Seminaar plaas brein se leerproses onder die loep

Argieffoto (Foto: goconqr.com)

Een ding wat kinders beslis nie tuis kan laat as hulle ʼn klas bywoon nie is hul breine.

As jy so daaraan dink sal jy verstaan dat talle top-skole in die wêreld deesdae al meer begin belangstel in opvoedkundige neurowetenskappe, ook bekend as “mind brain education” (MBE). Dit word ook brein-gebaseerde leer of die wetenskap van leer genoem en verwys na onderrigmetodes asook die ontwerp van lesse en skoolprogramme wat geskoei is op die jongste wetenskaplike navorsing oor hoe die brein kennis verwerf.

“Daar is al baie planne vir die onderwys beraam, maar die een fundamentele vraag wat nooit gevra word nie, is hoe werk die proses van verstaan en leer nou eintlik?” sê dr. Lieb Liebenberg, uitvoerende hoof van ITSI, ʼn e-leerverskaffer wat die onderrig- en leerervaring vir leerders sowel as onderwysers vereenvoudig.

Volgens hom het daar heelwat nuwe navorsing oor neurowetenskappe en die werking van die brein in die afgelope 20 jaar aan die lig gekom, maar baie van die nuwe inligting het ongelukkig nog nie neerslag in die manier waarop mense klasgee gevind nie.

“Daar is soveel mites oor die brein en hoe ons leer wat eenvoudig steeds net aanvaar word deur ouers en onderwysers, en gevolglik kinders. Een van hierdie mites is dat die brein op ʼn sekere ouderdom ophou groei, wat beteken dat sy kapasiteit vasgestel word.

“Baie mense glo ook steeds dat ons net 10% van ons brein gebruik en dat mense verdeel kan word in twee groepe waar die linker- of regterbrein dominant is.”

Liebenberg sê nóg ʼn mite waaraan talle mense vasklou is dat jy bepaalde leerstyl het. “Mense sal met groot trots verduidelik dat hulle kinders ouditiewe, visuele of kinestetiese leerders is. Die jongste navorsing het egter bevind dat jou voorkeur in ʼn leerstyl nie noodwendig beteken jy leer beter nie – eintlik het dit geen bepaalde invloed nie. Dit is eintlik veel belangriker om te bepaal wat is die beste medium waarin werk oorgedra kan word sodat leerders en studente dit beter kan verstaan.”

ITSI wil veral onderwysers help om hierdie mites oor die brein en die manier waarop ʼn mens leer die nek om te draai en hulle toe te rus met die jongste navorsing hieroor.

ʼn Praktiese seminaar wat oor tee dae strek oor opvoedkundige neurowetenskappe word binnekort vir die eerste keer in Afrika op 23 en 24 Mei by Emperor’s Palace in Kempton Park aangebied. Glenn Whitman en dr. Ian Kelleher, bekroonde internasionale skrywers van die boek Neuroteach: Brain Science and the Future of Education sal die sprekers by dié geleentheid wees.

Volgens Kelleher is talle onderwysers nie bewus van wat die jongste navorsing sê oor hoe die brein op die kort en lang termyn inligting leer, filter, konsolideer en toepas nie. “Ons het die boek geskryf om die probleem op te los en om onderwysers te help om die jongste opvoedkundige neurowetenskapnavorsing in die ontwerp van hul skole en klaskamers te gebruik.”

Liebenberg sê hy wil hê onderwysers moet ná die seminaar ʼn plan hê van goed wat hulle onmiddellik in die klas kan toepas om die leerervaring te verbeter sonder om alles oor te doen. “Ek weet onderwysers is reeds onder druk en hierdie sal nie vreeslike ekstra werk vir hulle behels nie, maar dit gaan leerders help om hulle werk beter te verstaan en te leer.”

Hy sê daar is ongelukkig nie ʼn kortpad om leerders in kritiese en kreatiewe denkers te omskep nie. “ʼn Mens moet eers die fondasie goed lê voordat jy by die ontwikkeling van werklike kritiese en kreatiewe denkers kan uitkom. Dit is nie meer mode om jou tafels te leer nie, maar ons het telkens gesien hoe meer ʼn kind weet hoe makliker is dit vir hom om krities met daardie inligting om te gaan.”

Liebenberg sê die seminaar poog om onderwysers en dosente se manier van onderrig vir altyd te verander. “Ek sien die toekoms van klaskamers as klein laboratoriums waar onderwysers en leerders saam die wêreld en hulle leerwerk kan verken. Dit kan ʼn plek word waar leerders werklik meegevoer kan word deur die leeraktiwiteit waarmee hulle besig is sodat hulle dit ten beste kan verstaan.”

  • Afrika se eerste MBE-seminaar vind op 23 en 24 Mei by Emperor’s Palace in Kempton Park plaas. Die seminaar word deur die Suid-Afrikaanse raad vir opvoeders (SACE) onderskryf en onderwysers wat dit bywoon sal 15 voorgesette professionele ontwikkeling (CPTD)- punte ontvang. Vir meer inligting oor die agenda en pryse, en om jou sitplek te bespreek, besoek die ITSI-webwerf.
  • Luister na Esté Meyer Jansen se gesprek met dr. Lieb Liebenberg, uitvoerende hoof van ITSI, boaan hierdie berig. Liebenberg vertel meer oor van die mites wat bestaan oor die brein en die leerproses, asook hoe onderwysers en dosente die jongste navorsing oor neurowetenskappe kan gebruik. Hy verduidelik ook hoe hy die toekoms van die klaskamer sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.