Sepiester help klein dorp se kunstenaars om hul stories te vertel

Maude Sandham. (Foto: verskaf)

Die vurige rooikop Maude Sandham het sepie-aanhangers se harte gewen toe sy in die skoene van Gaby, ’n borrelende verpleegster in Binnelanders, geklim het.

Alhoewel sy in murg en been ’n Johannesburgse stadsjapie is, dink sy aan Groot-Marico as haar tuisdorp.

“My ouers is daar getroud, en ek en my sussie het vele naweke en skoolvakansies daar deurgebring,” sê Sandham.

Dit is juis hier waar die Groot-Marico-projek, wat die vertel van unieke stories en die maak van kortprente insluit, sy oorsprong gehad het.

Sandham se ouers is jare lank al by die Bosman-fees, waar die skryfwerk van die Suid-Afrikaanse skrywer Herman Charles Bosman gevier word, betrokke en dit is ook hoe Sandham nouer by die gemeenskap betrokke geraak.

“Ek het in 2019 die idee gehad om ʼn teaterstuk te skep vir die fees met die werk van Bosman en die skrywer Niq Mhlongo. Ek en ʼn groep kunstenaars uit Johannesburg het saam met jeugdiges in Groot-Marico ʼn splinternuwe werk in een week gemaak en opgevoer. Dit was ʼn reusesukses, en ons wou net meer doen.”

Die groep kunstenaars staan nou bekend as ArtSpark, en is saam met Drama For Change aan die stuur van die Groot- Marico-projek.

Die span beoog om jong mense in Groot-Marico en die informele nedersetting Reboile toe te rus met kennis oor rolprenttegnieke, kamerawerk, klank, en beligting. Hulle beoog om vier kortprente oor die periode van vyf maande te skiet.

Dié rolprente sal in November in Groot-Marico, Pretoria en Johannesburg gewys word. Dit sal ook by internasionale feeste en kompetisies ingeskryf word.

Die eerste kortprent is reeds in Junie gemaak en bring hulde aan Groot-Marico se skoonheid en die omgewing se mense.

“Dit was hartroerend om te sien hoe hard die deelnemers werk, hoe passievol hulle is, en hoe gedrewe hulle is om die storie van hulle dorp te vertel. Ons het so baie gelag en rondgehardloop om seker te maak ons al die shots vir die fliek kry.”

Die volgende kortprente word in Julie, Augustus en September geskiet.

“Die spesifieke groep jong mense tree gereeld op in opvoedkundige vertonings, maar kry swaar omdat daar nie veel werksgeleenthede in Groot-Marico is nie. Die plattelandse dorpies word swaar getref. Armoede is wydverspreid, baie mense trek stede toe en hoop is min.”

ArtSpark samel geld in om seker te maak die projek groei en dat alle uitgawes gedek word. Die 14 professionele kunstenaars werk as vrywilligers en het ’n diepgewortelde liefde vir die vertel van stories en om kunste in Suid-Afrika te bevorder.

Alle die geld word gebruik om toerusting aan te koop of te huur, kospakkies aan die deelnemers te voorsien en om produksiekostes te dek.

“Ons nooi sakeondernemings en individue uit om ’n klein bietjie te gee. Dit kan ’n skenking wees vir ons tombola (raffle), dit kan toerusting wees (oud of nuut), of ’n geldelike bydrae op ons skarebefondsingbladsy. So min as R50 kan ’n verskil maak.”

Alle ondernemings wat ’n bydrae lewer sal na die afloop van die rolprent erkenning kry en op sosiale media bedank word.

“Daar is ’n aanhaling deur Margret Mead wat lui: ‘Moet nooit twyfel dat ʼn klein groepie toegewyde mense die wêreld kan verander nie. Trouens, dit is die enigste ding wat ooit het.’ En dit is hoe ek oor hierdie projek voel en ek glo ons kan regtig ’n groot verskil maak in die jong mense se lewens. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.