Senior burgers met groen vingers bemagtig hulself

Die senior burgers Johan Pieters, Cornelia Kuilder, Hannie Bezuidenhout, Mariana Kriel (Helpende Hand) en Johan Lesley (Foto: Verskaf)

Meer as 30 senior burgers van Pretoria-Wes het Donderdag die opbrengs van hulle harde werk geoes nadat hulle vroeër vanjaar tuin aangelê het as deel van ʼn bemagtigingsprogram van Helpende Hand en AfriForum.

Johan Lesley is een van die vlytige inwoners van die Filedelfia Ark-tehuis wat die afgelope paar weke hard gewerk het om seker te maak dat die groente versorg is.

Dié groentetuin spog onder meer met eiervrug, spinasie, groenbone, tamaties en selfs ʼn groot hoeveelheid koolkoppe.

“Dit is egter slegs die eerste fase van die groentetuin en die plan is om die tuin aansienlik uit te brei vanuit die 320 m² wat dit tans beslaan,” sê Marlien van der Westhuizen, Helpende Hand-skakelbeampte. “Die stuk grond van sowat twee hektaar sal genoeg groente kan lewer om die inwoners van ʼn gesonde maaltyd te voorsien en die groente wat oorbly, sal by ʼn padstal op Van der Hoffweg verkoop word.”

Lesley sê die projek se sukses lê in die genade wat hulle van Bo af kry. “Dis die Here wat dit laat reën en die Here wat hierdie groente laat groei,” vertel Lesley. “Ek is nou op soek na wintergewasse soos uie, knoffel, aartappels en rape. Dis ʼn groot werk om die tuin aan die gang te hou, maar ek sien kans daarvoor.”

Johan Lesley werk in die groentetuin (Foto: Verskaf)

Die AfriForum-tak in Centurion het die werk bietjie makliker gemaak deur ʼn besproeiingstelsel te installeer om seker te maak dat die groente genoeg water kry.

Volgens Mariana Kriel, Helpende Hand se streeksverteenwoordiger, is al die groente organies en sal dit verseker dat almal by die tehuis ʼn gesonde maaltyd inkry, maar die werklike “wonderwerk” is die hoeveelheid tyd en energie wat die inwoners in die tuin insit.

Die tehuis vorm deel van die Filadelfia Ark-sorgsentrum wat ook in Pretoria-Wes geleë is. Filadelfia Ark-tehuis huisves meer as 400 behoeftige mense, onder wie sowat 150 kinders.

Om vir Lesley te help deur skenkings van saad en plantjies, maak kontak met Mariana Kriel by 084 952 5837 of rig ʼn e-pos aan haar by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Mooi so, Ek is verskriklik trots op julle.

Gedurende die naweek gaan ek na die padstal toe ry en aankope doen.

Doen so voort!

Jan Jooste ·

Stem saam met Anton: baie geluk met jul werk. Die kritiese component van help mekaar is help jouself. Deurdat Lesley en ander hul eie hande gebruik om hulself te help – kan ander se hulp sinvol ontvang en benut word. Voorspoed.

Elizabeth ·

Pragtige voorbeeld wat hier gestel word, sal baie beslis gaan ondersteun. Net ñ voorstel aan die publiek, indien jy hulle groente gaan koop, skenk sommer ñ pakkie groente saad ook. Ek sal baie beslis dit doen

Louis C Prinsloo ·

Dis wonderlik en watter goeie voorbeeld van goeie/groen samewerking

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.