en klein krokodilletjies te vat, was ʼn hoogtepunt. Ons wou vir hulle alles gee wat ons self as kinders ervaar het en danksy so baie skenkings kon ons dit alles doen. Baie van die kinders het nog nooit voorheen geswem nie, maar die swembad het vinnig die hoogtepunt van alles geword,” vertel Chrisna en Rolindi.

Chrisna sê hoewel hulle iets spesiaal vir die kinders wou doen, voel hulle of hulle ʼn spesiale geskenk ontvang het. “Ons het hierdie vakansie gereël om hierdie kosbare kinders te bederf, maar aan die einde van die week was dit andersom – met ons wat geseën is en opnuut aan God se voorsiening herinner is. Elkeen van hierdie kinders is ʼn wonderwerk, so byvoorbeeld die meisietjie wat ʼn maand tevore by die dood se deur gestaan het in die hospitaal. Sy het ons elke dag op die vakansie verstom met die entoesiasme en vreesloosheid waarmee sy elke avontuur aangepak het. Sy het vir niks teruggedeins nie en ons opnuut gewys dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee. Hierdie vakansie het ons almal verander. Nooit weer sal ons skuil agter die verskoning dat daar nie tyd of geld is nie. Vir God is alles moontlik,” sê sy.

Hulle wil ook graag weer die geleentheid kry om so iets vir kinders te doen. “Ons het reeds ʼn nuwe wenslysie opgestel van ervarings en belewenisse wat ons hulle graag wil gee. Dit strek van ʼn wildrit waar hulle olifante, leeus en renosters van naby kan beskou, tot ʼn naweek in Warmbad en ʼn vlug Kaap toe.”

Hulle koester groot drome vir die kinders van Vastfontein. “Buiten vir nog vakansie-herinneringe en bederftye met groot vreugde, weet ons ook dat die realiteit van skoolgeld, kos, klere en mediese onkostes ʼn daaglikse uitdaging vir Vastfontein is. Daarom is ons droom vir 2016 ʼn borg vir elke kind, vir elke maand, vir elke uitgawe.

“Ons hoop ook dat hierdie vakansie die begin sal wees van groter drome in hierdie kinders se harte. Noudat hulle ʼn stukkie gesien het van die groter wêreld, dat hulle ook groter drome vir hulself in hulle harte sal begin koester. Om nie net aan hulself te dink as ʼn pleegsorg-kind met ʼn gebroke verlede nie, maar as iemand wat eendag ʼn skubaduiker kan word as hy sou wou.”

As jy meer meer wil uitvind of wil betrokke raak by Vastfontein, kan jy direk kontak maak met Rolindi Devenish by 079 694 6104 of per e-pos by [email protected], of Chrisna Devenish  by 082 3184854 of per e-pos by [email protected]. Vir meer inligting oor Vastfontein Community Transformation, besoek hul webwerf of Facebook blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Mag jul al die geluk in die lewe hervaar… mag jul goeie dade raak gesien word.. en mag jul oorvloed van borge ontvang.. vir die goeie werk wat jul verig, en ook al die liefde wat jul aan die minder bevooregte kinders bewys” God sien als raak, en Hy sal jul Bless met nog meer drome…borge en oorvloed van lewe. Well Done met jul goeie werk, en goeie Harte.

Acca ·

Ons het self verlede jaar die voorreg gehad as om Reitz Lions groep 38 kinders vir n week see toe te neem en was dit ‘n absolute voorreg om die kinders so te bederf. Daar is verskeie kinders wat nog nooit die see gesien het nie en het ons met verskeie borge die week vir hulle moontlik gemaak. Hulle het elke aand om kampvure gekuier en het die kinders so diep in ons harte gekruip. Wat ‘n voorreg . Dit was ons tweede vakansie en is ons reeds besig om te beplan vir ‘n moontlike 3de vakansie. Ons eerste vakansie het die kinders die voorreg gehad om met die trein Durban toe te ry en na ‘n week weer met die trein terg te kom.

Baie sterkte vir julle met julle reëlings en hou aan met die goeie werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.