Seun vat ouma na matriekafskeid

Waldouw Smit en sy ouma kom by die matriekafskeid aan (Foro: Verskaf)

Waldouw Smit (18) het die koppe behoorlik laat draai toe hy verlede maand sy ouma as metgesel na sy matriekafskeid geneem het.

Smit, wat by Potchefstroom Gimnasium skoolgaan, wou graag sy ouma Yvonne (80) as matriekafskeidmetgesel hê, om op só ʼn manier vir haar dankie te sê vir alles wat sy al vir hom gedoen het.

“Ek het al verlede jaar begin wonder wie ek na die matriekafskeid toe gaan nooi, en toe besluit ek sommer dat ek my ouma wil saamvat. Sy het al so baie vir my gedoen, so toe vra ek haar,” het Smit aan Maroela Media gesê.

“Sy wou eers nie saam met my gaan nie. Sy het gesê daar is baie ander meisies vir wie ek kan vra, maar ek het vir haar gesê ek is ernstig daaroor dat ek wil hê sy moet saam met my gaan.”

Hoewel ouma Yvonne eers huiwerig was, het sy nader aan die matriekafskeid baie opgewonde geraak.

“Sy het so twee weke voor die matriekafskeid oor alles begin uitvra. Sy wou alles weet en was baie opgewonde.

“Sy het haar hare al die dag voor die matriekafskeid laat versorg en die oggend van die matriekafskeid het sy haar grimering laat doen. Die rok wat sy aangetrek het, het sy by iemand geleen,” het Smit gesê.

Smit en sy ouma het met ʼn 1970 Mazda De Lux wat al vir vier geslagte in die familie is na die matriekafskeid gery. Die kar se nommerplaat het met die woorde “Ouma en Kleinseun” gepryk.

Toe hulle by die matriekafskeid opdaag, het die skare hulle staande toegejuig.

“Ek het nogal gewonder hoe mense gaan reageer, maar sjoe, toe ons daar uitklim, het mense geskree. Hulle het baie daarvan gehou en omtrent tekere gegaan.”

Smit sê hy en sy ouma het dit baie geniet, maar dat sy te oud is om so laat soos die res van die matrieks uit te bly.

“Sy gaan slaap gewoonlik 20:00, en die matriekafskeid het tot 23:00 aangehou, so ek het haar maar vroeër huis toe gevat sodat sy in die bed kon kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

ECT ·

Aggenee, Maroela!!!! Die foto’s is dan net een groot BLUR!!!!!!!!!!!!!!!

Sune van Heerden ·

Dagsê ECT

Ons het ‘n verstelling gemaak, die foto’s behoort nou reg te vertoon.
Jammer vir die ongerief!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Elke van Rensburg ·

Hierdie is nie ‘n man in wording nie. Hy is rééds’ n ware man en heer daarby.

Audrey Pienaar ·

Well done!!!! Die trane het sommer geloop terwyl ek die berig gelees het. Julle het stunning gelyk!!

broos ·

wat ‘n mooi gebaar! bly om te sien daar is nog goeie jong mans, julle maak ons sommer trots!

Theresa ·

WOW! Waldouw – jou ouma en jy het albei pragtig gelyk! Die motortjie is te dierbaar!! Jy het ‘n besondere gebaar gebruik om jou oums te bedank vir al die mooi wat sy in jou lewe gebring het. Hoop die aand was heerlik.

Stormrider ·

Awesome. Jy gee my ‘n knop in die keel boeta! Jou boerehart is groot.

Oulik ·

Dit is vrek oulik. Baie geluk. Dit vat baie guts, en jy het dit. Dankie ouma, hoop die partytjie was sommer baie lekker.

Afrikaanse Knaap ·

Meeste van ons wat al ons ouma’s en oupas verloor het, sal wat wil gee om so aand saam met hulle te spandeer.
Ek haal my hoed af vir hierdie seun.

MERAAI ·

WOW!! WOW!!!! Ouma en klein seun julle was die mooiste paartjie vir die aand!!! pragtig!!!

Geesie ·

Hoe kostelik is dit nou!!! Pragtig seun jy verdien n groot applous?

Rita Labuschagne ·

Pragtig! Hoop my geliefde kleinseun vra my ook na sy matriekafskeid!

Boere meisie ·

Dit is die wonderlikste gebaar, Waldouw, jy is verseker enige ouma se droom kleinseun en ‘n ware heer. Ek is trots op jou, jongman. Baie geluk en ek sekondeer, jy en ouma was voorwaar die mooiste paartjie by jul Matriek Afskeid. ♡♡

Uvonka ·

Ouma, voorwaar ‘n kleinseun op wie U super trots kan wees! Welgedaan Waldouw, jy is ‘n kleinseun duisend! Julle het super elegant gelyk!

Amanda Owen ·

Dit het nou my hart geroer – kosbare gebaar wat vir hom & haar lewenslank sal by bly – ouma het sommer pragtig gelyk! Geluk aan ouma & ouers wat hom so mooi groot gemaak het – ons land het meer van jou soort nodig Waldouw.

SêNet71 ·

Welgedaan Waldouw. Jy gee ons hoop vir ons jeug. Ek kry sommer so ‘n lekker warm gevoel in die hart. Dink egter daar was ‘n paar baie ongelukkige matriekmeisies wat ‘n fortuin op hulle uitrustings bestee het met die hoop om dié aand die middelpunt van belangstelling te wees en hier kom jy en steel die “show” met jou mooi gebaar.

Sintiche ·

So jonk en soveel insig. Jy gaan dit nog ver bring. Mag dit met jou baie goed gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.