Seun (9) red paramedikus se lewe twee keer

Corné Kruger (9) Foto: Facebook

Corné Kruger (9) Foto: Facebook

“Dit was ʼn splitsekonde, dalk selfs minder – Phulani het verstik en het sy keel met albei hande vasgegryp omdat hy nie kon asem kry nie. Corné kon die angs op sy gesig sien en hy het sy instink gevolg: twee harde houe op sy rug was genoeg om sy lugweg weer oop te kry.”

Toe gebeur dit vir ʼn tweede keer en Corné Kruger (9) slaan toe wéér vir Phulani (23), die paramedikus, kliphard op die rug.

Kruger, ʼn skoolkind van KwaZulu-Natal, maak wyd opslae op sosiale media, nadat hy onlangs ʼn paramedikus se lewe twee keer in die bestek van minder as ʼn uur gered het.

Joe Kruger, Corné se pa, het aan Maroela Media vertel sy seun is gereeld saam met hom by sy private ambulansdiens.

“Hy is so baie daar, dat hy al pelle met die paramedici gemaak het,” vertel hy.

Corné was op dié dag ook doenig daar toe hy Phulani ʼn lietsjie aangebied het. Phulani was op die telefoon besig en het per ongeluk die pit ingesluk. Hy het paniekbevange geraak toe hy nie asem kon kry nie en het sy keel vasgegryp.

“Corné het hom onmiddellik op die rug geslaan en die pit het losgekom. Dit was nie lank nie, toe gebeur presies dieselfde. Corné het hom weer geslaan en die pit het weer los gekom.”

Volgens Joe het hulle aanvanklik nie die storie geglo toe Corné hy dit aan hom en sy vrou en hul dogter (12), oorvertel het nie. “Kinders maak mos maar groot stories op. Ons het dit maar afgelag. Dit is eers later, toe Phulani kom vertel het dit het werklik gebeur, dat ons besef het hoe wonderlik dit eintlik is.”

Joe sê albei sy kinders is opgelei om kardiopulmonêre resussitasie uit te voer en kry gereeld saam met die res van die paramedici wat vir die ambulansdiens werk, opleiding. “Hulle is inderwaarheid so goed opgelei, dat my dogter op ʼn bloedjong ouderdom vir my personeel tydens ʼn oefening gesê het hulle doen ʼn sekere taak verkeerd en nie met die regte toerusting nie. Hulle was baie suur toe ek sê sy is reg. Hulle is nie normale kinders nie,” lag hy.

Joe sê albei sy kinders sal waarskynlik in die mediese veld werk wanneer hulle groot is. “My ma, pa, my vrou en ek werk in dié bedryf en die kinders het ook ʼn natuurlike aanvoeling daarvoor. Ons sal hulle egter in enigiets ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Mooi so ·

Jy weet, so kind moet ‘n MEDALJE kry . hy moet ‘n toekenning kry . om op daardie ouderdom al mense se lewens te red, hy moet BESLIS in die toekoms ook in die rigting studeer .. ABSOLUTE aanwins vir ons LAND en sy MENSE!!

Ada ·

Pragtig!!!!!!!!
Hy mot ‘n medalje kry – ek stem saam!!!!!!!!!!!

REGVERDIG ·

Pragtig groot seun….baie goed gedoen.
Ek is baie trots op jou.

Theresa ·

Corné, jy is ‘n held! Jy kan maar weet geen mens wat hierdie berig lees, doen dit sonder ‘n groot glimlag nie. Ek hoop van harte jy bly so ‘n oulike knap.

Adoons ·

Nou sommer twee keer binne die bestek van ‘n uur! Kom die man dan nie agter die lietsjiepitte is groot, glibberig en hoogs gevaarlik nie!

Kittie ·

Baie baie geluk, die kind moet ‘n medalje kry… Nou dat ek daaraan dink, hoekom leer die paramedikus nie kinders by skole nie? Wie weet, so help mense mekaar dan. Net ‘n voorstel.

Joe ·

Ek is baie trots op hom. Ek is tans besig om n kursus op te stel wat hulle net basiese stappe leer en ons het die skole benader. Ouers moet net verstaan dat n klein bedraggie vir opleiding kan n lewe red. Ek wens meer wil so dink.

Johanna ·

AWESOME! Trots op jou seun. jy is die sout van die Aarde! Geseend is jy.

Karma ·

Ek was 9 toe my pa, op 43 jarige ouderdom sy eerste massiewe koronêre aanval kry. Danksy noodhulp-opleiding gedurende “Gesondheidsleer” desjare op skool het ek geweet sy hart het gaan staan toe hy blou raak om die mond. Ek was so tingerig dat ek met my een knie op sy bors gaan kniel het – my armpies was te dun en swak om hard genoeg afwaarts te druk. En so het sy hart weer aan die gang gekom tot ons buurseun met hom hospitaal toe kon jaag. Dit sal vir almal tot voordeel wees as ons almal ‘n mate van noodhulp leer ken. Bravo, aan hierdie jong seun met wat hy gedoen het.

Hendrika O'Neill ·

Met tong in die kies MOENIE weer litchie eet nie. Goed gedoen pa met wat jy jou kinders leer dis awsome.

cor ·

Hendrika ek stem en as kind het ons geleer moet nie met jou mond vol kos praat nie. So ek hoop Pulani het iets geleer uit die situasie deur ‘n foon te los as jy eet . Boeta jy is almal se hero doen so voort.

Corli Kruger ·

Baie dankie julle. Ons is regtig baie trots op ons twee kinders! Toe my dogter 9 was het sy vir die eerste keer CPR gedoen op ń ou oom! Dankie vir die mooi kommentaar!

alet ·

Baie trots op die seun. Jy sal eendag n goeie dokter of parmedikus wees eendag. Ons land kort baie sulke kinders om n medemens te help

Trots ·

Wens daar kan meer sulke stories wees! Aan die seun se ma en pa! Jul kan opreg trots wees!!! Welgedaan seun!!!

Petro ·

Lekker om vir n slag n positiewe storie uit SA te lees! Pragtig Corné! Jy is n bulletjie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.