Seuntjie hoor vir die eerste keer sy mamma se stem

Grayson Marais, saam sy ouers en die mediese span. (Foto: Verskaf)

ʼn Baba van Port Elizabeth kon verlede week vir die eerste keer in sy jong lewe sy ma se stem hoor, danksy ʼn kogleêre-inplantingsprosedure wat deur ʼn span dokters in die Vriendelike Stad uitgevoer is.

Die dapper 18 maande oue Grayson Marais het ʼn pro bono-operasie ondergaan in die Netcare Greenacres-hospitaal, die Netcare-stigting en die Port Elizabethse provinsiale hospitaal.

ʼn Span spesialiste, gelei deur die oor-, neus-en-keelspesialis dr. Ian Butler, het saamgespan om te verseker dat die klein rakker vir die eerste keer die klankwêreld kan beleef. Dr. Chris Ngaka was die narkotiseur aan diens.

ʼn Klein sny, ongeveer 5 cm lank, is agter die oor gemaak om die interne toestel te plaas. Dit is onder algemene narkose gedoen en die funksionaliteit en neurale reaksie op stimulasie word bevestig voordat die pasiënt wakker word.

“Die inplantingsprosedure van Grayson is suksesvol afgehandel, en hy het goed gevaar toe ons sy verbande en steke verwyder het tydens ons eerste opvolgkonsultasie,” sê Butler.

“Ons hoop dat hy met die nodige spraak-en-luisterterapie sal voortgaan om sy gehoor en spraak verder te bevorder. Ek en my kollegas was opgewonde dat ons hierdie pragtige seuntjie wat altyd ʼn groot glimlag op sy gesig het, kon bystaan. ”

Grayson Marais saam met sy ma, Antoinette en dr. Iain Butler.

Antoinette Marais, Grayson se ma, sê dat hulle dankbaar is vir die “wonderlike geskenk” wat haar seun ontvang het. Sy het die span dokters en die Netcare-stigting en Netcare Greenacres-hospitaal bedank vir hierdie besonderse skenking en vir die betaling van al die teater- en ander hospitaalkoste verbonde aan Grayson se prosedure.

Die Port Elizabeth- provinsiale hospitaal, waar Grayson se kogleêre apparaat verlede week vir die eerste keer aangeskakel is, het vir die kogleêre apparaat betaal.

Grayson se gehoorprobleem is al vroeg opgemerk. Hy gebore met ʼn ernstige gehoorgestremdheid, wat beteken het dat gewone gehoorapparate nie ʼn oplossing vir sy toestand sou wees nie.

“Die vroeë inplanting van ʼn kogleêre apparaat is belangrik vir kinders soos Grayson, want dit stel hulle in staat om so vroeg moontlik vertroud te raak met klank en om hul spraak- en kommunikasievaardighede van kleins af te ontwikkel. Dit toon ook die belang van die vroeë opsporing van gehoorprobleme by pasgeborenes,” sê Butler.

Butler verduidelik dat die eksterne “mikrofoon”-deel van die kogleêre toestel seine van die omgewing optel, wat die inplantaat dan direk na die gehoorsenuwee in die oor en na die brein stuur, wat die sein as klank herken. Op hierdie manier kan die komplekse kogleêre inplantingstegnologie die beskadigde dele van die oor omseil.

“ʼn Kind soos Grayson, wat nog nie voorheen geluide gehoor het nie, kan oorweldig word as die toestel die eerste keer aangeskakel word. Om hierdie rede begin ons ʼn baie lae volume gebruik. Namate die kind meer vertroud raak met nuwe geluide uit die omgewing, word die “volume” oor ʼn paar weke geleidelik harder gestel,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.