Senwes-kossambreel bring verligting

Gemeenskapsrolspelers soos plaaslike sakekamers, welsynsorganisasies en bestaande voedselverspreidingsnetwerke word gebruik om die skenkings te versprei. (Foto: Senwes.)

Die landbou-onderneming Senwes het reeds meer as 139 907 mense met sy AVC Food Umbrella-projek gevoed.

Die projek se skenkings verteenwoordig meer as 314 ton witmielies wat verwerk is tot 12 537 sakke mieliemeel, wat elkeen 5 kg weeg.

“Senwes het juis vroeër vanjaar hierdie projek op die been gebring om hongersnoodverligting met voedselhulp aan gemeenskappe landwyd te bied omdat die Covid-19-pandemie ook sy tol eis met toenemende werkloosheid en hongersnood,” sê Francois Strydom, die Senwes-groep se uitvoerende beampte.

Gemeenskappe binne die Senwes-verspreidingsnetwerk wat reeds baat vind by die projek, sluit onder meer in: Allanridge, Henneman, Odendaalsrus, Klerksdorp, Kroonstad, Heilbron, Koppies, Vredefort, Parys, Virgina, Ventersburg, Welkom en Wesselsbron. Skenkings is ook gemaak aan voedselprogramme in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Meer oor die projek

“Die projek verteenwoordig ʼn dinamiese samewerkingsooreenkoms tussen verskeie belanghebbendes binne die landbouwaardeketting en die doel is om voedselsekerheid te midde van die pandemie te verseker.

“Senwes hoop om deur hierdie projek en die samewerking van boere, landbou-ondernemings, vervoermaatskappye, verwerkers en verspreidingsentrums ʼn verskil te maak in kwesbare gemeenskappe,” sê Strydom.

Hy verduidelik dat produsente in gemeenskappe wat by dié inisiatief kan baat vind ʼn paar ton van hul mielie-oes vrywillig skenk, wat deur Senwes-silo’s ontvang en geberg word. Van hier af vervoer en versprei Senwes se logistieke filiaal, Grainovation, die mielies vanaf die silo’s na meulenaars waar verwerking en verpakking plaasvind.

Deur die projek is daar reeds meer as 314 ton witmielies verwerk en is 12 537 sakke mieliemeel geskenk. (Foto: Senwes.)

Senwes het die projek afgeskop deur self ʼn skenking van 14 000 pakke mieliemeel te maak.

Volgens Francois is dit verblydend om te sien hoe die landbougemeenskap hande vat om ʼn verskil te maak. “Die landbouwaardeketting is die hartklop van voedselsekerheid in Suid-Afrika en deur dié projek poog ons om ʼn verskil te maak in die meer as 400 gemeenskappe wat ons bedien.”

Raak betrokke

Boere wat mielies vir dié inisiatief wil skenk, moet die afleweringsnommer 418 688 as verwysing gebruik. ʼn Uitdaging word ook aan ander landboudienste en korporatiewe organisasies gerig om tot die projek by te dra.

Besoek Senwes se webwerf om te sien watter ander skenkings gemaak kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannes ·

Waar doen blanke individue aansoek vir hulp of is dit net vir voorheen benadeelde burgers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.