Seun wat in skoolbadkamer slaap kry weer hoop

Willem de Villiers* word soggens vroeg wakker op die koue, harde badkamervloer.

Hy trek sy skoolklere aan en glip uit voor die ander leerders begin opdaag. Dít was totdat hy een oggend nie betyds wakker geword het nie en die skool se sekuriteitswag hom in die badkamer aangetref het.

Willem het geweet hy is nou diep in die moeilikheid.

ʼn Week gelede het hy by die huis weggeloop omdat sy gesin nie wou hê dat hy skool toe moes gaan nie.

“Jy is nou oud genoeg om te help om die gesin te ondersteun,” het sy ma gesê. “Dis tyd dat jy begin geld verdien.” Sy het sover gegaan as om te dreig om sy skoolboeke en -klere te verbrand.

Dis tóé dat Willem weggeloop het en in die skool se badkamers begin bly het.

Die skool se berader is ingeroep om vir Willem te help. Die berader het die naaste Helpende Hand-tak in die Limpopo-streek gekontak. Die tak het dadelik aan ʼn plan begin werk.

Willem is in die skool se koshuis geplaas en sy onkoste is deur die tak gedek. Helpende Hand het verder ook gesorg vir klere, sakgeld, beddegoed en toiletware wat die seun nodig gehad het om sy lewe in die koshuis te vergemaklik.

Willem het egter sy familie gemis en moes oor naweke alleen in die koshuis agterbly omdat hy nie huis toe kon gaan nie. Die tak het gereël dat Willem drie naweke per maand by ʼn gesin op die dorp tuisgaan en een naweek huis toe gaan om sy familie te sien.

Marianthie van der Walt, Limpopo se streekorganiseerder, het gesê Willem se ma is steeds nie heeltemal gelukkig met die situasie nie. “Maar sy is dankbaar dat sy nou weet haar seun is veilig.”

“Dit was sy grootste droom om sy skoolloopbaan te voltooi. Hy het ʼn bietjie agter geraak met sy skoolwerk, so ons het ekstraklasse gereël om sy punte te probeer verbeter. Hy doen nou elke dag beter en gaan werklik van krag tot krag.

“Hierdie seun het soveel gehad wat teen hom getel het. Met geen ondersteuning van sy ma nie het hy die belangrikheid van opvoeding besef. Hy wou só graag uitstyg en nie ʼn slagoffer van sy omstandighede word nie. Hy het nie opgegee nie en selfs sonder hulp het hy self probeer om met sy skoolloopbaan voort te gaan,” het Van der Walt gesê.

“Dis ʼn eer om so ʼn kind te ondersteun en hom te help om die armoedesiklus te verbreek.”

*ʼn Skuilnaam is gebruik om die identiteit van die leerder te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Arsène Lupin ·

Regtig tragies, en haal ek my hoed af vir die kind watnie net die maklike uitweg gevat hetnie. Alle sterkte Willem. Dankie Helpende Hand – seker daar is baie gevalle wat ons nie van weet nie.

nc ·

Reg op opvoeding is deel van menseregte. Die feit dat sy ma dit nie wou toelaat nie is ‘n skending van sy mensereg. Ek weet nie wat hul situasie is nie, maar ‘n ouer moet tog die belangrikheid van opvoeding besef. Ek is seker sy ma sou iewers vandaag hulp gekry het as sy net gevra het. Geen ouer behoort op hul kinders staat te maak vir ‘n inkomste nie. Respek vir die seun wat besluit het om deur te druk.

MissDemeanor ·

Hierdie maak my so hartseer. Sy ouers mag nie hom so ontneem van sy regte nie. Hulle is seker ook maar in desperate situasie. Ek hoop dat Willem klaar studeer en dat hy sy volle potensiaal bereik. Ek is bly iemand kon hom help. Sterkte Willem. Ek is trots op jou.

A ·

Sterkte aan die Seun. As daar meer kinders is wat bereid is om op te offer om te leer sal dinge net beter gaan. As gevolg van sulke goeie dade van Helpende Hand gee ek graag ‘n bydrae elke maand. Dankie dat julle nie teleurstel nie.

chrisjan ·

In die debat tussen Kallie Kriel en Rooimaks is daar gese dat blankes in die NSA finansieel nog goed vaar en daarom stil, onderdanig en dankbaar moet wees. Die waarheid is egter dat derduisende Afrikaners ekonomies baue swaar kry. Daar is baie kinders soos Willem. Ek dank die hemelse Vader dat hy geholpe geraak het. Maar wat van die duisende wat nooit die geleentheid gaan kry nie? Dit is n saak van groot bekommernis.

JS ·

Wat ‘n uitsonderlike inspirerende verhaal is dit nie! Dis kon soveel makliker vir *Willem” gewees het om op die straathoeke te bedel! Wel gedaan Helpende Hand – julle het iemand gehelp wat dit nodig het maar nie as hulle reg beskou nie.

Die klein snip ·

‘n Baie mooi storie! Ek wens die seun alle voorspoed toe. Dit is goed om te hoor party wil nog hulleself verbeter. En welgedaan Helpende Hand

Marisa ·

Is hierdie ‘n oorspronklike verhaal? Ek het vantevore oor so ‘n situasie gelees – baie lank gelede.

Natasha ·

Seun, mense soos jy gaan nog ver kom. Moet nooit dat ander jou pad toemaak nie

bgj van der westhuizen ·

hy moet gehelp word wand hy wil leer en dit is tyd dat ons begin kyk na ons mense eertste voor ons die ander kleur altyd help daar is baie onder ons mense wat hulp nodig het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.