Serebraal gestremde student deel storie van hoop

Rico Welthagen, Akademia-alumnus, inspireer ander daagliks met sy suksesstorie. (Foto: Verskaf)

Om klas te draf en ʼn graadkwalifikasie suksesvol te voltooi – dit alles terwyl jy nog nooit kon loop of skryf nie – is beslis ʼn bewys van ambisie en dryfkrag om drome te verwesenlik.

Rico Welthagen is gebore met serebrale gestremdheid, maar dit het hom nog nooit daarvan weerhou om sy drome uit te leef nie. Welthagen het in 2016 sy studiereis by Akademia as student in BCom Ondernemingsbestuur afgeskop, en dit aan die einde van 2019 voltooi.

Vandag inspireer dié oudstudent van Akademia talle om hom met sy storie van aanhou, uithou en wen.

Hy wou nog altyd graag in Afrikaans studeer en daarom was dit vir hom ʼn maklike keuse om by Akademia in te skryf. Die instelling gebruik gevorderde tegnologie om studente en dosente wat in die Centurion-ateljee gesetel is met mekaar te verbind.

Welthagen het buitemuurs by die Pretoria Moot-studiesentrum aangesluit en al was hy aanvanklik skrikkerig om aan die klasse deel te neem het hy tog aan die einde van sy studie aan klasgesprekke deelgeneem en dosente se vrae beantwoord.

Hy vertel dat sy studiereis nie altyd so eenvoudig was nie. “Ek kon wel assesserings tik, maar dit het veel langer gevat om te voltooi. Veral eksamens en toetse was vir my ʼn reuse-uitdaging.”

As ambisieuse jong man het dit hom egter nie ondergekry nie, en het hy bly fokus op die einddoel – om sy graad te voltooi.

Welthagen het mettertyd vir Akademia om hulp gevra, waarna die instelling hom met mondelingse eksamens tegemoet gekom het.

Sy sukses is ook te danke aan sy ouers en broer wat hom tydens sy studies ondersteun het.

“My ma en pa het beurte gemaak om my by klasse af te laai, en daar was ook tye waar die tikwerk aan my take vir my te veel geraak het oor die stadige spoed waarteen ek tik, en toe moes my ma partykeer inspring en help tik terwyl ek haar voorgesê het.

“Om te leer was ook nie so eenvoudig nie. Ek weet al van skooldae af dat ek en opsommings nie maatjies is nie, want dit vat my omtrent ʼn halwe dag of langer om ʼn bladsy of twee te tik.”

Hy noem dat dit vir hom ʼn voorreg was om aan Akademia te studeer, veral gegewe die ondersteuning wat hy ontvang het.

“Dit het vir my soveel beteken om in my moedertaal te kon studeer, en is ek ook dankbaar vir die dosente en medestudente wat ek gedurende my studies kon ontmoet.”

Sy raad aan voornemende studente wat ook uitdagings ervaar is om altyd deur te druk met hul studies al raak dit soms moeilik.

Welthagen se groot droom is om sy eie sakeonderneming te begin, spesifiek in ʼn sportrigting aangesien sport nog altyd ʼn passie is wat hy najaag. Tans is hy op soek na werk wat sy spesifieke omstandighede verstaan en waar hy ʼn waardevolle bydrae kan lewer deur sy vaardighede en goeie uitkyk op die lewe uit te leef.

“Deur by Akademia te studeer het ek geleer dat ek as gestremde persoon ook soos ander ʼn graad kan kry deur hard te werk ongeag my omstandighede. Ek het al hierdie uitdagings oorkom danksy Akademia wat baie tegemoetkomend teenoor my was. Dankie aan me. Elize-Mari Coetzer en al my dosente, sonder julle sou ek nie vandag my kwalifikasie gehad het nie”, het Welthagen met trots gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Droom groot, gáán groot, boet! Alle sukses en voorspoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.