Seun kan hond saamneem danksy publiek se bydrae

Ethan en Leo (Foto: Verskaf)

Binne ʼn kwessie van twee uur nadat Maroela Media Dinsdagoggend berig het oor ʼn 14-jarige seun van Krugersdorp se fondsinsamelingsplanne om sy geliefde hondekind saam te laat emigreer Nieu-Seeland toe, is daar genoeg geld ingesamel om dié droom te bewaarheid.

Ethan Martins en sy woef, Leo, sal vanaand met geruste harte kan slaap noudat hulle weet hulle sal saam hul nuwe lewe in Auckland kan begin.

Vanoggend teen 11:30 het Adriaan Martins, Ethan se pa, aan Maroela Media gesê dat hulle nog net die helfte van die R40 000 ingesamel het wat hulle nodig het om Leo saam te kan neem.

Enkele ure later was die volledige bedrag ingesamel. “Ons is stomgeslaan. Ons is vandag so dankbaar, vir elke liewe persoon wat ʼn bydrae gelewer het, elke liefdadige bystand en die positiewe boodskappe,” sê Adriaan.

Hy sê hy en sy vrou is sprakeloos oor soveel mense se goedhartigheid wat gehelp het om hul seun se droom ʼn werklikheid te maak. “Daar is ʼn Latynse spreekwoord ‘Soli deo Gloria’ wat beteken ‘Aan God alleen die eer”. Ek het nie gedink ons gaan dit maak nie, maar nou ja, toe is dit so!” sê hy.

Hy het sê dat hulle nou Ethan en Leo se verhaal op Facebook wil dokumenteer.

Maroela Media het vroeër berig dat Ethan dadelik sy entrepreneursvaardighede ingespan het om die nodige geld te probeer insamel om Leo, ’n Jack Russel-kruising, saam te neem wanneer die gesin Suid-Afrika einde Julie verlaat.

Adriaan het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy sal binnekort na Auckland vertrek om sy nuwe werk daar te begin. Die besluit om te emigreer was egter bittersoet vir die gesin, aangesien dit hulle ’n enorme bedrag van ongeveer R40 000 sal kos om vir Leo saam te trek.

Die gedagte om Leo agter te laat was vir Ethan ondenkbaar omdat Leo in ’n kort tydjie sy beste vriend geword het.

Ethan het as doelgerigte jong entrepreneur planne beraam deur sy pa oor naweke by sy heuningstalletjie op vlooimarkte uit te help en ook deur veeldoelige wasgoedpennetjies uit herwinbare materiaal te verkoop.

Op hulle beurt het Ethan se ouers ʼn skarefinansieringsinisiatief op die Go get funding-webtuiste gestig waar die publiek kan help met finansiële bydraes.

Ná die plasing van Maroela Media se vorige berig het die skenkings van die publiek begin instroom. Die bedrag staan tans op R40 300.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Linda Niemandt ·

Ek so bly vir die seun se part… mens se hond bly jou beste vriend. Ek het my dogter ook op gogetFunding maar was nog nie so geseën.

Baie sterkte met julle immigrasie mag dit goed gaan.

mc ·

Aaaaaaaaaaaaaaaaaa poenas, ek is so bly, daai diere gesiggie spreek boekdele hoor. Ek dink Adriaan is in die wolke om sy diereboeta te kan saamneem. Wat ‘n groot avontuur wag daar nie op die twee nie.

Mieliestronk ·

En baie dankie aan die persoon van Maroela Media wat die storie geplaas het.Jy het n seun en sy hondjie se harte baie bly gemaak. Dankie

JohanL ·

Baie baie dankie aan almal wat bygedra het om die seun se droom te laat waar word. Natuurlik bly vir die seun en sy hond se part, maar baie meer dankbaar teenoor een en elke persoon wat bygedra het. Weer dankie aan julle almal.

Zelda pienaar ·

So bly vir julle. Hy is dan deel van die huis gesin. Mag hy julle baie vreugde gee by sy nuwe tuiste en dat jy ook baie liefde vir hom sal gee. Trots op jou seun.

honourable member ·

Ag dis so mooi storie hiedie. So bly die woef kan saamgaan. Dis wonderlik.

Hannetjie Langhout ·

Het nie kommentaar nie maar vra hulp ek soek finansiële hulp vir my dogter.

Johan ·

Dit is n skreiende skande dat mense soveel geld gee vir n HOND! Weet julle hoeveel arm mense sonder kos moet leef? Moenie probeer om my te antwoord nie . Ek sal nie weer terugkom na die berig nie.

Wilma Josey ·

Baie dankie aan een en elkeen wat hier bygedra het!. Ethan, julle tweetjies gaan lekker speel in die vreemde… hou ons op hoogte hoe dit met julle tweetjies gaan asb?

Anita ·

Het nooit geweet dit Kos so baie om n dier te laat immigreer nie. Siestog nou verstaan ek baie mense wat dit doen se hartseer en die rede hoekon hul ander tuiste moet soek vir hul 4 pote siestog

Sara ·

Ag ek huil van blydskap saam met jul gesin. Kan ons vra dat julle ‘n Instagram blad oopmaak met kiekies? Dis baie genotvol om so deel te wees van ‘n gelukkige einde en als daarna. Kan julle dan ook met jul entrepeneurskap woeker en uitvind van ander mense wat in dieselfde bootjie is en hulle stories ook deel sodat volledige families kan emmigreer indien nodig?

Jongman, geniet elke oomblik saam met jou maatjie. Ek hoop die kwarentyntydperk in jul nuwe land vlieg sommer gou verby dat julle weer kan rondhardloop en als kan saamdoen.

Misousa ·

Dis mooi.
Dis goed.
Hoop die publiek het ook genoeg geld gesken aan die oom in Steve Biko Hospitaal wat sy bene verloor het!
Wonderlik hoe mense speing vir dier..(en dit is goed…), maar huiwer om mense te help.
En MM sal ook nie terugkom en vertel hoe dit met die oom gaan…
Maar ons is heel bly die hond is okay.
Laat my dink aan 30 jaar terug toe Nicole Hohowski ‘n klein ou dogtertjie, se ouers geld ingesamel het vir ‘n lewr oorplantig, en sy dood is voor hulle genieg geldjies bymekaar kon kry.
Dieselfde tyd het Onderstepoort duisende rande ontvang vir ‘n leeu wat ‘n operasie benodig het.
Prioriteite????
Prioriteite!!?

Mellie ·

Misousa ek verskil ongelukkig van jou siening. Ons is n klein groepie vriende wat n onoffissiële diere-hulp groep op whatsapp het. Bykans elke week kry ons versoeke om diere te ‘re-home’ weens eienaars wat emigreer, onder andere. Dis n nagmerrie. Ons spring rond vir foster-huise, kos, noem dit en als kos geld. Vra jy Jan Alleman moet jy hoor hoeveel geld hy/sy reeds aan diè of daai kinderwelsynsorganisasie geskenk het. Ieder geval: ETHAN, hierdie tannie se hart klop saam met joune tjoklits!! Wens meer mense kon bydra tot dierewelsyn – hulle is immers deur God aan ons sorg toevertrou.

Amanda ·

Misousa, mense het ‘n stem en diere nie. Daar niks so wreed soos die mens nie.

Hanna ·

Ag nee kom nou, dit was 30 jaar terug. Baie bly die hondjie kan saam, geweet daar gaan weer n paar wees wat gaan kommentaar lewer.

Petra ·

Hkm moet jy geld gee as mense sa verlaat?? Ek sal ma eerder geld vi my buurvrou gee. Sy het dit nodiger!!

kolla ·

Jammer om te sê maar daar is mense wat die geld nodiger het. Ons moet ons prioriteite regkry.

Belaglik ·

Nee man dis nou belaglik. As jul kan emigreer kan jul sekerlik vir jul eie hond betaal. Daar is mense wat die geld baie meer nodig het. Ek sou myself dood skaam om te staan en bedel vir so ‘n verspotte doel.

Ronel ·

Jy het heel duidelik nie kinders nie en nog minder troeteldiere. Of staan joune vasgemaak aan ‘n ketting erens in ‘n hoek van jou erf en wag vir ‘n gelukkie van die tafel af

Leoni ·

Dis nou werklik goeie nuus! ‘n Lekker goedvoel-storie vir ‘n verandering.

DA BO ·

Julle moet dadelik die hondjie by n beampte kry wat sal help met die nodige dokumentasie en die kursus inspuitings en veearts besoeke om die diertjie in New Zeeland te kry. Daai land vat nie sommer n dier in nie. My kind moes elke maand op spesifieke datums gaan vir die nodige inspuitings en dinge. En dit moes goedgekeurde veearts wees deur daai land . En die kwarentein anderkant was net so duur gewees. En pappa moet maar nou al begin soek vir n pet friendly huis. Daar mag mens nie net in enige huis intrek wat nie pet friendly is nie. Salig om in land te gaan woon waar alles mooi werk en daai seun gaan nie kan glo die vryheid wat hy gaan beleef in n wonderlike veilige land waar alles om kinders en gesin draai. Ek huil elke dag vir my kinders maar as ek sien hoe blom daai kind juig ek.

Misousa ·

Melie,
Nege jaar terug, was daar ‘n seun wat onder ‘n brug gebly het, met sy hondjie.
Daar was oor die seshonderd Pretorianers wat die hond..(Boston Terrier), wou aanneem binne die eerste twee dae dat dit bekend geword het.
KBV het twee weke na pleegouers vir die kind gesoek.
(..verstaan mooi, ek is ook ‘n honde mamma…),
En weet hoe hulle in ons harte kruip, maar soms dink ek mense gaan oorboord en vergeet ons medemens te maklik.
Ons oumense is my passie!
Hulle het ons nodig en so veel mense sal eerder na honde as na hulle omsien.
PRIOTITEITE!!!!

Stel ·

Ag regtig, elke mens is geregtig op sy opinie. Dit is bietjie onopgevoed om mekaar daaroor aan te vat.

Janine Botha ·

My honde is my kinders. Ek sal ‘n bank beroof om hulle saam my te vat. Well done Ethan. In my oë en in Leo se oë is jy ‘n SUPERHERO. Baie sterkte vir julle oorsee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.